Deur Rachel Jonker
Dis mos die klein goedjies in die lewe wat dinge werklik onaangenaam kan maak. Soos wanneer jy met jou naelvelletjies (‘cuticles’) sukkel.
rooi rose het gaan aanklop by Janke Brink, ’n skoonheidsterapeut wat by Isa Carstens Academy studeer het en tans op passassierskepe werk.
Sy gee raad oor hoe om jou naelvelletjies te versorg, hoe jy die instrumente in jou naelsorgstel moet gebruik en verduidelik hoekom dit belangrik is om mooi na jou naelvelletjies te kyk.
Hoe om die naelvelletjies te versorg
Janke gee ’n paar maklike stappe wat jy kan neem:
- Week jou hande vir 5-10 minute in warm water om die naelvelletjies sag te maak sodat jy makliker daarmee kan werk.
- Droog jou hande deeglik met ’n skoon handdoek af.
- Smeer ’n naelvel-olie of ’n naelvelverwyderaar aan die naelvelletjies. Wag ’n minuut of twee vir die olie of verwyderaar om te absorbeer.
- Gebruik ’n instrument om die velletjies versigtig terug te druk. Jy wil nie die vel beskadig nie.
- Gebruik ’n naelvelknipper of -snyer om die los, dooie velletjies te verwyder. Hier moet jy weereens versigtig wees: Jy wil nie in die lewendige, gesonde vel sny nie.
- Smeer weer ’n naelvel-olie of handeroom aan om die vel bevog te hou.
Janke waarsku dat jy nie aan die velletjies moet byt of trek nie, want jy kan van die lewendige vel beskadig.
Sy sê ook jy kan enige naelvel-olie of handeroom gebruik, maar sy verkies Bio Sculpture s’n.
rr wenk: As jou naelvelletjies te lank lyk en begin oplig van die nael af, kan jy dit baie versigtig met ’n gesteriliseerde knipper korter sny. ’n Naeltegnikus kan jou help hiermee omdat hulle presies weet waar om te stop.
Naelsorgstelle en die funksie van elke instrument
Die standaardnaelstelletjie bevat gewoonlik die volgende instrumente, soos in die foto van links na regs:
- ’n Voorbeeld van ’n naelsorgstel. Foto: Takealot/Kellermann 3 Swords Manicure Set
- ’n Haartangetjie (tweezer): Hiermee kan jy ongewenste haartjies verwyder.
- ’n Naelskêr: Jy kan jou naels hiermee knip, maar jy kan ook haartjies hiermee takel.
- ’n Naelknipper: Dis dikwels effens makliker om jou naels hiermee te knip.
- ’n Naelvelsnyer: Dit lyk dikwels soos ’n messie of ’n lemmetjie waarmee jy die dooie velletjies kan afsny.
- ’n Naelvel-instrument: As die velletjies nog lewendig is, maar opsigtelik is, kan jy dit hiermee terugstoot.
- ’n Naelvyl: Hiermee vyl jy jou naels glad of in die vorm wat jy verkies nadat jy jou naels geknip het. Dit het ook dikwels ’n skerp punt waarmee jy vuiligheid onder die nael kan verwyder.
Janke self verkies egter ’n naelvelknipper om die dooie naelvelletjies mee te verwyder.

Janke Brink, ’n skoonheidsterapeut van Stellenbosch, verkies ’n naelvelknipper bo ’n naelvelsnyer omdat dit haar meer beheer gee. Foto: Janke Brink
Hoekom is dit belangrik om naelvelletjies te versorg?
Daar is verskeie redes waarom dit belangrik is om na dié velletjies om te sien:
- Die naelvel vorm die basis van die naels en hou kieme, bakterieë en swamme uit. Om na die naelvel om te sien, voorkom infeksies.
- Die naelvel beskerm die naelwortel teen beserings.
- Gesonde naelvelletjies bevorder gesonde naelgroei.
- Dit voorkom pynlike hangnaels.
- Dit lyk netjies.
Dit maak alles ’n reuseverskil om jou naels en hande gesond en sterk te hou.
Lees ook: Kopkrapvrae

