Verskaf deur kykNET
Ons is nog nie eens halfpad deur die 18de seisoen van die kykNET-maatsoekreeks Boer soek ’n vrou nie, maar die liefdespaaie het reeds ‘n onverwagte paar skerp draaie gemaak en potensiële pasmaats het die ander pad gevat, nie die plaaspad nie.
Van ‘n boer wat buite die reeks liefde vind tot drie onverwagte onttrekkings – hier is die grootste kinkels tot dusver.
1. David vind liefde voordat sy TV-reis begin
Toe Reandi Grey met die briewe en pakkies op David se plaas aankom, het hy ’n onverwagte onthulling gemaak, naamlik dat hy intussen reeds iemand ontmoet het wat sy hart vinniger laat klop.
Die boer van Vierfontein was gevolglik verlig dat hy nie onder die top-5 geëindig het nie. Sy Boer soek ‘n vrou-reis was skaars aan die gang, maar dit blyk toe hy het in elk geval reeds die liefde gevind het waarna hy op soek was.

David & Reandi. Foto: Verskaf
2. Alicia onttrek voordat Francois kan kies
Francois se groepafspraak het met ’n terugslag begin toe Alicia sommer met die intrapslag op die plaas aankondig dat sy nie verder vir die plaaskuier beskikbaar sou wees nie.
Hoewel die deelnemers die skedule vooraf ontvang het, het Alicia gehoop sy sou haar verpligtinge kon bewimpel sodat sy wél vir Francois beter kon leer ken. Dit het egter nie so uitgewerk nie. Sommige van die ander pasmaats was krities oor haar besluit en het gevoel dat deelname aan die reeks werklike toewyding verg.
Vir Francois was dit ’n groot teleurstelling: Hy wou self die drie vroue kies wat hy beter wou leer ken, maar die geleentheid om daardie keuse te maak, is reeds aan die begin van die dag uit sy hande geneem.

Alicia en Francois. Foto: Verskaf
3. Danelle laat val ’n tweede bom
Net toe Francois gedink het die grootste skok is agter die rug, volg ’n tweede onttrekking.
Danelle, wat ná die blitsafsprake ‘n konneksie met hom gevoel het, het teen die einde van die groepafspraak besluit dat daardie vonk intussen verdwyn het. Sy het ook geglo dat Francois nie juis dieselfde belangstelling in haar toon nie.
Die ironie was dat Francois juis vir háár vir die plaaskuier gekies het. Hy het dit duidelik gemaak dat hy haar nie sou gekies het as hy haar nie beter wou leer ken nie. Danelle se vertrek was Francois se tweede terugslag op dieselfde dag en dit het hom nogal hard getref.

Danelle. Foto: Verskaf
4. Janke se goeie nuus bring ’n terugslag vir JD
Skaars het die stof ná Francois se dubbele skok gaan lê, of nóg ’n pasmaat het die reeks gegroet.
Janke het saam met Lara en Leoné plaas toe gereis om JD persoonlik te vertel dat sy vir ’n kursus in onkologie gekeur is en daarom nie verder kan deelneem nie. Dit was ’n loopbaankeuse wat sy moes maak. Boonop het voedselvergiftiging haar dieselfde oggend in die hospitaal laat beland.
JD was teleurgesteld omdat hy reeds ’n konneksie met haar gevoel het, maar hy het besef dat hy nie in die pad van só ’n belangrike geleentheid in haar loopbaan kon staan nie.
Die boere het dus nie alleen die laaste sê nie – hul pasmaats kan die liefdesreis net so vinnig kortknip of in ’n nuwe rigting stuur. En as dít alles gebeur het nog voordat die seisoen sy halfpadmerk bereik het, bly daar net een vraag oor: Watter verrassings gaan nog onverhoeds opduik?

Janke. Foto: Verskaf
Inskrywings vir seisoen 19 is oop
Die vervaardigers van Boer soek ’n vrou is reeds op soek na boere vir die 19de seisoen van die reeks.
Manlike en vroulike boere van alle ouderdomme mag inskryf, mits hulle ongetroud en ouer as 21 jaar is.
Boere kan op die volgende maniere inskryf:
Besoek www.kyknet.tv om aanlyn in te skryf of ’n inskrywingsvorm af te laai.
Bel 079 614 2229.
Stuur ’n e-pos na: boer@wolflightsa.com
Inskrywings sluit om middernag op 9 September 2026.
Boer soek ’n vrou word op Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
