Skaars het die stof gaan lê ná verlede week se dubbele skok in Boer soek ’n Vrou tydens Francois se blitsafsprake, of nóg ’n pasmaat het onverwags die reeks gegroet. Dié keer was dit JD wat op sy plaas naby Reitz die nuus moes aanhoor: Janke kan nie verder deelneem nie.
Sy het saam met Lara en Leonè plaas toe gereis om hom persoonlik te vertel dat sy keuring vir ’n kursus in onkologie gekry het. Voedselvergiftiging het haar boonop vroeër die oggend in die hospitaal laat beland, en sy kon nie die dag saam met JD deurbring nie.
Ná Alicia en Danelle se onttrekkings by Francois, en nou Janke se nuus, is dit reeds duidelik: In die soeke na liefde verloop min dinge volgens plan …
Jack (30), appel- en peerboer, Hermanus (Wes-Kaap)

Hanli, Anri en Lené kom op die plaas aan. Foto: Verskaf
Hy’s ’n man wat weet wat hy in die lewe wil hê, was Reandi se opinie van dié boer. Met Reandi se aankoms op die plaas, het Hanli gesê sy voel sommer super-kalm in vergelyking met die vorige dag. Dit lyk boonop of al drie die meisies reeds goeie vriendskapsbande met mekaar gesmee het. Maar gaan dit dalk verander hoe verder die stryd om Jack se hart gaan vorder?
Terwyl Jack vir Reandi sy gaste se kamers gaan wys, het sy hom vinnig daarop gewys dat die gang baie kort is – en hy moenie kom “trippe trappe trone” in die aand nie …
“Ek is soet, ek doen nie sulke goeters nie,” het dit blosend van die jong boer gekom.
Kort voor lank het hy vir Anri, Hanli en Lené in die werk gesteek om pere te oes. Tussendeur het Jack natuurlik ook fyner gekyk na sy drie groentjie-‘handlangers’ en hy was besonder beïndruk met Hanli se nederigheid en rustigheid. Vir Anri het hy as braaf beskou wat haarself uitdaag en moeilike take aanpak en Lené was vir hom ’n vrolike, gelukkige mens wat deurentyd nuuskierig is oor alles wat aan die gang is. En sy vra goeie vrae, het hy bygevoeg.
Francois (34), natuurbewaarder, Hoedspruit (Mpumalanga)

Beniska en Sonel K groet Francois. Foto: Verskaf
Hy het erken hy was ’n bietjie senuweeagtig oor die kuier wat voorgelê het, maar eintlik was die opgewondenheid oorheersend. Op pad na hul tuiste vir die volgende week, kon Beniska en Sonel K ook nie hul opgewondenheid beteuel nie. En alhoewel hulle hope kameelperde op die roete gewaar het, het die olifante hulle bly ontwyk. Min het hulle geweet wat op hulle sou wag.
Die twee is gou deur Francois aan die bedrywighede bekend gestel waarby hy betrokke is, soos die monitering van die troppe wildehonde wat met elektroniese halsbande toegerus is. Die twee meisies was meer as gewillig om hierdie “plat-op-die-aarde, avontuurlike mens wat ’n lekker ‘fragrance’ afgee” van naderby te leer ken.
Op sy beurt het Francois gevoel dat hy weet waar hy met Beniska staan en dit was iets waarvoor hy waardering gehad het. En hy het ook gehou van haar nuuskierige brein.
Wat hom van Sonel beïndruk het, was die feit dat sy deurentyd bewus was van die mense rondom haar en seker wou wees almal is oukei. Maar nie een van die twee het geweet hulle sou weldra ’n dooie olifant se tande uit die kopbeen moet “trek” nie. Dié tande moes Francois veilig maak en dan op die ivoor-databasis registreer.
Willie (37), bees- en mielieboer, Harrismith (Vrystaat)

Tayla, Lezelle en Madelé help Willie sy bonsmara-bulletjies klassifiseer. Foto: Verskaf
Geduld en harde werk, het Reandi vertel, is Willie se resep vir sukses. Gaan daar een van sy drie gaste wees wat hom van meet af aan op daardie vlak ontmoet?
’n Lieflike reënbui met Reandi se aankoms op die plaas het sommer reeds ’n goeie begin beteken. Watter boer kan dan nou nee sê vir dié seëning?
Dit was van meet af duidelik dat Lezelle, Madelé en Tayla hierdie week vanuit drie uiteenlopende oogpunte gaan takel – van terugsit en meer waarneem tot ernstige en insiggewende vrae.
Lezelle het met die intrapslag tuis gevoel omdat sy in ’n soortgelyke omgewing grootgeword het. Op haar beurt het Tayla reeds ’n gaping gesien waar sy haar stempel in die gewaardeerde ou plaashuis kan afdruk.
“Man-alleen … kort maar ’n vrou se hand hierbinne,” het sy opgemerk terwyl Madelé op haar beurt daarna uitgesien het om vir Willie in sy element te ervaar.
Gestewel en gespoor, eintlik meer ’n geval van “gumboots” en papier in die hand, het Willie die drietal gou na die Bonsmara-bulletjies se kamp geneem om hulle te klassifiseer. Terwyl almal geesdriftig die proses gevolg het, was dit Madelé se versugting vir nóg pen en papier vir die week wat voorlê sodat hulle Willie ook kon klassifiseer …
JD (28), gemengde boerdery, Reitz (Vrystaat)

Lara en Leonè help JD om draad te span. Foto: Verskaf
Danksy JD se ondeunde streep bly dinge altyd lig, het Reandi die Vrystaatse boer opgesom. Liefde, nes die skoner geslag, bly maar onvoorspelbaar en sy kon nie wag om te sien wat hier op Reitz gaan afspeel nie.
Die kinkel hierdie keer is dat daar ’n kursus in onkologie vir Janke opgeduik het wat haar baie opgewonde gemaak het, maar dan is daar ook die teleurstelling dat sy die reeks moet groet om te doen wat gedoen moet word. Sy het wel saam met Lara en Leonè plaas toe gegaan om die nuus aan hom persoonlik oor te dra.
Om die kroon te span, kon sy ook nie die dag op die plaas deurbring nie nadat voedselvergiftiging haar vroeër die oggend in die hospitaal laat beland het.
JD was wel teleurgesteld want hy het ’n konneksie met haar gevoel, maar hy het ook besef hy kan nie in haar pad staan nie.
Maar die boerdery en die plaas het geroep en Lara en Leonè moes kort voor lank hul staal toon met draadspan-werk. So tussen die werkery deur, het JD darem ’n paar pluspunte van hulle kant ontvang, en een daarvan was sy geduld met die groentjies.
“Jôh, nee, dit vat baie lank,” het hy laggend na afloop van die sessie erken. Lara was vir hom ’n baie rustige en vrolike mens met baie geduld. Leonè het hy as baie vriendelik met ’n oop persoonlikheid beskryf. En hy dink altwee sal kan aard op die plaas … maar hy het geskimp dat daar dalk reeds gevoelens is vir een van die twee.
Arno (28), bosbouboer, Tzaneen (Limpopo)

Arno het Joané, Mariska en Rosanne bale laat dra. Foto: Verskaf
Gaan hierdie mens-mens-boer sy hart verloor? As deel van sy welkom-geskenke aan sy besoekers, het hy vir elkeen ’n sagte teddiebeer gegee – net ingeval hulle iets wil vashou, het hy laggend opgemerk.
“En hulle mag jou nie vashou nie,” het Reandi bevestig.
Wat hulle wel toegelaat was om vas te hou, was lusernbale wat hulle in die veld na ’n oopte moes dra om die wild te voer.
Hy het Mariska as ambisieus ervaar oor die groot stap wat sy buite haar gemaksone geneem het. Alhoewel Joanè aanvanklik stillerig was, het hy dit geniet om te sien hoe sy gemakliker raak. Rosanne is vir hom die omgee-mens wat daarvan hou om ’n groep bymekaar te trek.
Reandi sê
“Soos vreemdelinge vriende raak, verander die atmosfeer op die plaas. Soms gespanne, soms lig. Maar áltyd met ’n tikkie afwagting. Net tyd sal leer of hierdie iemand se eerste – én laaste aand op die plaas gaan wees.”
Inskrywings vir seisoen 19 is oop
Die vervaardigers van Boer soek ’n vrou is reeds op soek na boere vir die 19de seisoen van die reeks.
Manlike en vroulike boere van alle ouderdomme mag inskryf, mits hulle ongetroud en ouer as 21 jaar is.
Boere kan op die volgende maniere inskryf:
- Besoek www.kyknet.tv om aanlyn in te skryf of ’n inskrywingsvorm af te laai.
- Bel 079 614 2229.
- Stuur ’n e-pos na: boer@wolflightsa.com
Inskrywings sluit om middernag op 9 September 2026.
