Verskaf deur kykNET
Kykers van die kykNET-telenovela Diepe Waters is op Woensdag 26 Augustus op die punt van hul stoele gelaat toe ’n gewelddadige konfrontasie by Skinvestment op ‘n angswekkende wyse geëindig het.
Pam, gespeel deur Tracey-Lee Oliver, het haar in die kruisvuur van ’n gevaarlike tweegeveg tussen Frans, Zelda en die genadelose Cloete bevind. Wat ’n spanningvolle oomblik moes wees, het in ’n nagmerrie verander toe ’n enkelskoot afgegaan het. In Donderdag 27 Augustus se episode is kykers geskok en in rou gelaat, toe Pam in haar ma se arms gesterf het.
Ná die skietvoorval het Frans die situasie probeer beredder deur ‘n leuen vir speurder Jenna op te maak—dat ‘n gemaskerde inbreker Pam geskiet en weggehardloop het. Terwyl die leuen gehandhaaf word om Zelda te beskerm, is Siseko, Gys en die hele Boskruin-gemeenskap in diep rou gedompel terwyl hulle probeer sin maak van ’n wêreld sonder Pam.

Cloete konfronteer Zelda. Foto: Verskaf
Pam se skokkende en onverwagte dood laat ’n diep leemte in die harte van Diepe Waters-kykers. Kykers het haar reeds in episode 1 van die telenovela leer ken en oor die jare het sy diep in kykers se harte ingekruip.
Haar reis het begin as Zelda se lui, “loskop” dogter wat meer belanggestel het in haar naels en skinderpraatjies as om kliënte by Skinvestment te bedien. Toe sy besluit om haar eie pad te baan, uit die salon bedank en by Tannie Bybie en Gys gaan bly het, het kykers vir die eerste keer gesien uit watter staal sy regtig gemaak is.

Pam word geskiet. Foto: Verskaf
Daarvandaan het Pam se pad kykers op ‘n emosionele wipwarit geneem. Sy het deur Zelda se planne gesien toe sy vir Pam met ‘n huurakteur probeer fop het oor haar biologiese pa. Haar skerp instinkte het uiteindelik tot die skokkende onthulling by Gys se hospitaalbed gelei dat sy wél ‘n Swarts is. Daarmee saam het sy ook haar eie suksesvolle maatskappy, Motion Management, begin om jong swemmers te bestuur.
Kykers was saam met haar verheug toe sy uiteindelik ware geluk gevind het en met die man van haar drome, die Xhosa-prins Siseko, getrou het. Uiteindelik het sy haar ridder op ’n wit perd gevind. Pam se happily ever after het wel nie gebeur nie, en kykers sal nog lank oor haar skielike afsterwe treur.

Pam sterf in haar ma Zelda se arms. Foto: Verskaf
Tracey-Lee is dankbaar vir die tyd wat sy saam met Diepe Waters gehad het: “Dankie aan elkeen wat deel van hierdie lewensveranderende reis was,” vertel sy. “Pam het my baie geleer – sy het op die regte tyd in my lewe gekom.”
- Diepe Waters word Maandae tot Donderdae 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
