Deur Anna Marais (rooi rose Oktober, 2022)
In die immergewilde Friends wat nou nog gekyk word, behoort die karakters tot ‘n vriendekring wat vir hulle soos familie is. Deesdae vind al meer mense hul “familie” by vriende en familievervreemding is besig om toe te neem. Volgens Tarien Roux, ‘n lewensafrigter, behels familievervreemding om tydelik of permanent kontak met familie te verbreek.
“Dit kan geleidelik of skielik gebeur. Dit is gewoonlik die resultaat van onopgeloste langtermynkwessies.”
Simone Vink, ‘n kliniese sielkundige, voeg by dat dit ook net kan behels om minder tyd saam met familie deur te bring. “Dit behels om jouself fisiek, sowel as emosioneel, van jou familie te distansieer.”
Mariette Joubert, ‘n maatskaplike werker, sê party individue verwerp net sekere lede van hul familie en behou wel kontak met ‘n ander deel van die familie.
Hoekom gebeur dit?
Tarien sê daar is gewoonlik ‘n paar hoofredes. “Dit sluit in mishandeling of verwaarlosing, die begunstiging van sekere kinders bo ander en onderlinge wedywering tussen sibbe.
“Egskeiding kan ook daartoe lei dat een ouer van kinders vervreem. Konflik rondom geld soos ‘n gebrek aan ondersteuning of selfs geldelike uitbuiting is ‘n ander rede. Nog iets wat tot vervreemding kan lei, is verskille rondom waardes en lewenstyl, veral verskille rondom politiek, godsdiens, seksuele oriëntasie, beroepskeuses en keuses van huweliksmats.
“Versuim om aan sekere verwagtinge te voldoen, speel ook ‘n rol. ‘n Verdere bydraende faktor is ongediagnoseerde geestesversteurings.”
Simone voeg by dat wanneer familielede mekaar nie aanvaar nie en die familie-eenheid nie meer ‘n veilige ruimte is nie of wanneer iemand aan ‘n narsistiese persoonlikheidsversteuring ly, dit ook probleme kan veroorsaak.
“Persoonlikheidsbotsings en onopgeloste misverstande is ‘n verdere rede,” noem sy.
Mariette sê daar is verskeie redes hoekom individue hulle van hul families afsny. “Dit sluit in trauma soos mishandeling en kulturele verskille. Wanneer ‘n ouer weer trou, kan die familie of kinders uit vorige verhoudings dalk nie die nuwe lewensmaat goedkeur nie en bande met die ouer breek. Tydens egskeiding kan een ouer die kind dalk negatief teen die ander ouer beïnvloed. Sommige families het weer ‘n familielid wat die familie bymekaar hou en geleenthede vir kontak skep.
“As daardie persoon afsterwe, raak die kontak soms geleidelik minder totdat daar geen kontak meer is nie.
“Baie families is ook al as gevolg van hul ouers se testament van mekaar vervreem. Wanneer die kinders nie erf wat hulle gevoel het hulle toekom nie, kan familiekonflik ontstaan. Sommige familielede mag immigreer. Soos wat hulle nuwe vriende maak en deel van ‘n gemeenskap word, begin hulle al minder kontak met hul familie hou. Mettertyd vervaag die kommunikasie en word die kontak verbreek.”
Hoekom is dit soms nodig?
Tarien sê familievervreemding neem toe wanneer mense konstant afgebreek word of verskille nie gerespekteer word nie, en dit kan mense se lewensgehalte en innerlike vrede negatief beïnvloed.
Volgens Simone is familievervreemding soms noodsaaklik omdat die familie nie langer ‘n veilige ruimte is nie en die situasie ongesond is, veral wanneer daar gepoog is om te versoen en dit nie gewerk het nie. Mariette voeg by dat sommige families toksies is, wat die individue se geestesgesondheid negatief beïnvloed.
“Sommige mense wat persoonlikheidsversteurings soos grenspersoonlikheids-, gedrags- of narsistiese persoonlikheidsversteuring het, kan nie verander nie. As ‘n mens in so ‘n verhouding bly, kan dit veroorsaak dat jy aan mishandeling blootgestel bly. Die individue se geestesgesondheid word negatief beïnvloed en dit kan selfs tot selfdood of ‘n gesinsmoord lei.”
Ester de Beer, ‘n kliniese sielkundige, sê familievervreemding is noodsaaklik wanneer chroniese fisieke of verbale mishandeling tussen familielede voorkom.
“Wanneer emosionele manipulasie voorkom of iemand nie ‘n familielid se grense respekteer nie, kan dit ook nodig wees om kommunikasie op sosiale media te blok.”

Vervreemding. Foto: Kampus Production, Pexels
Kenmerke en uitdagings
Mariette sê individue praat tipies nie oor hul familie nie. “Hulle sal soms sê dat hulle hul families afgeskryf het. Die individue sal soms baie woede en aggressie weerspieël teenoor die familie wat vervreem is en sal ook hartseer, rou en verlies ervaar. Individue kan ook sukkel om op die duur positiewe verhoudings te bou.”
Simone sê tipiese uitdagings is dat mense in wese sosiaal is en vervreemding kan daartoe lei dat mense isolasie en vereensaming beleef.
“Hulle kan selfs van hulself vervreem raak en dis ongesond.”
Mariette voeg by dat omdat die individue nooit ‘n hegte band met hul familie gevorm het nie, kan dit verhoudingsprobleme in die toekoms veroorsaak. “Die individue kan sukkel met ‘n lae selfbeeld, woede-uitbarstings, depressie en swak geestesgesondheid. Individue kan hul familie nie meer sien nie, maar die emosionele band sal altyd daar wees. Dit veroorsaak baie geestesgesondheidsuitdagings.”
Hoe moet dit hanteer word en wat is die oplossing?
Tarien sê versoening is nie altyd moontlik nie, maar omdat vervreemding ‘n afbreking van kommunikasie is, kan dit help om mens se kommunikasievaardighede te verbeter. “Dis belangrik om jou behoeftes en grense duidelik te kommunikeer. Onthou ook dat niemand perfek is nie; ons het almal foute. Dit mag soms nodig wees om te vergewe en die kwessie net te laat gaan. Dis ook noodsaaklik om te luister sonder om op die verdediging te wees en nie bloot aannames te maak nie.” Sy sê verder aanvaarding en bevestiging is belangrik, maar ‘n mens moet onthou verskille stel jou aan nuwe idees bloot.
Simone sê as jy jou in ‘n situasie van vervreemding bevind, mag dit nodig wees om terapie te kry. “As jy kontak moet verbreek moet dit op die gesondste manier moontlik geskied. Oop kommunikasie is belangrik.” Ester sê om jou totaal af te sny van ‘n familielid behoort die laaste uitweg te wees.
“Psigoterapie kan van groot waarde wees om die slagoffer in staat te stel om selfhandhawingsvaardighede te ontwikkel. Volwassenes laat dikwels toe dat hul ouers of ouer familielede wat hulle as kind geboelie het, hulle steeds as volwassenes manipuleer om hul sin te kry. Dit kan tyd neem om die wanfunksionele gedragspatrone te verbreek.”
Ester sê dat sekere gevalle van familievervreemding voorkom kan word as daar betyds by kliniese sielkundiges aangeklop word.

Foto: Kağan Karatay, Pexels
“Soms is daar onderliggende versteurings wat eers behandel moet word voordat verhoudingsterapie suksesvol toegepas kan word. Vele konfliksituasies sal nie tot só ‘n mate eskaleer dat dit permanente vervreemding veroorsaak as mense betyds konflikhanteringsvaardighede aanleer nie. Baie keer is mense net onkundig oor hoe om oor verskille te praat.”
Sy sê verder kommunikasiefoute wat tot vervreemding kan lei, sluit onder meer die volgende in: Afbrekende kritiek, disrespekvolle kommunikasie, om verdedigend te wees en nie verantwoordelikheid te aanvaar vir verkeerde optrede nie, om verskoning te vra en gedrag nie te verbeter nie, maar teenaanvalle van stapel te stuur wanneer foute uitgewys word, asook om stilstuipe te kry. Sielkundiges kan mense help om moeilike gesprekke, wat gewoonlik op ‘n bakleiery uitloop, beskaaf te voer.”
“Herstellende gesprekke en mediasie kan dan benut word om die verhoudings te begin herstel. Bindingsterapie kan ook gebruik word. Die familielede moet stelselmatig kontak herstel.”
Sy sê dat as dit beter vir die individu is om hul van die familie te vervreem, is dit goed om nuwe ondersteuningstelsels te ontwikkel — soos kerkgroepe, vriendekringe of kollegas.
Volgens Ester is daar geen twyfel dat vriende in vele gevalle “hartsfamilie” word nie. “Hierdie hartsfamilie kan dieselfde funksie as goeie bloedfamilie vervul. Ek hoor dikwels in my praktyk dat ‘n goeie ouer vriend soos ‘n ouboet is wat iemand nooit gehad het nie of dat ‘n ouer vriendin vir hulle ‘n ma geword het.”
Vind jou trop
As jy van jou familie vervreemd is, kan jy ondersteuning by sogenaamde “troppe” (kerkgroepe, vriendekringe of werkskollegas) vind. Hier is ‘n paar wenke om joune te vind:
- Weet wie jy is en ken jouself. Identifiseer jou behoeftes en weet waarna jy soek.
- Fokus op mense met gemeenskaplike belangstellings en waardes.
- Reik soms eerste uit. Moenie bang wees om nuwe dinge te probeer nie.
- Dit mag nodig wees om aan verskillende troppe te behoort om in al jou behoeftes te voorsien.
Bronne:
www.wanderlust.com
www.theladders.com
Lees ook: Oupa & Ouma, daar’s grense | rooi rose
