Genoeg vir 6
Rooster die aartappels eerder as om dit te kook. Die krakerige tekstuur is ’n lekker variasie op die ou gunsteling. Vervang die spek met tuna wat grof gevlok is en net voor ete oor die aartappels gestrooi is.
Bestanddele
- 750 g (±30) baba-aartappels, middeldeur gesny
- 30 ml (2 e) olyfolie
- 2 groterige knoffelhuisies, geskil en gekneus
- sout en gemaalde swartpeper
- ’n paar tiemietakkies
- gerasperde skil van 1 suurlemoen
- 1 rooi brandrissie, fyn gekap, opsioneel
- 2 groot hande vol vars roketblare
- 250 g spek, in stukkies gesny en bros gebraai
Slaaisous
- 80 ml (1/3 k) olyfolie
- 30 ml (2 e) witwynasyn
- 1 knoffelhuisie, gekneus en fyn gekap
- 5 ml (1 t) Dijon-mosterd
- ’n hand vol gekapte kruie: pietersielie, grasuie en tiemie
- sout en swartpeper
Metode
Voorverhit die oond tot 200 ºC.
- Sit die aartappels in ’n enkellaag in ’n oondskottel of op ’n bakplaat, sprinkel die olyfolie oor en geur goed met sout en swartpeper.
- Sit die knoffel- en tiemietakkies tussenin.
- Rooster vir sowat 30 min. tot gaar en bros aan die buitekant. Jy kan die oondrooster vir die laaste 10 min. aanskakel sodat die aartappels lekker bruin kan word. Onthou om die aartappels so dan en wan goed deur te roer.
- Haal die aartappels uit die oond en roer die suurlemoenskil en brandrissie deur die warm aartappels.
- Meng solank al die bestanddele vir die slaaisous. As die slaaisous te skerp is, sit nog ’n klein bietjie suiker by en as dit te olierig is, kan jy nog ’n bietjie asyn gebruik.
- Roer die res van die bestanddele by die aartappels en sprinkel die slaaisous oor. Die slaai kan koud of warm voorgesit word.

