Resep deur Vickie de Beer. Foto Lee Schwagele crphotographic.co.za
Die hoender sal vir 2-3 dae in die yskas vars bly.
Bestanddele
Geurige hoender
- 2 e (30 ml) olyfolie
- 1 e (15 ml) botter
- 1 e (15 ml) fyngekapte vars gemmer en fyngekapte knoffel
- 4 grasuie, ruweg gekap
- 1 t (5 ml) gekapte brandrissies
- ¼ k ongesoute geroosterde kasjoeneute
- 500 g ontbeende hoenderdye (koop so by die supermark)
- ¼ k (60 ml) sjerrie
- 3 e (45 ml) sojasous
- 4 ontpitte dadels gesny
- sap van een lemmetjie
- 2 hande vol fyngekapte vars koljanderblare
Metode
Geurige hoender
- Verhit die olie en botter in ’n groot pan oor matige hitte. Geur die hoender met sout en verbruin alkant tot goudkleurig. Skep uit en hou eenkant.
- Braai die gemmer, knoffel, grasuie en brandrissie vir 2 min. of tot die knoffel goudkleurig is.
- Voeg die kasjoeneute en hoender by en braai vir 5 min.
- Voeg die sjerrie, sojasous, dadels en lemmetjiesap by en laat die mengsel vir sowat 7 min. prut tot die sous afgekook is en die hoender gaar is.
- Roer die vars koljander by en laat afkoel voor jy die gereg in ’n digsluitende houer bêre.
Geurige roerbraairys
Genoeg vir 500 ml (2 middagetes)
- Verhit 2 e (30 ml) olyfolie in ’n pan oor matige hitte.
- Braai 1 klein fyngekapte ui en 1 fyngekapte jalapeno-rissie vir 2 min daarin. Voeg 100 g fyngekapte chorizo by en braai vir 2 min. tot gaar.
- Voeg 1 k (250 ml) gaar bruinrys by. Laat die rys vir 5 min. braai sonder om te roer.
- Voeg ’n hand vol groen groente, soos babaspinasie en gesnyde mange tout by. Braai vir sowat 5 min.
- Voeg 1 k (250 ml) van die hoender (*sien resep bo) by. Voeg 2 liggies geklitste eiers by en roer tot gaar.
- Geur met die sap van een lemmetjie en sout en swartpeper.

