Deur Luisa van der Linde
Jou maat, vriendin of kollega vra jou om iets te doen, maar hierdie versoek is onredelik en jy weier.
Die persoon plaas druk op jou. As dit ’n gesonde verhouding is, sal die ander party dit aanvaar of saam met jou ’n oplossing probeer vind. ’n Emosionele afperser sal egter net meer druk toepas of jou met iets dreig.
Susan Forward gee dié voorbeeld in haar boek, Fear Obligation Guilt en skryf dat hierdie dreigemente direk of indirek kan wees en dat ’n mens gewoonlik eers nie wil ingee nie, maar later maar doen omdat jy nie wil hê die persoon moet hul dreigemente deurvoer nie.
Op die ou einde voldoen jy aan die eise en só word ‘n patroon gevorm waar jy leer dat dit makliker is om te doen wat gevra word.
Prof Jonathan Scholtz, ’n kliniese sielkundige, sê hoewel die uiteindelike doel beheer oor iemand anders is, is daar tog graadverskille in die bedoeling, metodes en uiteindelike skade wat met emosionele afpersing, manipulasie en mishandeling plaasvind.
“Die manipuleerder wil ‘n wanbalans in mag bewerkstellig sodat hy of sy mag, beheer, gunste en gawes of voordele kan bekom. Vir die emosionele afperser gaan dit daaroor om die slagoffer skuldig of ontsteld te laat voel, die sogenaamde vrees-verpligting-skuldgevoel-dinamiek.”
“Die gemiddelde mens besef nie dat persoonlikheidsversteurings baie meer algemeen voorkom as wat hulle besef nie,” sê prof Jonathan.
Lees ook: 5 dinge wat niemand jou vertel voor jy trou nie
Een uit 200 mense in Amerika het byvoorbeeld ’n narsistiese persoonlikheidsversteuring en soveel as 4% het anti-sosiale persoonlikheidsversteuring (soortgelyk aan die ou begrip psigopatie).
Prof Jonathan sê hierdie twee persoonlikheidsversteurings is die groot sondebokke as dit by manipulasie, emosionele afpersing en emosionele sowel as fisieke mishandeling kom.
“Die graad van erns is ook baie hoog in die gevalle sodat dit soms kriminele afmetings aanneem. In gevalle waar iemand vermoed hul manipuleerder het een van die versteurings moet hulle dit met ‘n kliniese sielkundige bespreek.”
- ‘n Manipuleerder verdraai feite. Die persoon kan jok, blameer, wanvoorstellings maak, inligting weerhou of feite strategies deel om beheer of intellektuele meerderwaardigheid te verkry.
- ‘n Manipuleerder is lief daarvoor om te oordryf of veralgemeen en wrede humor kan gebruik word om op jou swakpunte te speel en jou onseker te laat.
- Die manipuleerder sal sy of haar slagoffer konstant veroordeel en net op hul foute fokus. Hulle sal jou laat voel of niks wat jy doen goed genoeg is nie.
- Hulle is altyd die slagoffer en gebruik hul hulpeloosheid as ‘n verskoning om ander te kry om te doen wat hulle wil hê.
Manipuleerders kan ook ander met gedrag afpers deur …
- … slagoffers uit hul gemaksone of bekende omgewing probeer kry om die oorhand te hê.
- … passiewe aggressie soos stilstuipe te gebruik om die slagoffer verward en skuldig te laat voel.
- … intimiteit, finansies of besluitnemingsreg te weerhou.
- … kwaad te word as hul behoeftes nie onmiddellik bevredig word nie.
- … nie “nee” vir ‘n antwoord te aanvaar nie.
- … iemand anders die skuld vir hul eie verkeerde gedrag te gee soos: “Ek is aggressief, want jy lok my uit.”
- … iets vir jou gee, maar iets in ruil verwag. Byvoorbeeld: “Ek het jou skuld uit die liefde van my hart betaal, maar nou moet jy …”
Padda in die warm water
’n Voorligtingsielkundige Suzanne Gelderblom sê omdat die emosionele afpersing of manipulasie subtiel en sistematies is, word jy mettertyd gebreinspoel.
“Jy begin naderhand anders te redeneer. Die verhouding word gekenmerk aan ‘n tipe mallemeule (rollercoaster). As dit goedgaan, gaan dit besonder goed en dis omdat jy jouself gedra, maar as dit sleg gaan, word jy daarvoor blameer.
Prof Jonathan sê hy vind in sy praktyk dat dit vir slagoffers moeilik is om manipulasie te identifiseer, omdat alle mense nie ewe emosioneel intelligent is nie.
“Sommige mense is meer liggelowig as ander. Vir ander is dit te belangrik om in die spesifieke verhouding te wees, hulle hou hulself blind vir die realiteit. Wanneer die manipuleerder of afperser ‘n narsistiese of psigopatiese persoonlikheid het, is hulle baie goed met wat hulle doen, selfs klinici word soms deur hulle gemanipuleer.”
Lees ook: Familievervreemding: Wanneer vriende die nuwe familie word
Maak jouself meer weerbaar
Prof Jonathan sê as jy vermoed jy word gemanipuleer moet jy duidelike grense stel oor wat aanvaarbaar is en wat nie.
“Ons begaan daagliks foute met die grense neerlê en is dikwels nie eers daarvan bewus nie. Kommunikeer direk en duidelik. Stel onomwonde dat jy weet jy word gemanipuleer en dat jy nie deel van die gesprek wil wees nie.
“Dit is belangrik om nie emosioneel te reageer nie. Gebruik logika en ‘n beheersde stemtoon en gesigsuitdrukking. Wees afgemete en konsekwent in jou mededelings en optrede teenoor die manipuleerder,” sê hy.
Hy sê by ‘n narsistiese manipuleerder moet jy soms ‘n rol speel asof jy ‘n akteur is.
“Hulle teer op emosionaliteit. Jy kan ná die tyd in die stort gaan huil, maar voor die manipuleerder moet jy sterk voorkom.”
“Vir baie slagoffers lê die wortel van hul probleem in hul gebrek aan eiewaarde,” sê prof Jonathan..
“Meeste mense is daarvan bewus dat hulle ‘n swak selfbeeld of lae eiewaarde het, hoewel hulle dit nie altyd wil erken of prontuit sê nie. As misbruik of manipulasie deur ander meer as een keer in iemand se geskiedenis voorkom, moet hulle professionele hulp soek om kwessies soos lae eiewaarde en afhanklikheidstrekke in hul persoonlikheid te hanteer. As daardie tipe eienskappe voorkom, maak dit die manipuleerder se taak nog makliker. Die manipuleerder sal die persoon se afhanklikheid gebruik om hom of haar emosioneel aan hulle te bind in ‘n soort emosionele gevangenis wat jare kan aanhou.”
Ko-afhanklikheid
Suzanne verduidelik dat lae selfwaarde dikwels by ko-afhanklikheid aansluit.
“Daar is ‘n gesegde wat sê: Co-dependency is driven by the agreement that I will work harder on your problem and your life than you do. Dit is uiters belangrik dat die slagoffer moet leer en verstaan en aanvaar dat emosionele afpersing nie liefde is nie. Dit is vir albei partye ongesond en destruktief.
Suzanne sê: “As iets verkeerd voel, is dit waarskynlik verkeerd. As jy ‘nee’ wil sê, moet nooit ‘ja’ sê nie, want dan word jy waarskynlik gemanipuleer.
Prof Jonathan sê daar is veral twee vrae wat ‘n mens aan jouself moet vra as jy ongemaklik of ongelukkig in ‘n verhouding is.
- Hoe laat die persoon my voel? As dit meestal negatief is, moet die rooi ligte aangaan. Laat hy of sy jou swaarmoedig, bang, senuweeagtig, skuldig, minderwaardig of negatief voel?
- Wat verdien ek? Verdien ek om veroordeel of verneder te word, sarkasme en wrede humor te ervaar, stilstuipe; om afgekraak te word, ensovoorts?
Manipulasie of mishandeling?
Is dit moontlik om te weet wanneer emosionele manipulasie of afpersing na emosionele mishandeling oorskakel?
Prof Jonathan sê omdat die een tipe afpersing soomloos in die volgende een kan oorgaan, is dit nie maklik vir die slagoffer om te besefwanneer professionele hulp ingewin moet word nie.
“Nabye vriende of familie behoort in staat te wees om hul eie ongemak oor die situasie en blote gesonde verstand te kan gebruik. Tekens van depressie soos neerslagtigheid, huilerigheid, onttrekking, verswakte konsentrasie, slaapprobleme, te min eet of ooreet en negatiwiteit tree gewoonlik prominent na vore by gevalle van emosionele mishandeling. Die persoon mag ook angssimptome ontwikkel soos slaapprobleme, rusteloosheid, episodes van paniek, verhoogde sweetrespons, versnelde hartklop en vermeerdering in kompensatoriese gedrag soos skoonmaak of oefen.”
Suzanne voeg by: “Wanneer jy in jouself begin twyfel, wanneer jy jouself isoleer en mense vermy kan rooi ligte flikker. Jou vriende en familie kan aanmerkings maak en vra wat aangaan, of sê jy het ‘n karakter- en persoonlikheidsverandering ondergaan. Win veral professionele hulp in wanneer mense vir jou ‘n bedreiging raak of jy voel dis veiliger om jouself te isoleer.
Sy sê emosionele afpersing is wanneer iemand jou uitbuit, dreig of dwing om sy of haar wil of sin te kry. Die persoon wat afgepers word, doen dus dit teen hul sin, maar vrees die uitkoms as hulle weier.
“Emosionele manipulasie is wanneer iemand emosioneel op jou gevoel speel om iets te doen.
Die persoon speel op jou goedgunstigheid. Emosionele mishandeling is wanneer ‘n persoon beheer wil uitoefen deur ‘n verskuilde agenda. Hulle is geneig om jou persoonlik af te kraak, met subtiele opmerkings. Dit is ‘n progressiewe en langtermynmanier van beheer waardeur die persoon jou laat twyfel in jouself, jou isoleer, jou intimideer en laat skuldig voel vir dinge wat geensins jou verantwoordelikheid is nie.”
Lees ook: 5 maniere om meer selfvertroue te hê
Kennis is mag
Prof Jonathan sê dis belangrik om soveel as moontlik kennis in te win.
“Lees daaroor op en luister na potgooie. Praat met ‘n vriend of vriendin of ‘n objektiewe buitestaander. Gaan sien ‘n berader of sielkundige wat jou kan help om jou brein stadig, maar seker te herprogrammeer om nuwe neurale bane neer te lê,” sê hy.
“Met kundige raad en leiding kan jy jou reaksie op die manipulasie verander en die oormaat skadelike slegvoelhormone (soos kortisol) wat jy tydens interaksie met die manipuleerder afskei, monitor.”
Suzanne sê as jy vermoed dat jy ‘n slagoffer van emosionele manipulasie is, het jy terapeutiese ingryping nodig.
“Daar is nie noodwendig ‘n generiese antwoord of ‘n quick fix nie. Dit is noodsaaklik dat jy ingelig moet raak en insig moet ontwikkel in die persoon wat jou misbruik, afpers of mishandel en so ook insig moet ontwikkel in jou eie interpersoonlike styl wat moontlik die persoon se gedrag in stand hou of selfs bevorder.”
Kry hulp
As jy in ‘n destruktiewe verhouding is, gaan sien ‘n geregistreerde sielkundige of berader of bel die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angshulplyn (Sadag) by 011 262 6396
Kenner: Suzanne Gelderblom by [email protected]
Lees ook: Verwerk jou pyn