Twee baanbrekers. Een buitengewone storie. En nou—vir die eerste keer—’n toneelervaring wat niemand uitsluit nie.
Curro Create en Wordsmith’s Theatre Factory, leiers in innoverende jeugteater, kondig met trots aan dat hulle bekroonde produksie Annie+Helen volledig toeganklik gemaak sal word vir die Dowe gemeenskap, met ’n Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT)-vertolking tydens een van die vertonings by die 2025 Toyota US Woordfees.
Gebaretaalvertaling sal voorsien word deur die Kaapstad-gebaseerde tolk Marsanne Neethling en haar span van Jazz Hands. Marsanne het grootgeword as die horende kind van twee Dowe ouers, wat beteken dat Gebaretaal in werklikheid haar eerste taal is. Om te verseker dat die vertaling akkuraat en doeltreffend is, sal Marsanne en haar span die teks van die produksie gebruik en hulle vertaling saam met die volledige rolverdeling tydens repetisies inoefen.
Die vertoning vind plaas op Sondag, 12 Oktober 2025 om 09:00 en ons nooi beide Dowe en horende gehore uit om dié kragtige verhaal te beleef—’n verhaal van vasberadenheid, innerlike vuur, en die diep menslike begeerte om verbind te wees.
Wanneer Annie Sullivan en Helen Keller mekaar in 1887 ontmoet, voel die 25-jarige Annie soos ’n mens wat verkeerd aanmekaargesit is, en die 12-jarige Helen is vasgevang in die donker limbo van ’n kind wat nie kan sien, hoor of praat nie. Wat volg is lewensveranderend – ’n stryd tussen twee gebroke mense met veldslae om die eetkamertafel en kopskermutselings in gebaretaal. Dié storie van twee formidabele vroue en die mense naaste aan hulle, inspireer met lesse wat ons leer uit trauma. Judi Hattingh, ’n 13-jarige leerder van Curro Durbanville, vertolk die rol van Helen.
Die produksie het reeds lof en staande ovasies ontvang vir die akteurs se roerende spel en die innoverende regie. Hierdie SAGT-weergawe is ’n belangrike stap in Curro Create en Wordsmith’s se verbintenis om teater vir almal te skep.
Kom beleef ’n teaterervaring wat grense oorskry.
Vertoningsbesonderhede:
Datum: Sondag, 12 Oktober 2025
Tyd: 09:00
Plek: Adam Small Teater
Volledige SAGT-vertolking.
Vir besprekings kontak: Jeff by jeff@woordfees.co.za
CC vir Saartjie by ssb@woordfees.co.za en vir Hennie by henniewtf@mweb.co.za
Lees ook: Klop die ouderdom met brein-woema



