kategorieë: Leef gesondGesondheid

Belangrike dinge wat jy oor beroertes moet weet

Belangrike dinge wat jy oor beroertes moet weet deur Salomé Delport

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Beroerte, seks, die pil en oefening

Is jy so bang vir ’n beroerte dat jy liewer niks daarvan wil weet nie? Komaan, lees en kyk hoeveel jy kan doen om die siekte wat dodeliker én meer algemeen as hartsiektes is van jou lyf af te hou. Jy kán in beheer wees

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Wat skort as die dokter sê jy het …

’n Trombose

Jy het in effek ’n bloedklont, oftewel gestolde bloed wat ’n aar verstop.  Dit verstop nie noodwendig die aar heeltemal nie.

’n Embolisme

Jy het ’n “reisende” bloedklont. As dit loskom en deur die liggaam beweeg, kan dit iewers anders ’n verstopping of embolisme veroorsaak. Wanneer dit byvoorbeeld in jou longe vashaak, word dit ’n longembolisme genoem. As dit in jou brein vashaak, noem ons gewone mense dit ’n beroerte, terwyl die dokter dit ’n iskemiese beroerte noem. Die bloedklont keer bloedvloei na die selle in die betrokke breindeel, en omdat hulle nie suurstof kry nie, sterf hulle af, wat ons as breinskade sien.

Hemoragiese beroerte

Die beroerte word deur bloeding in die brein veroorsaak, en nie deur ’n bloedklont nie. Een uit elke vyf beroertes is aan breinbloeding te wyte.

Diepaartrombose

Jy het ’n bloedklont in ’n diep aar.

’n Aneurisme

’n Deel van die wand van ’n aar of slagaar het verswak sodat dit soos ’n ballon verrek. Plaak (van cholesterol) en bloedklonte neig om by hierdie swak plekke te vorm. So ’n bloedklont kan loskom en ’n beroerte veroorsaak. Die aarwand op ’n aneurisme is verswak en kan skeur, met oombliklike lewensgevaar.

TIA Miniberoertes of verbygaande beroertes (transcient ischemic attacks).

Dieselfde as ’n beroerte maar dit duur net ’n paar minute. Jy het net vir ’n paar minute ’n verlamming.

Atriale fibrillasie

Jou hart klop onreëlmatig en pomp nie jou bloed egalig en konsekwent deur jou liggaam nie. Bloed wat so in die hart “stilstaan”, maak klein klontjies, wat dan met die volgende pompslag uitgepomp word en deur jou liggaam versprei, waar dit veral in die brein blokkasies veroorsaak. Dit kan tot beroerte of TIA’s lei.

Dit is waar: die Pil kan jou beroerte gee. Maar …

Lees op jou pakkie. Beroerte is een van die hoofrisiko’s.

Die Pil verdriedubbel jou kans op ’n beroerte. Is jy op die nuwe, ligter pille? Hulle word met effe meer risiko vir bloedklonte verbind.

Maar behou perspektief, sê dr. Lee Shulman, Amerikaanse ginekoloog wat onlangs hier op besoek was. Die Pil verlaag jou risiko op sterfte weens swangerskap met 40%. Die risiko’s aan swangerskap is dus meer as die risiko’s aan die Pil.

Jy het nog voordele van die Pil: dit verklein jou kanse op ovariële en kolorektale kanker, help vir aknee, verlig PMS en keer osteoporose.

In die algemeen is die Pil veilig maar deesdae is die fokus veel eerder op ons elkeen se persoonlike risiko’s. Gaan estrogeen jou of jou buurvrou ’n bloedklont gee?

Kyk eerder na jou risiko-faktore as die Pil se gevare. Wat tel? Dinge soos hoe lank jy op die Pil wil wees of reeds is; het jou ouers ’n beroerte gehad; doen jy ’n sittende werk en is jy baie onaktief; is jy oorgewig; rook jy; en is jou bloeddruk verhoog.

Een van die omstrede sake gaan oor of jy langer as tien jaar op die Pil of hormoonvervanging moet wees. Navorsing wys dat ná 18 maande verminder jou risiko na dieselfde vlak as vir mense wat nie op die Pil is nie.

Maar wat gebeur ná tien jaar? Die tendens is om die Pil te hou vir wanneer jy in die deel van jou lewe is dat jy regtig jou risiko op swangerskap moet uitskakel.

Nog ’n tendens is om te hou by hormoonvoorbehoeding soos die Mirena wat in die baarmoeder geplaas word en dus net daar werk. Dit boots jou liggaam die beste na en beteken dat daar nie “los” hormone in jou liggaam sirkuleer nie.

Té harde oefening kan beroerte gee

So gereeld soos klokslag lees ons dat iemand wat fluks aan sy fiksheid werk, letterlik dood neergeslaan het.

Dit is nie maar net toeval nie, sê dr. Jason Smith van die London Royal Hospital.

Wat gebeur as jy oefen? Jou liggaam, verduidelik hy in ’n PubMed-oorsigartikel, skei ekstra van die faktore af wat jou bloed verdun en van dié wat jou bloed laat stol. Hulle balanseer uit, jou bloed bly goed vloei en jy is veilig.

Dit werk anders as jy uitermate hard oefen. Dan, wys die beskikbare ondersoeke, bly die vlakke van bloedstollings-faktore langer hoog terwyl die vlakke van die bloedverdunningsfaktore gouer sak.

Die gevolg? Die kans dat jou bloed stol, stoot op. As ’n bloedklont vorm en in die bloed begin sirkuleer, kan dit tot ’n lewensgevaarlike embolisme lei.

Maar moenie skrik en ophou oefen nie. Oefening is van die beste maniere om beroerte te keer omdat dit jou stollings- en verdunningsfaktore beter laat werk. Die beroerterisiko raak net mense wat vatbaar is én uitermate hard oefen. Ons wat drie, vier uur per week oefen, is veilig.

Dr. Danie Kotzé, Kaapse hematoloog, sê dit is meer waarskynlik dat mense wat ná harde oefening sterf ’n ander onderliggende probleem gehad het, soos ’n onreëlmatige hartklop of ’n reeds bestaande aneurisme.

Iets om te onthou

Vir iemand wat onfiks is, is skielike harde oefening net so ’n groot stres op die lyf as vir ’n topatleet wat drie, vier uur per dag oefen. Dus gebeur dieselfde met sy bloedstollingsfaktore, met ’n kans op ’n bloedklont. Daarom is dit gevaarlik om te probeer byhou by die fiksstes. Bou jou fiksheid geleidelik op en in jou eie tempo. Moenie jou deur die groep laat druk om harder te oefen nie.

Jy is met rede ná beroerte depressief

Een van ons natuurlike reaksies op ’n traumatiese gebeurtenis is depressie, maar as dit by beroerte kom, lyk dit of die beroerte die biochemie van die brein verander en so depressie sneller. Sowat die helfte van die mense met beroerte raak depressief.

Baie is huilerig – en verleë omdat hulle onbeheerbaar enige plek, enige tyd, in trane uitbars.

Geïrriteerdheid, woedebuie en selfs ’n persoonlikheidsverandering is net so algemeen. Baie mense verloor hul normale goeie oordeel en inhibisies en sê en doen onvanpaste dinge.

Jy sal waarskynlik vir minstens ’n tyd sukkel om dinge te onthou, jouself te versorg en nuwe dinge te leer.

Dit is alles normaal. Dit kan regkom, hoewel nie altyd nie. Al wat jy kan doen, is om dit so goed jy kan te bestuur. Praat met jou dokter en kry behandeling – medikasie of berading.

Seks na beroerte

Eers die goeie nuus: seks kan nie nog ’n beroerte aanbring nie.

Maar ongelukkig kan jou medikasie jou libido verminder. Aan die ander kant beteken die onvermoë om te beweeg nie nood-wendig dat jy nie plesier kan ervaar of gee nie.

Moenie dat die gebrek aan seks ná beroerte jou verhouding knou nie. Gesels met jou dokter.

Hoe om agter te kom dat jy besig is om ’n beroerte te kry

Dr. Tinus Brink, Kaapse neuroloog, sê die sleutelleidraad is “skielik”, want die simptome van ’n beroerte slaan uit die bloute toe. Die belangrikste drie tekens is:

  • Jy praat skielik met ’n sleeptong, onduidelik of onsamehangend.
  • Jy het skielik ’n verlamming, ’n swakheid of ’n dooie gevoel, soos dat jou hand nie kan vat nie, een ooglid hang, jou mondhoek skeeftrek, of jou voet sleep.
  • Die swakheid, verlamming of gebrek aan gevoel, tas net een ledemaat, of net een kant van jou gesig of lyf aan.

Met beroerte tel elke sekonde sodat jy onmiddellik op bloed-verdunners kan kom. Moenie wag vir ’n ambulans nie. Jaag dadelik na jou naaste nood-eenheid. Vra iemand om jou te neem, as dit jy is.

Verminder jou beroerte-risiko

10 Praktiese wenke wat jou kans op beroerte kan verminder

  1. Kry jou bloeddruk laer
    As dit nie onder 130/80 is nie, gebruik medikasie.
  2. Sny sout
    Minder sout in jou kos en minder souterige kosse.
  3. Stap
    Kry matige oefening – minstens dertig minute per dag en so hard dat jy matig uitasem raak.
  4. Sny die koolhidrate
    Suiker, soetgoed, brood, koek, lekkers en gebak van alle soorte en minder styselgroentes soos aartappels, rys en mielies. Dit sal jou trigliseriedvlak help afbring.
  5. Sny die vetjies af
    Dit bly ’n debat of die vetrandjie aan vleis, botter, eiers en room regtig nadelig is. Speel veilig en beperk dit liewer tot daar groter duidelikheid is.
  6. Skud die ekstra kilogramme af
    Hoe meer oorgewig jy is, hoe harder moet jou hart werk om bloed regdeur jou liggaam te stoot. Waar bloed stilstaan, stol dit en vorm ’n klont.
  7. Hou op rook
    Nikotien verswak jou are en verhoog die kans dat bloed stol.
  8. Drink min
    Alkohol kan help om bloed te verdun maar oormatige alkohol is beslis skadelik vir jou hart.
  9. Keer of beheer diabetes
    Dit verhoog ook jou kans op ’n beroerte.
    Al die vorige planne help keer ook dat jy diabetes ontwikkel. As jy reeds diabetes het, hou jou bloedsuiker dop dat jy dit onder beheer hou. En gebruik medikasie as jy nie met dieet alleen jou bloedsuiker reg hou nie.
  10. Snuif jy?
    Kokaïen, heroïen, tik en metamfetamien (meth) word aan beroerte gekoppel.

Hoekom vroue meer van beroertes as mans moet weet

Doodeenvoudig omdat jou kans op ’n beroerte groter as jou man s’n is.

Veral in Suid-Afrika. Volgens dr. Vash Mungal-Singh sterf daar elke jaar vier duisend meer vroue as mans weens beroerte. Hoekom?

  • omdat twee uit elke drie van ons oorgewig is – een van die hoofrisiko’s vir beroertes
  • omdat dit gewoonlik daarop dui dat jy te veel vette en koolhidrate eet
  • omdat ons oor die algemeen minder aktiewe werk as mans doen en ná skool minder aan sport deelneem
  • omdat veral vroue ’n suikertand het en dus dikwels hoë trigliseriedvlakke het
  • omdat een uit elke drie van ons hoë bloeddruk het en dit nie monitor nie
  • omdat ons meer geneig is tot migraine en hoofpyn, en dit as ’n vroeë teken van ’n groter beroerte-risiko ignoreer
  • omdat meer van ons atriale fibrillasie ontwikkel
  • omdat ons meer dikwels as mans onder emosionele stres is en meer dikwels aan depressie ly
  • omdat ons swanger raak, waartydens baie vroue hoë bloeddruk kry
  • omdat ons die Pil en hormoonvervangingsterapie gebruik
  • omdat ons rook om ons gewig te beheer. Rook maak vroue meer vatbaar vir ’n beroerte as mans

Lees ook: Wat elke vrou oor hartsiekte moet weet

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

3 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

3 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

3 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

3 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

4 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

4 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.