In die vierde episode van Beloofde land, wat Woensdagaand op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai is, was die fokus op Suid-Afrikaners wat jare gelede reeds hulle heil in Amerika gaan soek het.
Die vervaardiger en regisseur van dié reeks, Rian van Heerden, het Amerika deurkruis om met eks-Suid-Afrikaners te praat, en hoewel hulle almal gelukkig in hulle nuwe land is, lê die trane gereeld vlak wanneer hulle oor Suid-Afrika praat.

Michelle en Riaan Garforth-Venter (Foto: Verskaf/kykNET)
Te sien in dié episode is die voormalige TV-aanbieders Michelle en Riaan Garforth-Venter (beter bekend as Die Nutsman), wat al sedert 2015 in Atlanta, Georgia, woon; die voormalige stadsbestuurder van Mbombela (voorheen Nelspruit), Neil Diamond, wat in Los Angeles saam met sy gesin woon; Etienne Müller, wat as jong man klein rolletjies in reekse soos Egoli en Getroud met rugby gespeel het maar sedert 2016 saam met sy Amerikaanse vrou in Riverside, Kalifornië, woon; die mynboukenner Jean du Plessis, wat in Hoover, Alabama, woon, en Warren Meier, wat reeds in 2004 nuwe weivelde, ook in Alabama, saam met sy gesin gaan soek het.
Die dinge waarna hulle na verlang, stem baie ooreen: rugby in ’n stadion, kuier om ’n braai, die natuur, om naby jou mense te wees en bowenal die kos. Etienne sê hy droom selfs van ’n pepper steak pie by die Engen, ’n Steers-hamburger en ontbyt by die Wimpy. Ook daardie soet appelkooslekkers wat so sag in die middel is.

Etienne Müller (Foto: Verskaf/kykNET)
Etienne het in 2016 Amerika toe verhuis nadat hy al vroeg in sy lewe aan misdaad in Suid-Afrika blootgestel is. As hoërskoolseun het hy gesien hoe hulle buurman beroof is en ’n paar van sy vriende was slagoffers van kapings. “As ek ry in Suid-Afrika en dis druk verkeer, dan probeer ek só ry dat ek nie dood hoef te stop by ’n verkeerslig nie. En ek dink as Suid-Afrikaner raak mens dit gewoond,” het hy vertel.
Neil Diamond, wat deesdae by SACCUSA (die Suid-Afrikaanse Sakekamer in die VSA) by die konsulaat in Los Angeles werk, het gesê: “Ek dink nie mens plant jou wortels in ’n ander tuin en dra dieselfde vrugte nie. Ek dra nuwe vrugte hier, maar ek mis die ou vrugte, want ek het van die ou tuin gehou.”

Neil Diamond (Foto: Verskaf/kykNET)
Vir hom is die lys van dinge wat hy en sy gesin nié mis nie, egter langer as die lys van dinge wat hulle wel mis, maar hy erken: “Tot vandag toe nog lê my hart in die Laeveld”.
Die groep Suid-Afrikaners in die program vertel dat dit nie altyd maklik is nie. Jean en sy vrou, Adéle, moes ’n tyd lank vir Walmart gaan werk – hy as afleweraar en sy in die winkel – om die pot aan die kook te hou. Jean vertel ook dat nie net die weer ’n aanpassing was nie, maar ook die kos. Alles is in oorvloed beskikbaar, maar proe volgens hom vaal en soet, en die brood is gewoon sleg.
Terwyl Riaan tranerig geraak het toe hy praat oor hulle besluit om te verhuis, het Michelle gesê: “Maak nie saak hoe lank jy in Amerika woon nie, die oomblik as jy oor die huis praat, dan is daar trane. Dit is alles reg onder die oppervlak.”
Riaan, wie se dogters Margot en San-Mari uit sy eerste huwelik nog in Suid-Afrika woon, se trane sit veral vlak wanneer hy oor sy geboorteland praat. Hy was nie daar toe sy ma oorlede is nie, het verlede jaar ’n broer verloor en het vir die eerste keer oupa geword. “Ek is kwaad vir my land. Hoekom verlaat jy ’n land? Jy verlaat ’n land omdat jy nie meer gelukkig is in daai land nie,” het hy vertel.
Michelle, wat ’n lewe voor die kameras verruil het vir ’n administratiewe pos in ’n kantoor, verduidelik dat Amerika vir hulle en hulle seun, Rainn, werk. “Jy het ’n infrastruktuur hier wat jou toelaat om sukses te behaal,” het sy gesê.
Beloofde land word Woensdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
Lees ook: Schalk Bezuidenhout is byna onherkenbaar in Die kantoor
