Schalk Bezuidenhout is veral bekend as ’n komediant, maar hy het stilletjies aan ’n ewe indrukwekkende loopbaan as akteur gebou. Hy het vier Safta-benoemings oor agt jaar ontvang – vir sy vertolking van Johan Niemand in Kanarie, Attie in Taktiek en Danny in Hotel, wat aan hom die Safta vir beste manlike byspeler in ’n TV-komedie besorg het.
Geen van daardie rolle kon iemand egter voorberei op ’n byna onherkenbare Schalk wat Tjaart in Die Kantoor, die Afrikaanse verwerking van The Office, speel nie.

Die 2025 Fleur du Cap- en Woordtrofee-wenner Albert Pretorius (Niggies; Nêrens, Noord-Kaap) is Flip, die kantoorbestuurder by polonie-spesialiste Deluxe Processed Meats waar Die Kantoor afspeel.
Flip, ’n groot aanhanger van Rassie Erasmus en Leon Schuster, verwelkom ’n dokumentêre span om sy opgang in die sakewêreld vas te lê – en ook sy poetse. Hy leef sy eie Chasing the Sun. Almal anders probeer net agt werksure oorleef sonder om iemand te verwurg.

Tjaart is Flip se regterhand. In plaas van Schalk se kenmerkende truie, snor en bos krulhare, het Tjaart ‘n weermaghaarstyl en ’n baardjie. Dink aan Gareth en Dwight in die Britse en Amerikaanse weergawes, maar heeltemal herverbeel as ’n ou van Kempton Park.
“Hy is amper die teenoorgestelde van Danny van Hotel, wat naïef en oulik was,” sê Schalk. “Tjaart is geskei met ’n kind. Hy kettingrook, en hy sit nooit stil nie. Hy is lekker kômmin. Ek het staatgemaak op my Kempton Park-wortels en van die mense waarmee ek daar grootgeword het om die karakter in te kleur. Ek het baie Tjaarts geken.”

Schalk was medeskrywer van sewe van Die Kantoor se episodes. Die hoofskrywer en regisseur van die reeks is die veelbekroonde Bennie Fourie, wat een van Schalk se strooijonkers in 2022 was. “Wanneer ek bloot ’n akteur in ’n reeks is, kom ek gewoonlik net aan die einde in om te help om van die grappe ’n bietjie sterker te maak. Dit was die eerste keer dat ek van die begin af saam met Bennie geskryf het,” sê Schalk. “Hy het die harde werk gedoen. Ek was meer die ou wat idees rondgegooi het oor ’n glasie wyn en grappe gemaak het terwyl hy die storie en struktuur uitgesorteer het. So ons was ‘n goeie span.”
Schalk erken om so ‘n ikoniese reeks aan te pas het hulle laat sweet. “Mense het baie hoë verwagtinge. Ek is ’n puris. So, ek wys altyd daarop dat die Britse weergawe die oorspronklike is, maar Suid-Afrikaners ken die Amerikaanse weergawe beter, en Michael Scott is so geliefd as die baas. Ons wou regtig iets maak in dieselfde klas as die Amerikaanse en Britse weergawes – ’n reeks met net so ’n groot cringe-faktor en wat net so goed ensnaaks is.”
Schalk sê hul grootste uitdaging was om aan die aanhangers van The Office se hoë verwagtinge te voldoen. “Dit was ’n fyn lyn: om naby genoeg aan die oorspronklike te bly sodat dit steeds soos The Office voel, maar anders genoeg dat dit ook soos ’n inheemse reeks voel. Al is dit deel van ’n franchise, wou ons dit ’n oorspronklike reeks maak, vol van ons mense en iets wat net in Suid-Afrika kon afspeel.”
Hy voeg by: “Ek vind dit snaaks dat mense sê: ‘Ag, The Office in Afrikaans. Kan ons nie iets oorspronkliks maak nie?’ Maar toe dit Idols SA was, het almal geskree: ‘Jippie! Idols is hier!’ ”

In November 2024 het Schalk en Bennie in ‘n gastehuis in Bellville gesit en gewonder wie en hoe die karakters gaan wees.
“Ons het baie vryheid gehad,” sê Schalk. “Ons kon die baas ’n swart man gemaak het. Of ’n vrou. Maar Albert Pretorius is so ’n goeie akteur dat ons hom eenvoudig die rol moes gee. Anders sou ons dalk meer oorspronklik kon wees.”
In die rolverdeling is ook Carl Beukes, Daniah de Villiers, Gert du Plessis, Ilse Oppelt, Lida Botha, Mehboob Bawa en Sipumziwe Lucwaba, wat almal aangemoedig is om te improviseer. “Bennie is mal oor improvisasie, en so baie van die beste oomblikke het uit daardie spontaniteit gekom,” sê Schalk.

Hy erken baie van die grappe is gewaagd. “Ek is ’n groot aanhanger van humor wat die grense toets,” sê hy. “Die sleutel is om die gehoor te laat lag oor hierdie karakters se onkunde, eerder as saam met hulle oor ’n bedenklike grap of aanmerking. So, baie van die komedie kom uit die reaksies van die res van die rolverdeling op die dinge wat Flip en Tjaart kwytraak en aanvang.”
Wanneer hulle nie deel van ’n toneel was nie, moes die rolverdeling steeds by hul lessenaars bly, amper soos agtergrond-ekstras, om die gevoel van ’n 9-tot-5-kantoor te behou. “Ek het so baie solitaire op my foon gespeel dat Bennie my uiteindelik moes dwing om dit te verwyder, want dit het soveel van my aandag geëis,” sê Schalk.
Schalk berei tans voor vir ’n toer in Australasië en Europa gedurende Februarie waar hy hoop om gehore met sy jongste stand-up-vertoning, Hey Hey Divorcé, te laat skater. Hierdie nuwe materiaal is deur sy egskeiding in 2024 geïnspireer. “Dit was regtig terapeuties,” sê hy oor die skryf van dié vertoning.
Nuwe episodes van Die Kantoor word Dinsdae op Showmax beskikbaar gemaak en Sondae om 20:00 word die reeks op kykNET (DStv Kanaal 144) uitgesaai. Die episodes is ook op DStv Stream te sien.
Lees ook: Een keer om die son: Alma van Heerden vertel meer oor haar eie reis om die son
