“Om jou hart oop te maak en te deel met iemand sonder om te weet wat die uiteinde gaan wees, is nie net dapper nie, maar ook die grootste geskenk wat jy vir iemand kan gee,” sê die Boer soek ’n vrou-aanbieder, Reandi Grey.
Verlede week het sy by die tien boere gaan inloer om uit te vind waarna hulle soek en waar hulle hulself in hierdie stadium sien. In Donderdag se episode was dit sy en die bultende possakke wat afgelewer moes word, en die boere wat moes uitvind of hulle genoeg briewe ontvang het om deur te dring na die blitsafspraakronde.
2025 se vyf topboere is:
Willie (26), makadamia- en wildboer van Badplaas, Mpumalanga

(Foto: Verskaf/ Gys Loubser)
Willie (26), ’n makadamia- en wildboer van Badplaas, Mpumalanga, was aanvanklik verbaas oor die aantal briewe wat aan hom gerig is, maar hy raak baie opgewonde toe hy van die foto’s sien, want ’n “mooi meisie is altyd my tipe”.
Willie se kuiltjies trek dieper as diep toe hy hoor hy ook het meer as genoeg briewe ontvang om na die volgende ronde deur te dring. Hy het nou wel nie die meeste briewe gekry nie, maar beslis die meeste pakkies.
Twee van sy vriende het kom help saam oopmaak en het nogal heelwat oor hul maat te sê gehad. Blitsafsprake, hier kom ’n ding!
Rudi H (56), boerbokboer van Windsorton, Noord-Kaap

(Foto: Verskaf/ Gys Loubser)
Die pad het volgende na Windsorton gelei waar Rudi H (56), ’n boerbokboer van die Noord-Kaap, se bokke en hul lammetjies vir Reandi verwelkom. Rudi H vertel vir Reandi hy voel nou soos ’n foksterriër wat ’n bus gejaag het en hom gevang het, maar nou nie weet wat om daarmee te doen nie.
Die twee gesels oor dinge soos “afskaal” en “rustiger”, maar daardie planne van Rudi H gaan vir eers opsygesit moet word.
“Ek het nou vir jou slegte nuus. Jy gaan nie kan afskaal nie. En jy’t gesê jy soek so graag net een vrou in jou huis, maar jy gaan drie vrouens in jou huis hê,” lig sy hom in. En hy bloos sowaar toe die nuus insink.
Francois (sy neef) en André (sy jonger broer) het hand bygesit met die sortering van die briewe en pakkies. Hulle is van een ding oortuig – en dis dat hierdie die regte ding was vir Rudi H om te doen om mense te ontmoet.
Evert (38), makadamia-, sitrus- en wildboer van Tshipise, Limpopo

(Foto: Verskaf/ Gys Loubser)
Volgende het Reandi ’n ver draai gery na die land van die oeroue kremetartbome, die plek waar Evert (38), ’n makadamia-, sitrus- en wildboer van Tshipise, hom bevind. Hy is aan die draf toe sy opdaag, maar dis nie wat Reandi verbaas nie. Wat haar wel verbaas, is die “liplapa” waarmee hy nou spog – ’n lekker dik snor.
“Jy’t nie net genoeg briewe gekry om deur te gaan na die blitsafsprake toe nie – jy het ook die meeste briewe en geskenke gekry hierdie seisoen,” lig Reandi hom in. En toe word die sakke en sakke en sakke ingedra.
“Jy joke,” kom dit van ’n verstomde Evert. Hoewel hy volgens homself as ’n reël nie bloos nie, is daar tog ’n gesonde skeutjie rooi wat sy wange verkleur. En dis nie sonbrand nie.
Gelukkig het ook hy twee sterk manne om hom by te staan met die besonder groot siftingsproses wat blitsvinning afgehandel moet word.
Rudi (47), toerisme en wildboer van Beestekraal, Noordwes

(Foto: Verskaf/ Gys Loubser)
Volgende aan die beurt is Rudi (47), ’n toerisme- en wildboer van Beestekraal, Noordwes.
“Rudi, daar is baie mense wat voel Boer soek ’n vrou is nie die plek vir ’n gay man om in te skryf nie. En dit is definitief iets wat mans kan afskrik, want as jy inskryf, maak jy jouself oop vir baie kritiek en baie kommentaar.
“Daar is egter baie mans wat voel jy is die kommentaar en die kritiek werd, want dit het hulle definitief nie afgeskrik nie,” sê Reandi vir hom en vra dat hy moet help om die res van sy pakkies af te laai.
Hy erken hy het gewik en weeg voordat hy ingeskryf het vir Boer soek ’n vrou, maar toe dink hy: Hoekom nie?
“Ek voel ek is ook geregtig op liefde. Ek is ook geregtig op ideale. En dit maak nie saak wie of wat jy is of wat ook al nie, go for it. Jy moet jou kans vat in die lewe.”
Hy raak skoon aangedaan oor die moeite wat mense gedoen het om vir hom te skryf. Maar daar’s nog goeie nuus: Rudi het meer as genoeg briewe ontvang om ook na die volgende ronde deur te dring. Nou lê die blitsafsprake vir hom voor.
Pieter (29), skaapboer van Richmond, Noord-Kaap

(Foto: Verskaf/ Gys Loubser)
Naby Richmond gee Reandi opdrag aan die skaapboer Pieter (29) om sy perd af te saal om briewe te kom lees. Hy besluit sommer die eerste brief is al genoeg. Reandi noem aan hom dat sy kan sien hoe sy selfvertroue begin toeneem het sedert hul eerste ontmoeting en dat hy reg is om voluit te gaan met die proses.
Dis natuurlik ’n goeie ding, want ook hy gaan drie dames op sy plaas verwelkom.
Inskrywings vir seisoen 18 van Boer soek ’n Vrou
KykNET soek nou ongetroude boere of plaasbestuurders, manlik of vroulik, wat reg is om ’n liefdesreis saam met Boer soek ’n vrou aan te pak.
Só kan boere inskryf:
- Besoek kyknet.tv waar jy óf aanlyn kan inskryf óf ’n inskryfvorm kan aflaai;
- Bel: 079 614 2229
- Stuur ’n e-pos na boer@wolflightsa.com
