Die soektog na liefde in die 17de seisoen van kykNET se weergalose maatsoekprogram het afgeskop. Reandi Grey, die reeks se nuwe aanbieder het in die eerste episode die tien nuwe boere, wat op soek na liefde is, ontmoet, en sy moes selfs in die middel van nêrens ’n wiel van een van die boere se bakkies ruil!
“Om te sien hoe die boere verander van die begin tot die einde, en wat hulle ervaar, was net onbeskryflik spesiaal,” vertel sy van hierdie merkwaardige reis.
Kykers het die nuwe boere reeds in November verlede jaar ontmoet. Maar nou kan jy uitvind hoekom hulle werklik ingeskryf het vir Boer soek ’n vrou en hoe hulle oor hulself voel.
Nicolaas (37), ’n skaap- en saaiboer van Bredasdorp, Wes-Kaap
- “Ek is rustig – nie ’n ou wat sommer kwaad raak nie. Ek’s ’n gemaklike mens.”
Met ’n “druk hom kant toe en vorentoe” skuif Reandi agter die stuur van een van Nicolaas se reusetrekkers in, reg om die graan op die land teen wurms te bespuit. Nicolaas het nog iets waarmee hy vir Reandi verras: regte egte heuning wat nou van die heuningkoek se was geskei moet word.
Soek na: Hy was nou lank alleen. So, dit sal vir hom lekker wees om die lewe saam met iemand te kan geniet, saam dinge te doen, saam te toer. Sy moet kan dans ook. En na aan die Here leef.
Rudi H (56), ’n boerbokboer van Windsorton, Noord-Kaap
- “Ek het ’n baie goeie hartseer as ek oor my kind gesels. Ons het ’n goeie verhouding met mekaar.”
Rudi H, vanjaar se oudste boer, is besig om sy boerbokke te toets om te kyk of hulle dragtig is of nie toe Reandi opdaag. Van hulle het draadgespring, en daar moet seker gemaak word wat aangaan. Reandi hanteer die kwaaddoeners se sonar-ondersoeke soos ’n pro. En sy verloor haar hart onmiddellik op ’n klein blêrende bokrammetjie.
Daar’s ook ’n delwery op sy plaas. Gaan Reandi blink geluk bring?
Soek na: ’n Bietjie nuwe lewe, ’n nuwe denkwyse. As hy net daai persoon kan vind.
Lourie (26), ’n beesboer van Vryburg, Noordwes
- “Of dit nou is, of oor tien jaar – ek wag vir haar.”
Hy’s glo ’n geselserige jongman, vertel Reandi. Hy verklap dat hy die soort ou is wat altyd iets gaan aanvang wat buite ander se gemaksone is. Lourie spog met ’n lieflike kudde Brahmanbeeste waarvan hy verskeie bulle hondmak gemaak het. Maar hoe gaan Reandi reageer as sy die bulle se skrotum moet meet?
Soek na: Iemand wat hom onvoorwaardelik kan liefhê. Hy het al liefde ervaar wat sy voete onder hom uitgeslaan het, en hy glo dit kan weer gebeur.
Rudi (47), ’n toerisme- en wildboer van Beestekraal, Noordwes
- “Ek is oop om iemand te ontmoet wat die beste in my kan uitbring en uit wie ek die beste kan vat. Maar die plaaslewe is nie vir elkeen nie. Dis ’n besonderse en spesiale mens wat daarmee kan saamleef.”
Reandi kom op die plaas aan terwyl Rudi besig is om ’n wildkamp vir hul tweede swartwildebees-trop voor te berei. Dit beteken bome omstoot met ’n trekker-stootskraper-bedryf, oftewel TLB, soos Rudi dit noem. En Reandi is meer as gewillig om self agter die stuur in te skuif en ook ’n boom of twee om te stoot.
Volgende aan die beurt is voertyd – sowat 200 voertuigbande word as voerputte met ’n molasse-meel-en-hawermengsel vir die wild ingespan.
Soek na: Daai commitment van trou en kinders, ook met iemand wat dalk reeds kinders het of deur surrogaatskap kinders wil hê. Iemand wat by sy ma kan verbykom: “Sy’s ’n kwaai boertannie daai.” Hy is reg om iemand in sy lewe in te laat wat die pad saam met hom kan stap.
Evert (38), ’n makadamia-, sitrus- en wildboer van Tshipise, Limpopo
- “Aarde, hoe gaan jy opstaan in die oggend as jy nie iets het om na te streef nie? Om ook eendag op die ouderdom van 60 steeds net ’n handjie uit te steek of oor die skouers te vee.”
Reandi glo dat dit dalk moeilik vir Evert sal wees om iemand spesiaal te ontmoet omdat hy op so ’n afgeleë plaas boer – net ’n klipgooi weg van die Zimbabwe-grens. Maar die plaas se natuurskoon is ’n belewenis. Toe hulle in sy bakkie die omgewing gaan verken, word Reandi se asem byna weggeslaan toe sy ’n kameelperd gewaar. Dit hou nie daar op nie.
Hulle hou stil by een van Afrika se mooiste reuse: ’n kremetartboom. Evert verduidelik dat elke 10 m wat ’n kremetartboom in deursnee is, 1 000 jaar van groei verteenwoordig. En hierdie boom is nagenoeg 2 000 jaar oud!
Soek na: Om vreugde te kan deel en te verdubbel met die reis waarop hy nou is. Hy geniet homself gate uit met wat hy doen, en wil dit met iemand deel.
Willie (26), ’n makadamia- en wildboer van Badplaas, Mpumalanga
- “Ek is baie dankbaar vir ’n goeie gesin, vir ouers wat vir my en my sussie die regte waardes geleer het – van kleintyd af.”
“Woelige Willie” wag vir Reandi in met twee opgesaalde perde. Dit skrik haar nie af nie, en kort voor lank galop die twee deur die pragtige veld.
Hulle benader die “rustige leeus” met ’n willewragtig van ’n viertrek-motorfiets wat ook as wildkykvoertuig kan dien, maar hul volgende vervoermiddel laat Reandi kortstondig in haar spore stuit…
Al wat sy ná die tyd kon uitkry, was ’n kort skietgebedjie van “dankie, liewe Jesus”.
Soek na: ’n Eie familie is sy mikpunt. As dit gaan werk, wil hy dit vír iemand doen. En dat ’n pa na hom sal kyk met die gevoel dat sy dogter enige tyd met ’n geruste hart by hom gelos kan word.
Reinier (29), ’n saai-, bees- en skaapboer van Frankfort, Vrystaat
- “Op die plaas… jy is gebore vir dit. Dis in jou bloed, dis in jou DNA. Ongelukkig – daar kom goeie tye, daar kom moeilike tye. Maar soos elke somerreën of die droogte, jy vat dit maar soos dit kom.”
Reinier is glo iemand wat nie kan stilsit nie. Maar hy’s nie die enigste een nie. Kort voor lank bevind Reandi haar agter die stuur van sy trekker en trek sy die eg meesterlik deur die land.
Soek na: ’n Vrou wat vir hom kan lief wees vir wie en wat hy is, wat hom kan opkikker en laat lag. Mense is daar om mekaar te help in die lewe. Hoe lekker sal dit nie wees nie, is sy versugting.
Pieter (29), ’n skaapboer van Richmond, Noord-Kaap
- “Ek is nou reg om te settle en iemand spesiaal op die plaas te hê. En ja, dalk binne die volgende jaar of twee te kan trou.”
Skeertyd in die Karoo is afgehandel, en toe Reandi op Pieter se plaas aankom, is hy besig om wol te klas. Hy verduidelik vir haar hoe dit werk, en sy is gaande oor die sagtheid van die wol wat reeds uitsorteer is.
Pieter is die vyfde generasie op die plaas en voel bevoorreg om saam met sy pa te kan boer.
Soek na: Liefde, omgee en bymekaarstaan soos wat hy by sy ouers sien. Deur goeie en slegte tye.
Christof (38), ’n turksvy- en soutboer van Petrusburg, Vrystaat
- “Ek hou van lag en ek hou van lekker lewe, maar daar’s baie diep waaroor ek dink.”
Hy vertel vir Reandi dat die turksvye wat hy verbou uitstekende voer vir beeste is – propvol suiker en proteïene. Dan is daar ook die soutboerdery.
Dis nie al nie. Die man is boonop uiters knap met sy hande en maak vir Reandi ’n houtkissie vir die growwe sout wat sy gaan oes om saam te vat huis toe. Beeldhouwerk en musiek is ook twee van sy groot passies.
Soek na: Iemand wat die lewenspad saam met hom kan loop, want ’n mens leef nie vir jouself nie.
Ruan (30), ’n skaap-, bees- en saaiboer van Tweespruit, Vrystaat
- “Ek is baie geëerd dat ek die geleentheid [om te boer] gekry het. En ek is trots op wat ek al bereik het. Maar ek het nog baie doelwitte wat bereik moet word.”
Min het Reandi geweet wat hier op haar wag: Lammers moet ingeënt én getatoeëer word. En sy kan nie glo dat dit nie ’n pynlike proses is nie. Ruan is oortuig dat die plaas hom geleer het om geduldig te wees.
Terwyl hy haar touwys maak met boogskiet – en natuurlik die kol tref – besluit Reandi hy het beslis nie haar hulp nodig nie. “Jy is Cupid,” lag sy vir hom. Sy mis die kol, maar tref darem die bord.
Soek na: Iemand wat deur die moeilike en lekker tye by hom kan staan, want hy glo ware liefde gaan na vore kom wanneer dinge moeilik gaan. En ook iemand wat hom kan help groei.
Die reeks sal vanaf 7 Augustus 2025 oudergewoonte op Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai word.
Lees ook: 10 redes waarom jy rooi rose se Augustus-uitgawe móét lees!




















