Wanneer Die brug se spelers hul bouwerk afgehandel het, is dit die boere se beurt om ’n brug na moontlike liefde in Boer soek ’n vrou oor te steek. Die sewentiende seisoen van dié gewilde maatsoekreeks begin op Donderdag 7 Augustus op kykNET (DStv-kanaal 144).
Vanjaar se oes van deelnemers se ouderdomme wissel tussen 26 en 56, en die boere verteenwoordig ses provinsies, met die Vrystaat wat die voortou met drie hubare boere neem.
Soos voorheen sal Boer soek ’n vrou, wat sedert 2007 ’n móét op die Suid-Afrikaanse televisiekalender geword het, grootliks fokus op die vyf boere wat die meeste inskrywings ontvang het.
Reandi Grey klim vir die eerste keer agter die stuur van die Boer soek ’n vrou-Hilux-bakkie in, en sy sê daar is talle verrassings wat op kykers wag in ’n vars seisoen.
“Daar is nie net tien nuwe boere nie, maar ook ’n splinternuwe regisseur en ’n nuwe aanbieder,” verduidelik Reandi.

Foto: Verskaf/Gys Loubser
“Al die boere wat ingeskryf het, is ook mense wat ek self naby aan my gaan wil hou vir die res van my lewe.
“Hulle is besonderse sout-van-die-aarde-mense wat liefde verdien – en ek voel geëerd om deel daarvan te kon wees,” sê sy.
Volgens haar is dit ongelooflik om sien hoe die boere verander van die begin tot die einde, en wat hulle ervaar.
“Dit is ’n rol wat ek toewens vir enigiemand in hul lewe, want om deel te kan wees van ’n liefdesverhaal, of dit vir iemand anders of vir jouself is, is baie spesiaal en nodig.”
2025 se boere is:
Nicolaas (37), skaap- en saaiboer van Bredasdorp, Wes-Kaap
Rudi H (56), boerbokboer van Windsorton, Noord-Kaap

Lourie (26), beesboer van Vryburg, Noordwes
Rudi (47), toerisme en wildboer van Beestekraal, Noordwes
Evert (38), makadamia-, sitrus- en wildboer van Tshipise, Limpopo
Willie (26), makadamia- en wildboer van Badplaas, Mpumalanga
Reinier (29), saai-, bees- en skaapboer van Frankfort, Vrystaat
Ruan (30), Skaap-, bees- en saaiboer van Tweespruit, Vrystaat
Christof (38), turksvy- en soutboer van Petrusburg, Vrystaat
Pieter (29), skaapboer van Richmond, Noord-Kaap
Lees ook: Hannes van Wyk oor Magda Louw & Erhard-karakter: “Dis lekker dat mense my nie in die rol herken nie“









