Die derde seisoen van Magda Louw is op hande en daar gaan beslis gelag word. En dalk ’n traan of twee tussendeur gepink word. Dit sal ook die derde seisoen wees waarin die geliefde TV-aanbieder en akteur Hannes van Wyk die rol van Magda se man, Erhard, vertolk.
Maar hoe het hy sy karakter ontwikkel, en wat anders lê nog vanjaar voor vir Magda en die effens beskimmelde dog dierbare Erhard?

(Foto: Gys Loubser/kykNET)
Hoekom dink jy is die Magda Louw-reeks so geliefd en waarom moet mense dit kyk?
Ek dink elke liewe mens kan met die karakters identifiseer, of jy nou in die stad of op die platteland woon. Ons almal het êrens ’n familielid of iemand wat ons ken wat soos hulle is.
Vir my is dit wonderlik om te besef die kykers is werklik lief vir die twee oues, Magda en Erhard. Dit is ook interessant dat ons die mooiste terugvoer kry van werklik intellektuele mense wat gewoonlik nie eers komedies kyk nie.
Jou karakter, Erhard, is só ’n unieke karakter met ’n paar lae. Aan die een kant komies en droog, maar tog met emosionele diepte. Hoe het jy daardie balans tussen humor en hart benader?
Ek glo nog altyd (van my dae toe ek net verhoogwerk gedoen het) dat daar ’n fyn lyn is tussen komedie en hartseer. Solank jy iets éérlik doen, is jy klaar halfpad daar. Moenie probéér om snaaks te wees nie.
Ons almal huil maar oor taamlik dieselfde dinge, alhoewel ons almal nie noodwendig oor dieselfde goed lag nie. En ek glo juis daarom moet jy komedie speel met deernis en eerlikheid. Dis dan wanneer jy die mense, hetsy gehoor of kykers, saam met jou vat.
Erhard is nie perfek nie, en hy het sy foute, maar dis dalk juis wat hom so menslik maak. Watter lesse dink jy kan kykers by hom leer?
Ek het voor ons aan die eerste reeks begin skiet het gereeld ouer mense dopgehou om te sien hoe hulle op situasies reageer. Ek het ook baie van oom Erhard op my eie pa gebaseer.
Hy druk hom nie altyd so goed uit nie, sê soms die verkeerde dinge, maar hy het ’n hart van goud en probeer altyd om nét goed te doen. Dan is daar sy liefde vir sy hondjies. Dis iets waarmee ek natuurlik ook baie goed kan assosieer.
Wat bly vir jou die lekkerste om aan hierdie reeks te skiet?
O gits, beslis die feit dat ou oom Erhard glad nie soos Hannes lyk en optree nie. En ook dat hy amper 30 jaar ouer as ek is. En ek hoef nie bekommerd te wees oor hoe ek lyk nie, want kyk, dié ou oom is beslis nie ’n oil painting nie.
Dit is ook vir my lekker dat baie mense my nie in die rol herken nie. Baie besef nie dat dit ek is nie. Twee dae gelede het iemand vir my gevra of ek die reeks Magda Louw kyk. Toe sê ek maar vir haar: “Ja, ek kyk dit – en is ou oom Erhard nie wonderlik daarin nie. Wie is die akteur wat oom Erhard speel?”
Sy is toe nie seker wat sy naam is nie. Dit is regtig die waarheid.

(Foto: Gys Loubser/kykNET)
Hoe het die reeks in jou opinie ontwikkel en gegroei van seisoen een af?
Dit het beslis gegroei soos enige reeks en karakters groei, máár ons moet ook onthou dat ons nie besig is om harte oor te plant nie. Ons is net besig om ’n storie te vertel. As akteur moet mens ook nooit belangriker of groter as die storie word nie.
Ons is dankbaar dat mense die reeks steeds baie geniet en dat hulle van die karakters hou. Daar moet egter daagliks teruggegaan word na die “eenvoud” van die karakters en ons moet getrou bly aan hulle.
Jy het al in drama en komedie gewerk. Hoe daag ’n komedie jou anders uit?
Baie mense het aan die begin gesê hulle kan nie glo dit is die “ernstige” Hannes van Kwêla nie. Dit is wat vir my steeds so lekker is van my loopbaan ná 30 jaar in die bedryf. Daar is altyd iets wat mens uitdaag, en ek hou daarvan om uiteenlopende rolle te vertolk.
Dit sluit in die aaklige Krynauw du Boisson in Egoli. Dit was ’n fantastiese karakter om te vertolk. En dan die karakter in Spoorloos wat die kindertjies doodgemaak het, en nou oom Erhard.
Ek glo ’n mens benader komedie en drama dieselfde. Ken die karakter, word daai karakter en speel hom so eerlik soos jy kan.
Komedies, veral in Afrikaans, word soms afgemaak as ‘ligte vermaak’, maar daar is fyn vakmanskap in die tydsberekening en struktuur. Wat wens jy het meer mense verstaan van dié genre?
Komedie is ’n moeilike ding om te speel, want tydsberekening is baie belangrik. Veral waar dit kom by komedie vir televisie. Volgens my hang dit ook baie af van jou reaksie op ander karakters en nie altyd jou eie dialoog nie.
Ek dink dit is belangrik dat karakters, veral in komedie, lewensgetrou moet wees en dat mense hulle as “regte” mense sien.
Hoe weerspieël of bevraagteken Magda Louw die hedendaagse Afrikaanse kultuur?
Ons akteurs en skrywers moet maar net die storie dien en die werklikheid op die kassie en verhoog weergee. Dan weer dieselfde ding: moenie groter en belangriker word as die storie of karakter wat jy speel of skryf nie. Dis dan waar die rooi gevaarligte begin flits.

(Foto: Gys Loubser/kykNET)
Jy werk as akteur, aanbieder en regisseur in ’n tyd waar Afrikaanse televisie voortdurend moet aanpas om relevant te bly. Wat is vir jou die belangrikste aspek van egtheid in storievertelling en hoekom?
Ek glo as ’n mens in die bedryf werk waarin ons werk, moet jy nederig wees en besef daar is altyd nog so baie om te leer. Vir my is toneelspel en TV-aanbieding my lewe, en ek werk hard daaraan om dit so goed as moontlik te doen. Ek sê weer: Ons moet die storie en die karakter dien as akteurs – nie andersom nie.
Vertel bietjie van die nuwe Magda Louw-toneelstuk?
Ek sien uit daarna, maar dit is ook ’n ander ball game. Dit is twee televisiekarakters wat hulle voet op die verhoog sit. Die lekker van die toneelstuk is vir my dat die karakters presies dieselfde is as in die TV-reeks.
Ons open 15 Julie by die Vrystaatse Kunstefees met Magda en haar Erhard: How Louw can you go?
Die ou oom en tannie het besluit hulle wil ook die verhoog betree – iets waarvoor hulle nie juis opgelei is nie. Dit sukkel maar, want veral oom Erhard weet nie eintlik wat hy doen nie. Hy dans en sing wel. Die arme ou oom doen ook maar net wat Magda vir hom sê om te doen.
Ons speel ook vanjaar by ander feeste soos Aardklop en Vryfees en wil volgende jaar deur die land toer daarmee.
Die derde seisoen van Magda Louw word vanaf Maandag 14 Julie 2025 om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.