“Ons almal weet jy kan nie jou eie familie kies nie, maar as jy deel word van iemand anders se familie, of hulle van joune, dan is daar baie keuses om te maak en baie op die spel,” het die aanbieder van Boer soek ’n vrou, Reandi Grey, in die tiende episode van kykNET se gewilde maatsoekreeks gemaan.
Van die boere het reeds hul twee kuiergaste aan vriende en familie begin voorstel – en hulle het duidelik ook al ’n paar opinies gelug. Maar wat het intussen op die plase van Willie, Rudi H en Rudi gebeur?
Willie (26), ’n makadamia- en wildboer van Badplaas
Denike het eerste kans gekry het om met Willie op sy eie te gesels. Wanneer dit by sterk gevoelens jeens iemand kom, wil sy net nie ophou om alles van hulle te hoor nie. En sy wil altyd naby daardie mens wees, het sy erken. Sy het duidelik ’n indruk op Willie gemaak, en hy het vir haar gesê hy glo sy het ’n baie sterk persoonlikheid en dat sy iemand is wat nie sal skroom om haar sê te sê nie.
Maar, wou hy van haar weet, watter eienskap van haar pa sal sy graag in hom wil sien? Iemand wat ’n goeie man vir haar sal wees en haar gelukkig sal maak, en ook haar aanvaar vir wie sy is, was die antwoord.
Willie het op sy beurt gesê hy is op soek na iemand met baie selfvertroue en iemand wat, soos sy ma, haarself goed kan versorg.
Cilmari wou op haar beurt by Willie uitvind wat vir hom ’n rooi vlag is wanneer dit kom by meisies. Vir hom is dit iemand wat nie oor genoeg selfvertroue beskik nie, en die twee het saamgestem dat onsekerheid wat met ’n gebrek aan selfvertroue gepaard gaan, onnodige bagasie is.
Sy het vir hom gesê haar ideale man Bybelgewys sou Dawid wees.
“Want Dawid het verskriklik baie drooggemaak, maar hy was bereid om die shots op die ken te vat,” het sy, onder meer, gesê.
Willie se selferkende ongeduldigheid was ook nie vir haar ’n rooi vlag nie. Ná hulle alleentyd het sy hoopvol gevoel, maar wou sy nog steeds haar hart teen teleurstelling beskerm.
En Willie?
“Ek begin reeds ’n gut feeling in die een rigting te kry,” maar oor watter rigting swyg hy soos die graf.
Tydens die kuiertyd met Willie se familie en vriende, het sy vriende gedink albei dames is baie oulik, en die potensiaal het om by Willie in en aan te pas.
Ouma Wanda en sus Suné het die twee ook goed uitgekyk. Vir Suné het dit gevoel asof Cilmari meer luister, en sy dink Willie moet die soort vrou kies wat gaan luister. Ma Marleen en pa Pieter het ook met valkoë na Cilmari en Denike gekyk.
“Ek as ma… Ek dink regtig hy moet iemand kry wat vir hom bietjie kan ’n reguit lyn trek. Hy’t iemand nodig wat die rieme bietjie kan styf trek omdat hy all over the show is,” het Marleen laat hoor.
“Willie is definitief ’n diep denker. Ek dink hy dink met sy kop voor hy met sy hart voel,” het Pieter oor sy seun gesê.
Rudi H (56), ’n boerbokboer van Windsorton
Lizelle het nie doekies omgedraai tydens haar alleentyd met Rudi nie. Sy het besef sy’s reeds besig om verlief te raak op die boerbokboer, want hy laat haar opgewonde voel. Sy het ook vir hom gesê dat hy die rede was waarom sy ingeskryf het, want sy ondeunde, stoute glimlag het vir haar prettig gevoel.
“Iewers het dit net weer ’n snaar in my laat twang,” het sy vir hom gesê.
Rudi H het erken dat hy bang was om weer lief te raak vir iemand en het vir Lizelle gevra of, sou hy haar vra, sy reg sal wees vir wat voorlê.
“Ek is. Ek is reg vir ’n nuwe ding in my lewe. Ek stagneer waar ek huidig is. Ek is eensaam, en ek is besig om oud te word op my eie,” was haar reaksie.
Die twee het ’n diep gesprek oor die liefde gevoer, en toe Lizelle vir Rudi H vra of hy voel hy kan sy hart vir haar oopmaak, het hy “ja” gesê en bygevoeg dat daar reeds ’n paar boksies vir hom getiek is.
Alhoewel hy gevlei gevoel het toe hy besef dat Lizelle reeds sterk gevoelens koester, wou hy eers bietjie halt roep, want dis nog vroeg in die wedstryd. Maar as dit die regte gevoel is, hoekom nie?
Rudi H wou sommer gou-gou by Ella uitvind hoekom sy vir ingeskryf het. Haar reaksie daarop was dat dit presies dieselfde rede is as wat sy van die begin af met hom gedeel het – en dit is dat sy menswees haar aangetrek het.
“Ek is baie bang dat ek nie gaan voel wat ek dink ek moet voel nie, of hoe dit moet voel nie,” het Rudi H ná die tyd erken en gesê dis hoekom hy nog bietjie briek aandraai.

Rudi H se vriende en familie het sy twee gaste hartlik verwelkom by die braai.
“Al twee is ewe oulik. Al twee is spontaan, al twee kan ’n gesprek voer en hulself handhaaf,” was vriende Betsie en Bennie se mening. Neef Francois se vrou, Rachel, het weer gedink nie een van die twee is eintlik reg vir Rudi H nie, maar tog het sy vir Ella ’n kopknik van goedkeuring gegee.
Sy vriende Antoinette en Leon het gedink Lizelle is die een wat beter gaan aanpas in die omgewing en die afgesonderdheid, want dit is waar sy haar reeds bevind.
Sus Hannelé en neef Adriaan was volgende aan die beurt, en sy het hom beskryf as iemand wat sonder enige huiwering sal inspring om iemand te help.
Betsie het gesê Rudi H is ’n wonderlike en eerlike mens – en dis wat hy verwag van mense met wie hy omgaan. Bennie het hom as baie avontuurlik beskryf en ook as iemand wat goed sal wees vir ’n vrou.
Vir Adriaan het dit daaroor gegaan dat Rudi H iemand moet kry wat ook ’n maat vir hom sal wees en dat hy reg is daarvoor.
“Of die mense van hulle hou of nie, op die einde van die dag is dit my keuse, en ek moet besluit of dit reg is of nie reg is nie,” het Rudi H ferm gesê.
Maar Lizelle het erken sy voel ’n bietjie jaloers – want dit wou lyk asof Ella meer aandag as sy geniet het. Daar’s selfs ’n soen tussen Ella en Rudi gedeel.
Rudi (47), ’n toerisme- en wildboer van Beestekraal
Ná afloop van die dag waar die twee kuiergaste alleentyd met Rudi deurgebring het, was dit tyd vir ‘n swierige aand saam met Rudi se naastes.
Hannes het laat oor dat hy oortuig is dat Rudi reeds sy keuse gemaak het.
Buurvrou Mona en vriendin Annalie was duidelik daarop uit om Rudi se belange te beskerm. Mona het gehou van wat sy sien, maar was duidelik verlig dat sy nie die een was wat moes kies nie.
Sy peetkind, Brendon, en bure Frik en Charmaine het haar sentiment gedeel. Einste Frik was die ou wat saam met Rudi deur sy sakke en sakke vol briewe gelees het, en hy sê hulle was al twee in sy toptien gewees.
Vriende Ernst en Wesley het sommer met Hannes begin. “Hannes is baie sterk. Ek voel net hy wil ’n punt bewys in die sin van hy kom baie sterk voor. Rudi soek iemand wat ’n bietjie meer langs hom staan as hom aanvat of hom guide,” het Wesley gesê.
“Ek is glad nie beïndruk met Hannes nie,” het dit van sy vriendin Esmé gekom. Buurvrou Lindie het van Arnold gehou, maar het gevoel hy het nog baie om te leer.
Mona het ook gevoel dat Arnold beter by Rudi gaan pas. Maar Hannes het weer Frik en Charmaine se stem gekry.
Beide Lindie en Ernst se groot wens is dat Rudi ’n goeie pasmaat moet vind. Ernst het dit nog verder geneem deur te wens Rudi moet sommer nog vanjaar voor die kansel gaan staan.
Waar het Rudi homself bevind?
“My droom vir myself is om myself te kan wees en te kan weet dat ek steeds geliefd is en dat iemand tevrede is en saam met my wíl wees vir die mens wie ek is. Die lewe is so plasties. Ek wil nie agter ’n masker lewe nie, en ek wil ook nie hê my lewensmaat moet agter ’n masker leef nie”
Die reeks word oudergewoonte op Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
Lees ook: Maak dié maklike vakansiehappies saam met die kinders!











