Deur Renate Engelbrecht. Foto’s: Hanneri de Wet
Van Hermanus, Stilfontein tot Potchefstroom waar sy menslike bewegingskunde studeer het, en toe Maties waar sy haar hoëronderwysdiploma voltooi het, het Charlene McKenzie se lewenspaadjie haar vroeg reeds die land van hoek tot kant laat leer ken.
Sy het selfs drie jaar lank in Simonstad skoolgehou. Nadat sy en haar hoërskoolliefde, Brian McKenzie, getroud is, het hulle in Gqeberha gaan nesskop waar hulle die ou Frozen Yoghurt Parlour gekoop het.
“Reguit van die kansel af in die winkel in,” sê sy. “Geen wittebrood nie!” Hul volgende projek was die Steak & Ale in Bothalaan, Centurion, en dis uiteindelik hier waar Charlene se liefde vir kuns, kultuur en Afrikaans werklik vlam gevat het.
“Dit was in daardie stadium die tweede oudste kroeg in Centurion,” onthou Charlene. Dit was die begin van haar en Brian se droom om ’n platform vir alternatiewe Afrikaanse musiek te skep.
“Gian Groen het eendag gesê dis soos ’n spinnerak tussen die stasie en die taxi rank weggesteek,” kleur sy die prentjie in. Dit was in die tyd van die Voëlvry-beweging en Oppikoppi, en hulle het slegs oorspronklike musiek verwelkom.
“Die Anton Goosens van die wêreld, Valiant Swart, Gian Groen, Albert Frost, Karen Zoid … Van haar eerste optredes was daar by ons. Francois van Coke-hulle, Fokofpolisiekar, Lukraaketaar (wat nou Heuwels Fantasties is) en Klopjag. Al die Afrikaanse kunste, maar ook blues en jazz solank dit oorspronklik was,” sê Charlene.
Die oorhoofse fokus was op die oorspronklikheid van Afrikaans en die musikante wat die taal op die verhoog kon laat leef.
“Hulle sukkel maar daarbuite, jy weet. Jou oorspronklike liedjieskrywers. En dis tog waar die talent lê,” meen sy.
Só het Steak & Ale ’n gesogte kroegteater geword waar selfs gesoute skrywers soos Dana Snyman, Kabous Verwoerd en Gert Vlok Nel hulself kom tuismaak het. Behalwe vir ’n hawe het dit ook vir kunstenaars ’n trappie op die leer na sukses gebied. So ook (onwetend) vir Charlene en haar latere loopbaan in kaartjieverkope.

Entrepreneursgees en wilskrag
Tussen haar en haar man is Brian blykbaar die groter entrepreneur. “Ons ondersteun mekaar baie,” sê sy en met die wete dat baie vroue nooit so geleentheid kry nie, voeg sy dankbaar by: “Hy het vir my die vryheid gegee om te kan doen wat ek wil doen.”
Hul kinders moes maar by hul leefstyl aanpas, “maar dit het hulle sterk en innoverend gemaak en hulle is twee fantastiese kinders. Baie kreatief en ook baie ywerig.” Sy’s oortuig dat dié eienskappe aan haar en haar man se entrepreneursgees, maar ook die verskeie mense wat hulle help grootmaak het, te danke is.
Brian en Charlene was ses jaar lank saam in die Steak & Ale-onderneming betrokke. Daarna het Brian sy eie onderneming begin, terwyl Charlene vir nog tien jaar lank die teaterkroeg op haar eie bestuur het. “Daai ure is lank,” sê sy. “Dis 08:00 daar; 03:00 in die oggende is hulle uit. Dis eintlik crazy.”
Vandag is sy egter baie dankbaar vir die lesse wat dit haar geleer het. Hulle het, toe hul kinders onderskeidelik 9 en 14 jaar oud was, besluit om die onderneming te verkoop.
’n Middelman met ’n missie
Coenie Middel, die stigter van Tixsa, ’n innoverende kaartjieverkope-onderneming, het reeds voor Charlene die Steak & Ale verkoop het, haar gevra om by sy onderneming betrokke te raak. Hy het Tixsa begin met die droom om ’n middeweg vir kunstenaars te skep. Hoewel Charlene aanvanklik nie by hulle kon aansluit nie, het sy wel die waarde in Tixsa se kaartjiestelsel in gesien en dit self vir die vertonings by Steak & Ale gebruik.
“Ek was toevallig een van hul eerste kliënte,” vertel sy.
Toe Charlene Steak & Ale verkoop het, het sy besef dat sy steeds besig wou wees en het sy op ’n halfdagbasis by Tixsa begin. “Dit was maar meer vir verkope in daardie stadium, want ek het toe al die kontakte soos musikante, venues en teaters gehad, en ek is baie lief vir die bedryf. As dit in jou is, is dit in jou, jy weet – daai adrenalien.”
Dis met dié adrenalien, ’n passie vir die bedryf en ’n dryfkrag om haar drome na te streef, wat sy ook later by Michael Canfield die leisels as uitvoerende hoof van Tixsa oorgeneem het.

Egtheid en respek
Vir Charlene het die manier hoe sy binne die Tixsa-span verwelkom en hanteer is, en as vrou in die onderneming gerespekteer is, ’n groot rol gespeel.
“Dis moeilik om van jou onderneming af oor te gaan in ’n onderneming waar jy ewe skielik vir direkteure moet werk en jy nou vir die finansies en die groei van die onderneming verantwoordelik is. Ek wou dit op my manier doen en Coenie het my toegelaat,” sê sy.
“Hy het my vertrou om dit te vat en my eie te maak. Ja, vandag is ek ’n aandeelhouer, maar ek moes ook daarvoor werk. Dit het nie sommer net gekom nie. Hy het my ’n kans gegee en ek het die uitdaging aanvaar. Ek wou ’n sukses daarvan maak.”
Sy sê hoewel daar steeds baie uitdagings is, groei Tixsa daagliks. Vir haar lê die geheim daarin om stappie vir stappie, organies die regte paadjie (wat soms die moeilikste paadjie is) te stap en om ook soms maar weg te stap van sekere goed. “’n Mens moet eg wees met mense,” sê Charlene.

Dienslewering is die goue draad
Dienslewering lê haar ook na aan die hart en Charlene glo vas dat dit iets is waaraan ’n mens móét aandag gee. Dis ook iets wat Tixsa altyd anders probeer doen. Sy sê die kaartjieverkopebedryf is baie mededingend. “Pryse is laag, so jy moet volume doen.” Maar, dis duidelik dat dienslewering ’n onderneming soos Tixsa bo die res laat uitstaan.
Die ondersteuning wat ’n mens met kaartjieverkope bied, gee jou die geleentheid om goeie diens te lewer. Dis altemit ook die venster na die kliënt –die kaartjieverkoper – se onderneming. As ’n diensleweringsonderneming belowe Tixsa dat hulle die kliënt se kaartjies gaan verkoop, maar ook dat dit vir die koper ’n lekker ervaring sal wees. Hulle is die eerste kontak; deel van die kliënt se span. “Ons word ’n verlenging van die kliënt,” verduidelik Charlene.
Verder verduidelik sy dat hul stelsel baie interaktief is en dit hulle toelaat om anders te wees. “Jou stelsel moet werk,” sê sy.
Tixsa se stelsel is goed geïntegreer en gerieflik vir jong én ouer mense om te gebruik. Die feit dat dit ’n internasionale onderneming is (hul sustermaatskappy is in Washington DC geleë) beteken ook dat hulle addisionele ontwikkelingsondersteuning het, wat toelaat dat hulle groot vertonings en gebeure soos Trevor Noah se optredes en die onlangse Afrikaans 100 kan hanteer.
Tog kan ’n mens nie alles van die begin af reg doen nie. “’n Mens leer jou lesse in die proses. Omdat ek weet hoe vinnig ek mense van agter ’n toonbank kan bedien en kos- en drankie-bestellings kan neem, weet ek wat om van my kroegmanne te verwag.” Sy het geleer wanneer sy iets van haar span vra, sy moet weet dis moontlik. “Dan verwag jy nie die onmoontlike van jou mense nie en dis belangrik.”
Doelwitte, drome en ’n diepe liefde vir die kunste
Vir jare het Charlene en haar man hul afgesloof en vandag glo sy jy moet kan vloere vee en mop voordat jy kan leiding gee. Binne Tixsa se span is daar natuurlik titels, maar sy is nie bang om ook by die hekke te werk en in te spring waar sy moet nie. “Die span werk saam. Almal kan amper half alles doen … Maar daar is respek vir almal; almal word dieselfde hanteer,” sê sy, oortuig daarvan dat dit bepaal wat jy uit jou span kry.
“Ek het dit gesien met die restaurant en ek sien dit nou met Tixsa ook – jou span moet deel wees van jou droom; van jou visie en jou doelwitte, en hulle moet lief wees vir die maatskappy.”
Charlene kan nie uitgepraat raak oor haar span nie. “As hulle op terrein is en ek is nie daar nie, sal hulle die verantwoordelikheid aanvaar en dit hanteer. Jy kan nie sulke goed in ’n onderhoud vra nie. Dis maar iets wat jy in iemand se persoonlikheid raaksien (of nie), so ek was nog vreeslik gelukkig met dit.” Sy sê hulle sal die ekstra myl stap en dat dit op die ou end ’n groot verskil aan Tixsa se sukses maak. “Hulle is trots op wat hulle doen – dit is die groot ding.”
Dit help natuurlik ook dat almal by Tixsa ’n liefde vir kuns en kultuur het. “Ons gee om vir daai teateropvoering en die eienaar wat dit moet bestuur of die bestuurder van die restaurant of die organiseerder. Ek verstaan dit. Ek weet hoe om die musikant te help.”
Volgens haar gaan dit nie altyd net oor geld maak nie. “Natuurlik wil almal geld maak uit alles uit, maar dit gaan ook oor die feit dat jy op die einde van die dag ’n platform vir die kunste en kultuur skep. As jy nie ’n liefde vir daai tipe bedryf het nie, dan benader jy jou onderneming anders.” Tixsa benader hul onderneming vanuit ’n diep liefde vir die kunste.
Tixsa het in 2023 en 2024 die AAXO ROAR-toekenning vir uitnemendheid (Excellence Award) as samewerkende diensverskaffingsvennoot ontvang.


Louis Mclaren, uitvoerende vervaardiger
Kyk saam met ons:
rooi rose en ontbytSAKE op kykNET en kykNET&kie (kanale 144 en 145) fokus op ’n reeks – vrouesake.
Kyk Saterdae om 07:30 met sewe herhalings in die week.
Vir meer inligting, besoek gerus Ontbytsake se webtuiste.
