Deur Mariette Snyman
Wanneer Christel Sampson beskryf word as “’n dinamiese rolspeler in die mediabedryf – bekend vir haar dryfkrag, vasberadenheid en vermoë om deurlopend uitsonderlike resultate te lewer” is dit net die helfte van die waarheid. Sy’s ook toeganklik, belangstellend en opreg. Sy praat openhartig oor uitdagings soos ma-wees en ouers wat algaande meer steun nodig kry. Die hegte band tussen haar en haar matriekdogter, Jade, wat saamgekom het na ons onderhoud, is tasbaar. Christel het reeds talle posisies in die TV- en reklamebedryf beklee. Vandag is sy senior rekeningbestuurder: General Entertainment DStv Mediaverkope. Deur die jare was sy betrokke by van Wie word ’n miljoenêr en Koppestamp tot die Silwerskermfees. Sy lig die sluier oor wat agter die skerms gebeur en verduidelik hoe ingewikkeld dit is om ’n werklikheids- of ander reeks op die lug te kry. Glansryke eindprodukte word deur intensiewe navorsing, strategiese denke, finansiële oorwegings, doeltreffende kommunikasie en bloedsweet voorafgegaan.
“Ek’s ’n regte Vrystater,” sê Christel met ’n vonkel in die oog. “Ek het in Welkom gematrikuleer. Soos baie ander mense het ek in een rigting studeer en toe in ’n ander beland.”
’n Speletjie wat sy en haar pa tydens haar skooljare gespeel het, het haar belangstelling in die advertensiewese geprikkel. “Ons het graag saam TV gekyk. Wanneer ’n advertensie opkom, sou ons raai op watter produk dit fokus en kyk wie die meeste trefslae kry. Groot pret!
“Ek het besluit om grafiese kuns by AAA in Johannesburg te studeer. Dit was in 1990; loopbaangeleenthede was beperk. My jaargroep was van AAA se eerste studente.”
Loopbaangewys het Christel heel onder begin. “Ek het in die TV-bedryf beland toe ek ’n aanstelling as produksie-assistent by die SABC gekry het. Ek het baie bemarkingsmateriaal hanteer en nog met one inch tapes gewerk!
“Ek was by verskeie firmas, maar by die produksiemaatskappy Rapid Blue het ek die kans gekry om by M-Net se kindertelevisieprogram K-T.V. betrokke te raak. Die TV-bedryf het my getrek omdat ons mense se stories kan vertel. In 2003 is ek by M-Net Inhouse Productions aangestel.”

(Foto: Christoph Hoffmann)
Liefde, ’n dogtertjie en jong talent
Christel het by M-Net as produksiebestuurder gewerk en was saam met Gavin Wratten by Miss South Africa betrokke. baie opwindend!
“Dit baie opwindend!” vertel sy. “En daar ontmoet ek toe my man, Justin Sampson. Ek en Gavin het die Nokia Face of Africa hanteer en Justin moes die reeks kommersialiseer.
“Ons is aan die einde van 2005 getroud en twee jaar later is Jade gebore. Vanaf 2005 was ek by Magic Works, M-Net se interne produksie-eenheid, betrokke.
“In 2008 het ek die leisels as produksiehoof by M-Net se inhuis-produksiedepartement oorgeneem. Vroeër het ek meestal vryskutwerk gedoen; nou wou ek agterkom hoe ’n produksiemaatskappy funksioneer. Ek glo vas jy moet inisiatief neem in jou loopbaan – jy’s nooit te oud om te leer nie!
“Om meer en beter geleenthede vir mense te skep lê my na aan die hart. Saam met ons menslike hulpbronne-afdeling het ek ’n internskap-kurrikulum ontwikkel vir jong talent wat die uitsaaiwese betree. Hoewel ek lankal nie meer betrokke is nie, het ek hopelik ’n saadjie geplant. Van die mense wat ons destyds opgelei het, beklee nou nog goeie posisies by M-Net.” Van 2013 tot 2015 was Christel produksiehoof by kykNET.
Ouerskap en ’n veeleisende loopbaan
“Jade is ons enigste kind, en ek het haar later in my lewe gehad,” gesels Christel. “Maar ek moet erken: As ma kan jy onmoontlik 100% by die werk én tuis gee. Iewers ly iets skade.
“Toe Jade kleiner was, het ek die steun van wonderlike vroue gehad. In 2016 het ek egter besef die eise van die korporatiewe wêreld én om ’n laerskooldogtertjie se ma te wees kos fyn voetwerk. “Ek het besluit om ’n ruk lank rustiger te raak en meer op Jade te fokus. Ek wou ook weer eerstehands betrokke wees by produksiewerk en nie net korporatiewe besluite neem nie. Ek het uit my pos as vryskut bedank en by verskeie ontwikkelingsprojekte, insluitend Showmax, betrokke geraak.
“Ek kon Jade meestal ná skool gaan haal en haar netbalwedstryde bywoon. Hoewel ek minder geld verdien het, was dit wonderlik.”
In 2019 het Christel die geleentheid gekry om die projekbestuur van die Silwerskermfees te behartig. Dit het sy drie jaar lank gedoen.
“Watter leerkurwe – veral toe die Covid-pandemie ons in 2020 tref. Jade was in graad 7 en moes aanlyn begin skoolgaan. Terselfdertyd moes ons die Silwerskermfees van ’n on-the-ground event na ’n webinaar met internasionale sprekers omskakel.
“Om ’n doeltreffende aanlyn platform te skep en seker te maak die inhoud word nie geroof nie, was ’n formidabele uitdaging. Ek het nou met Red Pepper Produksies en ander rolspelers saamgewerk. Dit was ’n reusesukses. Dis ook hoe die Silwerskermfees-webtuiste ontstaan het.
“In 2022 was die fees deels aanlyn en deels ’n lewendige bedryfsgeleentheid, met streng Covid-reëls in plek. Die publiek is nie op die terrein toegelaat nie. Ek is dankbaar alles kon sedertdien weer na normaal terugkeer – die fees skep ongelooflike werksgeleenthede vir jong rolprentmakers.” Christel was ook drie maande lank ’n opdraggewende redakteur (commissioning editor): “Toesigvervaardigers sien toe dat ’n idee vir byvoorbeeld ’n reeks vir dié spesifieke kanaal werk. Ek was betrokke by werklikheids- en leefstylinhoud en moes met die kommersiële departement saamwerk om borge te kry. Kort tevore het ek verdere opleiding in projekbestuur en digitale bemarking by die Universiteit van Kaapstad voltooi, en nou was ek vuur en vlam om meer oor die kommersialisering van inhoud te leer.”
Intussen het Christel as uitvoerende vervaardiger/projekbestuurder die kykNet Soveel meer as net TV-bemarkingsveldtog gelei, wat met ’n GOLD Promax-toekenning bekroon is.
’n Vars uitdaging
Christel het op 52 besluit om na die korporatiewe wêreld terug te keer.
“Dit bly maar ’n storie vir vryskutte om die pot aan die kook te hou. Die vraag was: Sou ek weer ’n vaste aanstelling kon kry?” Die antwoord was ja!”
Christel is sedert 2023 die senior rekeningbestuurder van algemene vermaak DStv Mediaverkope. Haar rol is om sekere inhoud op Afrikaanse kanale, VIA uitgesluit, te help kommersialiseer. Hulle raak in die konsepfase by programme betrokke en moet borge aan boord kry.
“Ons werk in tandem met die inhoudspan en vervaardiger. Dis ’n fyn kuns om reg aan al die rolspelers te laat geskied: Die program moet die kanaal pas en die teikengehoor interesseer. Terselfdertyd moet die borge waarde vir hul geld kry sonder dat kykers voel die program is een lang advertensie.
“Daar is baie dinge wat kan skeefloop: Jy moet seker maak die verskillende rolspelers is op dieselfde bladsy en dat die inhoud, kunstenaars én borge beskerm word. Borgskap is meer kompleks as wat dit mag lyk. Jy moet die borg se identiteit, strategie en brand messaging verstaan en op ’n natuurlike wyse akkommodeer. Dis stimulerende, skeppende werk, maar jy’s net so goed soos jou laaste projek …”
Kyk Christel graag TV? “O ja! Ek kyk na alles. Ek kyk op Showmax, Netflix, Disney+, Prime en YouTube om te sien hoe inhoud en handelsmerke geïntegreer word. Ek glo jy moet altyd een stappie voor wees en met nuwe trends probeer byhou.
“Ja, dis tydrowend – soms kyk ek net na die hooftrekke, maar ek het my gunstelingprogramme. Ek hou veral van ware misdaadprogramme, soos Niggies, wat op Odendaalsrus afspeel waar ek gebore is. En van werklikheidsreekse soos Klein Paradys.”
Op die vraag oor wat Christel se sterkste eienskappe is en hoe sy sukses definieer, antwoord sy: “Ek is gefokus. Gee jy vir my iets om te doen, maak ek seker ek lewer goeie resultate. Ek is baie gedetermineerd, en ek luister. Min mense luister werklik. Verder is ek ’n spanspeler. Ek glo jy is net so sterk soos die mense wat langs jou staan en dat dit die beste is om sáám te wen.
“Vir my is sukses nie om die volgende CEO te wees nie. Dis om saans my oë te kan toemaak en lekker te slaap met die wete dat ek my familie om my het en dat my kind gesond en gelukkig is. “My geloof is vir my geweldig belangrik. Dit gee die deurslag in my lewe.”

(Foto: Christoph Hoffmann)
Na aan Christel se hart
- Justin is gek na die Krugerwildtuin – ons gaan soontoe om te ontlaai. En ons is lief vir fliek.
- Ek en Jade hou daarvan om ons naels te laat versorg. Ons vaar saam die winkels in, veral klerewinkels. Ons gaan stap met die honde en doen joga. Op 53 probeer ek net my tone raak!
- My ouers woon nou in Johannesburg. My pa het demensie. Ek het soveel deernis vir mense wat hiermee te make het.
- As jy nie vir jouself stiltetyd inruim of ’n geleentheid skep om asem te haal nie, kan die lewe jou oorweldig. You need glimpses of happiness, which you create yourself.
Christel se wenke vir jongmense wat in die TV-bedryf belangstel
- Daar is geen maklike manier om ’n beroep in ons bedryf te verseker of sukses te waarborg nie. Instellings soos AFDA en Open Window lê ’n stewige grondslag, veral wat die tegniese sy betref.
- Jy moet entoesiasties wees oor die bedryf en die skep van inhoud. Jy moet goed kan skryf en verskillende genres leer ken sodat jy weet watter soort stories jy vir watter teikenmarkte kan vertel.
- Jy moet doelgerig wees – sien jy jouself as ’n vervaardiger, ’n regisseur of in ’n ander rol?
- Jy moet oor ’n can do-houding en ondernemingsgees beskik.
- Ek glo jy kan enigiets bereik mits jy jou regtig daarop toespits.


Louis Mclaren, uitvoerende vervaardiger
Kyk saam met ons:
rooi rose en ontbytSAKE op kykNET en kykNET&kie (kanale 144 en 145) fokus op ’n reeks – vrouesake.
Kyk Saterdae om 07:30 met sewe herhalings in die week.
Vir meer inligting, besoek gerus Ontbytsake se webtuiste.
Lees ook: Lourensa Eckard bring hulde aan huishulp in kortfilm
