kategorieë: Leef gesondGesondheid

Denke + leefstyl = immuniteit

Denke + leefstyl = immuniteit deur Salomé Delport

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Jou immuunstelsel is ’n wonder(like)stuk werk. Fassinerend en kompleks en slím. Ons weet sy het ’n geheue wat keer dat jy dieselfde siekte weer kry. Sy het ’n ingeboude intelligensie met die vermoë om duisende verskillende indringers foutloos te identifiseer, en sy pas hierdie inligting akkuraat toe om die beste verdedigingsplanne te kies om jou te beskerm. By sommige van ons werk sy selfs té fluks …

Een ding is seker: hoe beter sy werk, hoe beter vir jou. Gelukkig is daar baie – en lekker – maniere om haar tiptop te hou. Deesdae vermoed navorsers dat jy ook jou persoonlikheidseienskappe kan inspan om jou immuniteit sterk te maak.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Maar kan jy jou gesond lag?

“Dink net positief, en jy sal gesond bly.” Dié ou raat word alte graag uitgedeel – met die onverdiende implikasie dat jy so ’n ou papperd is dat jy jou siek gedink het.

Natuurlik is dit nie so eenvoudig dat geluk en stres aan gesondheid en siekte gekoppel kan word nie. Dit is wetenskaplik onverantwoordbaar, sê dr. Fulvio D’Acquisito van die Queen Mary-universiteit in Londen. Anders sou ons almal kanker en asma en die jeuk van ’n muskietbyt kon weglag.

Lees ook: Lag ’n slag – dis goed vir jou!

Maar daar steek tog iets in, glo hy. Sy spesialisgebied is affektiewe (wat op jou gemoed dui) immunologie. Dit steun op twee beginsels:

  • Jou immuunstelsel en jou gemoed is spieëlbeelde van mekaar.
  • Jou gemoed/emosies en immuniteit verander voortdurend. As spieëlbeelde verander hulle mekaar ook oor en weer. Met ander woorde, val jou gemoed, verswak jou immuniteit, of as jou immuniteit sterker word, verbeter jou gemoed, en andersom.

Een fassinerende voorbeeld van hierdie interaksie tussen jou gemoed en jou immuunstelsel is die vlak van jou C-reaktiewe proteïen (CRP).

Jou dokter toets joune waarskynlik elke jaar saam met jou cholesteroltoetsing. ’n Hoër CRP-vlak dui op inflammasie, een van die response van jou immuunstelsel. As jou CRP-vlak verhoog is en jy sit met ’n hoë cholesteroltelling, lees jou dokter dit as ’n teken van inflammasie in jou hartslagare. Hy lei daaruit af dat jou risiko op hartvatsiektes groot is en behandel jou daarvoor.

Mense se CRP-vlak het ’n ander verrassende verwantskap: mense met depressie en panieksteurings het ook tipies hoër CRP-vlakke.

Dus: dieselfde meetbare merker van ’n geaktiveerde immuunstelsel – inflammasie in hierdie geval – is ook ’n merker van ongesondheid van die gemoed.

Daarby is dit ’n goed gevestigde feit dat mense met hartsiektes meer geneig is tot depressie, en dat mense wat lewenslank met depressie sukkel ook meer geneig is tot hartsiektes later in hul lewe – weer eens ’n immuun-gemoed interaksie, verduidelik dr. D’Acquisito.

Lees ook: 5 vroeë simptome van motorneuronsiekte wat jy moet ken

Maar jý verander jou immuniteit

Die interaksie gaan selfs verder: sekere persoonlikheidseienskappe word óók direk aan CRP-vlakke gekoppel. Dr. Susanne Henningsson van die Gotenburg-universiteit in Swede het spesifiek gaan kyk of mense met bepaalde persoonlikheidseienskappe ook hoër CRP-vlakke het.

Sy het 168 vroue geëvalueer op grond van hul temperament-en-karakter-inventaris (TCI). Dis ’n stelsel wat wyd gebruik word om te skat in watter mate jy oor die persoonlikheidseienskappe beskik wat jou ’n gelukkige en suksesvolle mens maak. TCI kyk na jou behoefte aan stimulasie, asook die neiging tot kommer en vrees vir gevaar, behoefte aan beloning, deursettingsvermoë, probleemoplossingsvernuf, selfregulering, vermoë om sosiaal te integreer, kreatiewe denke en vermoë om die eie ek te oorkom.

En sowaar, twee van die TCI-eienskappe korreleer met CRP-vlakke en by implikasie met jou immuunstelsel.
Sy het bevind dat vroue wat meer neig na kommer, onseker is, sekuriteit nodig het, skaam is en gou moed opgee, beduidend meer dikwels hoër CRP-vlakke het. Mense met hierdie eienskappe is ook meer geneig tot depressie.

Aan die ander kant het die vroue wat hulself beter kon reguleer (danksy eienskappe soos verantwoordelikheidsin, doelgerigtheid, vindingrykheid, selfaanvaarding en ’n gesonde selfsin) beduidend laer CRP-vlakke gehad.

Daar is nie ruimte om op al die ondersoeke in te gaan nie maar die geneigdheid tot woede en ’n algemeen vyandige houding, word ook aan hoër CRP-vlakke gekoppel. So ook uitbranding. Een ondersoek het asma gekoppel aan ’n gebrek aan die TCI-eienskap van deursettingsvermoë, wat op die TCI-stelsel verder verwys na fluksheid, vasbyt en gedrewenheid.

Dr. Steve Cole van UCLA het selfs bevind dat ons sóórt geluk ’n verskil maak aan hoe ons gene uitgedruk word. Gestel jy is geneties vatbaar vir allergie. Mense wat geluk op voorspoed grond, is méér geneig tot asma as mense wat hul geluk op ’n lewe van deugsaamheid grond, soos Moeder Teresa.

Inflammasie word terselfdertyd beskou as die sneller van die meeste fisieke siekte-toestande, soos allergieë, ekseem, hooikoors, Crohn se siekte, hoë bloeddruk, diabetes, lupus, rumatoïede artritis, fibromialgie en kankers. Dit word ook gesien as die grondoorsaak van veroudering: hoe laer jou vlakke van inflammasie, hoe langer bly jy jonk.

Denke en leefstyl

Maar wat is eerste: die gemoedstoestand (soos onsekerheid en selfs depressie) of die inflammasie weens skade iewers in jou liggaam, soos gesien aan die hoër CRP-vlakke?

Veroorsaak jou stres die inflammasie wat tipies by hartsiektes gesien word, of is inflammasie die reaksie van jou liggaam op skade aan jou hartslagare (byvoorbeeld weens jou dieet)?

Navorsers soos drs. Henningsson en D’Acquisito vermoed dit werk na albei kante toe. Emosie sowel as fisieke skade veroorsaak inflammasie.

Die belangrike is dat ons albei vertrekpunte moet en kan gebruik om ons vlakke van inflammasie laag te hou en ons immuunstelsel te optimaliseer.

Lees ook: 5 maniere om jou depressie te bekamp

Jy kán jou pyn verwerk

Die soort denke wat jou gesonder hou

Jy weet vir seker wat die gesonde leefstyl behels waardeur jy jou op ’n fisieke vlak oppas – gesonde eetgewoontes, oefening, genoeg slaap, geen rook en min drank.

Nou vir die ander helfte: hoe kan ons inflammasie verminder deur ons emosies te bestuur? Dr. D’Acquisito noem ’n hele reeks dinge wat verskillende ondersoeke al opgelewer het:

  • Ontwikkel jouself Kyk weer na die TCI-lys van eienskappe. Elkeen is aanleerbare gedrag. ’n Lewe met doel, sin, dissipline, deurdruk, omgee vir ander, selfhandhawing sonder egoïsme en ’n goeie skeut stimulasie maak jou nie net gelukkig en suksesvol nie maar gesonder. Noem dit wat jy wil: karakter, ’n gesonde gees, ’n lewe wat op waardes gegrond is … jou ingesteldheid tot die lewe beïnvloed jou gesondheid.
  • Lag Dit verbeter die werking van jou NK-selle (immuunselle wat kankerselle vernietig).
  • Opbouende emosionele ervarings ’n Emosioneel roerende fliek met jou gunsteling-akteur in die hoofrol, versterk jou NK-selle op dieselfde wyse. Vermoedelik sal enige kontak, situasie of aktiwiteit wat positiewe emosies ontlok, op dieselfde wyse help.
  • Mediteer Mense wat daagliks mediteer en ervaar dat dit hulle emosioneel beter laat funksioneer, het NK-selle wat dodeliker is as dié van mense wat nie mediteer nie, of voel dat hulle nie by meditasie baat vind nie.

Lees ook: Sing, draf of kook saam met ander!

Die leefstyl wat immuniteit bou

Jy kan jouself nie net gesond dínk nie. Jou leefstyl is net so belangrik. Daardie bietjie oefening wat jy doen, tél.
Die volgende sal ook jou immuunstelsel ondersteun:

  • Waardeer jou hormone Ons vroue-hormone prikkel sowaar die immuunstelsel om doeltreffender te werk.
  • Kom in die son Wat ’n lekker manier om jou immuniteit op te kikker, veral vir kinders en almal bo vyftig. Vitamien D, wat ontwikkel as jy so twintig minute se sonlig op jou vel kry, help onder meer outo-immuunsiektes voorkom, soos kinderdiabetes en rumatoïede artritis.
  • Droomslaap Jou REM- of droomslaapfase gee veral die selle wat jou teen kanker beskerm, kans om te werk.
  • Slaap diep Dit help jou liggaam herstel.
  • Gebruik probiotika Hierdie aanvullers moduleer die immuniteit van jou spysverteringstelsel. Gebruik ’n aanvuller, hoewel jou liggaam sorg vir genoeg probiotiese organismes as jy jogurt en groente eet en suiker beperk.
  • Bly skraal Ekstra vetjies tel nie net teen jou knieë en heupe nie maar dit ooraktiveer ook jou immuunstelsel en maak jou meer geneig tot outo-immuunsiektes.
  • Was jou hande Ons hande dra van oral af kieme na ons persoonlike ruimte aan, insluitende jou oë, mond en vel. Met goeie higiëne keer jy onnodige blootstelling aan kieme. Was jou hande voor jy eet. Was jou hande wanneer jy tuiskom.
  • Druk die sigarette dood Alle vorms van rook affekteer die slymvliese en voorkom dat hierdie eerste grens teen kieme doeltreffend werk.

Lees ook: Die 5 inentings wat jy as volwassene moet kry

Eet lekker!

Dit is goed vir jou immuniteit
Goeie voeding is die basis van ’n sterk immuniteit wat verkoues afweer, kankerselle doodmaak nog voor hulle skade begin doen en alles tussenin. Dit beteken nie vervelige vaal kos nie. Gesonde kos is lekker ook.

  • Hoenderboudjies en omelet Proteïene bou jou slym-vliese, T-selle en timusklier. Dus is eiers en álle soort vleis en vis goed vir jou immuniteit.
  • Sardientjietert Salm is lekker maar peperduur terwyl sardiens en makriel net so goed is. Die omega-3’s in die vetterige kouewatervisse is noodsaaklik vir jou immuunstelsel. Jy kan ook omega-3-aanvullers gebruik.
  • Olyfolie op jou slaai en groente Nog ’n bron van omega-3’s.
  • Neute vir snoepkos ’n Maklik beskikbare bron van omegas en proteïene wat jou immuunstelsel sal bou, al is dit voor die TV.
  • Botter op jou broodjie Botter bevat CLA, wat jou help om teenliggaampies te bou.
  • Patats Die vitamien A daarin help jou NK- (natural killer) selle, wat jou teen kankers beskerm. Volgraanbrood en aartappels tel ook.
  • Lewerpatee Ook vir vitamien A.

  • Lemoene in die winter, aarbeie in die lente en vrugte in die somer Jou witbloedselle het vitamien C nodig, waarvan die vrugte wat nou in seisoen is, die beste bronne daarvan is. Of drink ’n vitamien C-aanvuller.
  • Avokado en tuisgemaakte guacamole Vitamien E bou jou vermoë om teenliggaampies te maak. Ander bronne daarvan sluit in vitamien E-aanvullers, asook ander olie-ryke kosse, soos neute en grondboontjiebotter.
  • Piesangs Die vitamien B6 daarin beveg oormatige inflammasie.
  • Aartappels Ook ’n bron van B6. Plantbronne is meer stabiel as dierebronne.
  • Hoemoes ’n Minder bekende bron van B6. Sommige van die kitspappe op die rakke is ook met B6 verryk.
  • Biefstuk en skaaptjoppies Die spierweefsel van vleis, soos in bief en hoenderdye en –boudjies, bevat vitamien B12 wat jou NK-selle beter laat werk.
  • Seldery en mosterd Albei bevat sink, wat inflammasie en oksidatiewe stres in bedwang hou. ’n Sinktekort is baie algemeen by mense bo vyftig. Daarby stoor jou liggaam nie sink nie. Jy moet voortdurend sink inkry. Daar is ook sink in kaas, melk en volgraanbrood.
  • Lensiesop Lensies, rooivleis, hoender, vis en spinasie bou jou ysterstore. Mense met te min yster is baie vatbaarder vir infeksies.
  • Sit kruie by Die navorsing oor die vermoë van kruie om jou immuunstelsel optimaal te laat werk is verstommend en veels te veel om op te noem. Die maklikste manier is om met elke ete maniere te soek om kruie en speserye by te voeg – pietersielie, tiemie, roosmaryn en uie by jou slaaie en vleis, kaneel by talle groentes, kerrie en bredies, gemmer by jou tee, borrie by jou tamaties en eiers … kook ’n kruiestorm los!

Lees ook: Maak kragsop om jou immuunstelsel te versterk

Deel
Gepubliseer deur
Anelle Tewson

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

3 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

3 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

3 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

4 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

4 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

4 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.