Die gewilde Afrikaanse sanger Willem Botha is terug met ’n splinternuwe enkelsnit, Hallo My Hart – ’n eerlike en emosioneel gelaaide lied wat die luisteraar diep in die wêreld van verlange, herinneringe en tweede kanse intrek.
Die lied is deur Botha self geskryf en meesterlik vervaardig deur Franja du Plessis, met kenmerkende kitaarwerk deur Juan Floors Oosthuizen wat ’n warm en nostalgiese klank aan die produksie gee.

Volgens Botha het die lied oor tyd ontwikkel tot iets besonders: “Hierdie hele projek was van begin tot einde net ongelooflik gewees. Musiek maak is steeds een van my grootste liefdes. Ek loop al met meer as ’n jaar lank rond met die konsep en idee van Hallo My Hart. En om nou terug te luister na al my stem notas tot die finale produksie is so lekker. Dit was ook lekker om soveel aande saam met Franja te kon werk in die studio. Hierdie jaar is dit 20 jaar sedert ek deel geneem het aan die eerste Afrikaanse Idols. Dis ’n voorreg om na soveel jaar nogsteeds musiek te kan maak.”
Met lirieke soos: “Hallo my hart / Ek kan onthou hoe hard / Jy my lief het” raak die lied aan temas van verlore liefde, selfontdekking en die moed om weer oop te maak vir iemand wat eens alles was.
Hallo My Hart vertel die storie van twee mense wat mekaar weer ontmoet ná tyd en afstand – waar ou wonde en nuwe hoop mekaar kruis. Die eerlike vertelling, gekombineer met Botha se kenmerkende stem en emosionele aflewering, maak hierdie enkelsnit onmiddellik herkenbaar en relevant vir enigiemand wat al liefde verloor en weer gevind het.
Hierdie vrystelling val ook saam met ’n belangrike mylpaal in Botha se loopbaan – 20 jaar sedert sy deelname aan die eerste Afrikaanse Idols, wat sy pad in die musiekbedryf afgeskop het. Hallo My Hart dien as ’n bewys van sy groei as kunstenaar en sy volgehoue passie vir musiek.
Die enkelsnit is nou beskikbaar op alle digitale platforms.
Lees ook: Kinders moet van kleins af by klassieke musiek betrek word
