Die dokumentêre reeks, Lamb Champs, keer terug vir ’n tweede seisoen op kykNET (DStv-kanaal 144) vanaf Woensdag 10 Junie om 20:00. Hierdie vyf-episode reeks, getiteld Lamb Champs: Die Kuns van Skaapboerdery, plaas ’n kollig op die mense agter Suid-Afrika se skaapboerdery, die families, stories en opofferings wat die bedryf dryf.
Seisoen 2 van Lamb Champs: Die Kuns van Skaapboerdery bou voort op die sukses van die eerste reeks, maar verhoog die omvang, diepte en intensiteit van die kompetisie soos nog nooit tevore nie. Vir die eerste keer reis Lamb Champs na die Boland, waar die streek se unieke skaapboerdery-erfenis en wynlandskap ’n nuwe dimensie aan die reeks toevoeg. Die seisoen bring ook meer kenners en bedryfspesialiste bymekaar om kykers groter insig te gee in die wetenskap, strategie en uitdagings van moderne skaapboerdery — van genetika en voeding tot volhoubaarheid, gehalte en produksiebestuur.
Hierdie seisoen fokus nie net op wie die beste lam produseer nie, maar op die mense en waardes agter die bedryf. Lamb Champs wys hoe tradisie en innovasie hand aan hand loop, van genetika en tegnologie tot volhoubaarheid en aanpasbaarheid, terwyl boere daagliks uitdagings trotseer om ’n produk van wêreldgehalte te lewer. Die reeks vier die trots van Suid-Afrikaanse familieboerdery en gee kykers ’n eerlike blik op die harde werk, karakter en toewyding wat nodig is om die kuns van skaapboerdery te bemeester.
“Lamb Champs gaan oor meer as net die lekkerste lam – dit gaan oor die mense, die stories en die ongelooflike deursettingsvermoë agter elke boerdery,” sê die regisseur, Morné du Toit. “Hierdie seisoen wys hoe kompleks en kunsgerig moderne skaapboerdery werklik is.”

Van die plaas tot die finale stryd
Die reeks volg die pad van passievolle boere soos Sybrand Venter, JP Nel, Hennie Jonker en Louis Botha, wie se uiteenlopende benaderings tot skaapboerdery ,van intensiewe praktyke tot die fyn kuns van stoetbou, die ruggraat van die seisoen vorm.
Nóg ’n eerste vir die reeks is die streekwenners wat uiteindelik teen mekaar kompeteer in ’n nasionale eindstryd om gekroon te word as die kampioen van Suid-Afrika se beste lam. Die finale beoordeling is meer kompleks en omvattend as ooit tevore, met streng kriteria wat nie net smaak beoordeel nie, maar ook “op die hoef”, “op die haak” en laboratoriumontledings insluit. Hierdie nuwe formaat verhoog die spanning en plaas elke deelnemer se vernuf, konsekwentheid en vermoë om onder druk uitnemendheid te lewer onder die vergrootglas.
Vervaardiger Leonie Fourie voeg by: “Kykers kan uitsien na ’n seisoen gevul met pragtige en aangrypende stories wat diep uit die hart van die plaas kom. Hierdie boere doen meer as om bloot die land te bewerk; hulle deel die passie en deursettingsvermoë agter die ware kuns van skaapboerdery.”
Uiteindelik lewer Lamb Champs nie net ’n wenner op nie, maar vier dit die boere wat geleer het om hul plek in die bedryf met selfvertroue op te eis.
Saai, stigter van Lamb Champs, voel dat die nuwe seisoen kykers die geleentheid om die mense, plase en streke agter daardie gehalte beter te leer ken. “Lamb Champs wys vir Suid-Afrika dat uitstekende lamsvleis nie toevallig ontstaan nie, dit begin by familieboere wat met kennis, dissipline en trots produseer,” sê Francois Rossouw, Hoof Uitvoerende Beampte van Saai. “Vir Saai is dit belangrik, want Lamb Champs gaan nie net oor wie die lekkerste lam produseer nie; dit gaan daaroor om familieboere ’n geloofwaardige platform te gee, die waardeketting te verkort, en verbruikers weer met die oorsprong van hul kos te verbind. Wanneer mense die stories agter die produk verstaan, bou ons nie net aan ’n sterker handelsmerk vir lamsvleis nie, maar ook aan groter waardering en beter geleenthede vir Suid-Afrika se familieboere.”
Pick n Pay, hoofborg van Lamb Champs vir die afgelope drie jaar, ondersteun die reeks as deel van sy voortdurende fokus om Suid-Afrikaanse familieboere te ondersteun en die stories agter plaaslike voedselproduksie met verbruikers te deel. Lamb Champs-lamsvleis sal vanaf einde Mei in alle korporatiewe Pick n Pay-winkels landswyd beskikbaar wees.
Toyota, ook reeds vir drie jaar ’n trotse vennoot van Lamb Champs, deel Saai se verbintenis tot volhoubare familieboerdery en ondersteun die boere en gemeenskappe wat die hart van Suid-Afrika se skaapbedryf vorm.
KYK | Amptelike voorskou: Lamb Champs
Lamb Champs word vanaf Woensdag 10 Junie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dit sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Lees ook: Diepe Waters se Xander Venter oor die verhouding wat kykers warm onder die kraag het
