My baas is meestal ’n genadelose slawedrywer wat glo dit is ongesond om iets nie minstens ’n dag of twee voor ’n spertyd te voltooi nie. Sy is ’n elf en ’n driekwart op die pyn-in-die-jis perfeksionisskaal van een tot tien.
Sy kan soms ’n regte ou koeikop wees.
Maar, ek verstaan darem meestal hoe haar kop werk. Want, sien, ek kom al so agt-en-dertig en ’n half jaar met haar aan. Mens kan as’t ware sê ons deel dieselfde geite.
Die voordeel daarvan om vir jouself te werk – dis nou werk buiten die algehele afsloof om huis en haard skoon en gevoed en aan die gang en betyds op dertig plekke daagliks te hê – is dat jy jou eie werksetiek kan hê en slegs aan jouself en jou kliënte verantwoording moet doen oor die werk wat jy lewer.
As mens ’n vryskutwerk het, is jy ook meestal vry om jou tyd en werkstempo te bepaal. In teorie.
Want, dit gebeur meer dan as wan dat ’n kliënt op die nippertjie onthou dat hy jou dienste benodig. En, as mens nou al ’n pad met die betrokke kliënt gestap het, stap jy mos maar die ekstra myl. Al beteken daardie myl dat mens ’n langverwagte Sondagaandfliek voor die kaggel opgee om gou vir iemand iets te vertaal of taalversorg voor die aanvang van sy werkweek.
Ek moes al dikwels soggens nog voor my bakkie muesli eers ’n pamflet of dokument vertaal. Want, as dit pap reën, moet jy skep.
As vryskut is jy nie verseker van die volgende reënbui of pap nie.
Die voordeel van ’n tuiskantoor is dat jy slegs die tye wat jy werk, die SOS-beginsel (stert-op-stoel) hoef na te kom. Niemand kyk jou skeef aan as jy kort-kort ’n koffiebreek neem nie.
Die nadeel is natuurlik dat jy self vir jou moet gaan koffie maak.
Maar, jy weet presies waar in die kombuiskas die Romany Creams weggesteek is.
’n Verdere voordeel van ’n vryskut se tuiskantoor, is dat daar nie kantoorpolitiek is nie. Jy hoef nie lig te loop vir jou vrouekollegas se PMS en geskinner of jou manlike kollegas se chauvinisme of brose ego’s nie. Jy is aan niemand anders se buie blootgestel as jou eie nie. Wat natuurlik soms self ’n handvol kan wees.
Na ’n naweek van uiteet en jollifikasie, hoef jy jou ook nie te steur aan ’n vermakerige werkpakkie wat skielik knap sit nie. Jy kan bloot die werkweek aanpak in jou getroue en vergewensgesinde ou sweetpakbroek. En pantoffels. Met ’n kniekombersie teen die herfsbyt in die lug.
Soms vra mense my: Maar, raak jy nie alleen so op jou eie sonder geselskap nie?
As dit nie was dat hulle reeds gedink het ek is ’n bietjie weird nie, sou ek hulle kon antwoord: Wie sê ek is alleen en het nie geselskap nie? Hier is baie stemme in my kop.
Maar, meestal volstaan ek met: Nee, wat, ons introverte het nie ’n probleem met alleen wees nie. Ons kan alleen wees sonder om eensaam te wees. En, vir geselskap is daar altyd Facebook!
Soms sien ek wel die “Ag sjym, sy het net kubervrinne…” in hulle oë, maar selfs dít is myns insiens ’n groot pluspunt – as iemand jou irriteer, kan jy bloot uitlog in plaas daarvan om uit te klok. Dan kan jy in vrede verder werk.
Wanneer ek wel die dag lus is vir mense rondom my en ’n dringende werkie het om af te handel, neem ek graag my skootrekenaar op ’n koffiedate na my gunsteling koffiewinkel.
Die bank naby die muurprop is gerieflik en dit bied ’n 180 grade uitsig oor die doene en late in die winkelsentrum. Boonop is die pryse baie billik, die diens is altyd vriendelik en die eienaars is van daardie soort mense wat mens altyd met ’n glimlag laat na ’n geselsie.
Ek het al dikwels op hierdie einste bank sonder ’n greintjie inspirasie kom sit, maar na die tweede koppie boeretroos en ’n geselsie met Wikus en Engela, het die woorde skielik uit my skootrekenaar se sleutelbord gevloei.
Ek beskou my koffiewinkelbank as my tuiskantoor weg van my huis se kantoor. Dit sal ’n treurige dag wees as daardie bank nie meer daar is om my – met of sonder my skootrekenaar- te verwelkom nie. Ons is al jare kollegas.