Lees saam met jou kind op Wêreld Kinderboekdag deur Mariette Snyman, verwerk deur Martie Pansegrouw. Hooffoto: iStock/Kerkez
Lees vir ons ’n storie!
In ons besige wêreld bly rustige saamweestydjies dikwels in die slag. Ouers moet skarrel om by te hou met werk, hul kinders se bedrywighede en behoeftes, sosiale aktiwiteite, en ‘n magdom ander eise. Soms wil hulle net ‘n rukkie sit en hul asem terugkry.
Met die inperking is daar nou nog nuwe uitdagings vir ouers – om te werk, hulle kinders besig te hou, om vir die toekoms te beplan en om seker te maak almal bly gesond.
Die goeie nuus is dat die voorlees van ‘n storie vir jong kinders vir hulle én vir jou lekker kan wees. Dit bind julle saam en dit hou groot voordele vir kinders se intellektuele en skolastiese ontwikkeling in. Daarby maak die identifikasie met karakters en situasies hulle emosioneel slimmer – veral as jy tussendeur met hulle oor die storie gesels. En as jy styf teen jou kind sit, skei julle albei sommer ekstra goedvoelhormone af.
Gebruik hierdie inperkingstyd om ’n gewoonte te maak van saam lees.
Lees ook: Jy kan jou kinders aan die lees kry
Hoekom is dit belangrik tyd vir lees te maak?
- ‘n Opname deur die South African Book Development Council wys dat slegs 35% van alle volwassenes met kinders in die huis vir hulle voorlees.
- Terselfdertyd wys ʼn 2016 Progress in International Reading Literacy-studiestuk wat op leesbegrip gefokus het dat 78% van alle Suid-Afrikaanse graad 4-leerders nie doeltreffend vir betekenis kan lees nie.
- Geletterdheidsvaardighede is ʼn sterk voorspeller van kinders se akademiese sukses in alle vakke; kinders wat gereeld stories lees en hoor waarvan hulle hou – in tale wat hulle verstaan – is beter toegerus en gemotiveer om te leer lees en skryf.
- Onlangse navorsingstudies en opvoedkundekenners is besig om te bewys dat papier meer voordele vir leerders inhou as digitale toestelle, veral wat lees en begrip betref.
Lees ook: Help jou kind se leesvaardighede aan
Dis maklik om tyd vir stories te maak!
Hier is vyf eenvoudige dinge wat jy kan doen om seker te maak dat storietyd meer gereeld gebeur
- Skakel alles af en maak tyd om te lees
Skakel jou selfoon af en lees 15 tot 20 minute vir jou kind (klein of groot) voor. Jy is nooit te oud om dit te geniet wanneer iemand vir jou voorlees nie. Ouer kinders kan selfs vir jou voorlees!
- Kies saam ’n storie
Soek die storie saam uit, op julle eie boekrak of in die biblioteek. Jy kan ook ʼn boekeruil met vriende organiseer.
#rrWenk: Dis moeilik om boeke te bekom tydens die inperking. Loer hier onder vir gratis hulpbronne.
- Kry ’n lekker leesplekkie
Soek ʼn stil, gemaklike hoekie vir saamlees. Maak ʼn tent met ʼn laken en kussings! Sorg dat daar nie speelgoed of toestelle is om die tydjie te bederf nie (maar dalk wil Teddie ook die storie hoor!)
- Drama, drama, drama!
Dramatiseer die storie met verskillende stemme en aksente. Kry die kinders om klanke soos ʼn motor wat wegtrek, ʼn hoender wat kraai, of ʼn gil te verskaf. As daar ouer kinders is, kan elkeen ʼn sekere karakter se woorde lees.
- Wees geduldig en geniet die oomblik
Moenie haastig wees nie. Vergeet ʼn rukkie van alles wat gedoen moet word, en sorg dat julle pret het.
Waar kan jy stories kry?
Elke jaar vier Nal’ibali World Read Aloud Day met ʼn splinternuwe storie in al elf amptelike tale. Jy kan jou verbind om die storie hardop te lees en dit aflaai by https://nalibali.org/WRAD-2020. Daar is ook ander hulpbronne op die webwerf
LitWorld verskaf hulpbronne, onder meer “activity guides”, by litworld.org/worldreadaloudday
Loer ook by die READ educational trust om te sien wat hulle inisiatiewe is – jy kan ook ’n gratis storieboek aflaai om te lees!
Lees ook meer oor Book Dash wat poog om storieboeke in al ons amptelike tale (en nog meer!) by kinders te kry. Besoek hul webblad vir nog stories. Hulle het ook onlangs ’n app geskep wat jy op jou foon kan aflaai om toegang tot die boeke te kry! Klik hier om dit af te laai
Gaan kyk gerus ook by Graffitibooks.co.za waar jy ’n wye verskeidenheid kinderboeke in Afrikaans en Engels sal raakloop. Hulle versend jou bestelling en hou jou op hoogte van nuwe boeke deur ons eie Suid-Afrikaanse skrywers, sowel as oorsese trefferboeke.
Vir grootmense wat ook van stories hou
Ons het drie verhaalvoorlesings – GRATIS – op ons webwerf! Luister sommer nou na Botox, Barbies en Bietse, Dans met die Rooi Rok en Lam in Wolfsklere, en word saam met ons meegesleur!