kategorieë: Leef gesondGesondheid

Dink nuut oor die vroedvrou-opsie

In ons land was vroedvroue nog altyd die arm man se opsie, hoewel dié soort geboortehulp in Brittanje en Nederland behoorlik status het. Hier glo ma’s én dokters dis verreweg die beste vir gesonde vroue wat ’n normale swangerskap gehad het. As jy ’n hospitaalbaba was, voel die ginekoloog-en-teater-opset veilig, higiënies en bekend. Wat sal jou kop swaai? Ons vra vroedvrou Elsabé Brusser van Mother Instinct uit oor die kwessies rondom tuisgeboortes waarmee ons ook ongemaklik is.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Dit is hopeloos te seer … ?

“Dit is so ’n ongelukkige persepsie. Eintlik wys dit hoe min ons van natuurlike geboorte weet. Kraampyne is anders as ander soorte pyn: dis ’n pyn wat met sy eie ‘pynstiller’ by jou aankom. As jy ontspan, skei jou brein al van die begin van die geboorteproses groot hoeveelhede endorfien en oksitosien af. Die twee werk soos ’n span. Waar oksitosien die spiere laat saamtrek, verlig endorfien die pyn. Ja, daar ís pyn en dis harde werk, maar jou hormone help jou baie goed daardeur.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Ja, daar ís pyn en dis harde werk, maar jou hormone help jou baie goed daardeur

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“Die teenoorgestelde gebeur wanneer jy stres: jy skei adrenalien af wat endorfien en oksitosien onderdruk. Jy kraam dus langer en ervaar kraampyn baie meer intens. Vra jou af waar en wanneer jy die meeste stres gaan ervaar: as jy hospitaal toe jaag; as jy dadelik op ’n drup gesit word; as jy ’n induksie kry; as jy tussen vreemdes in ’n vreemde opset is … of as jy rustig is en toegelaat word om te kraam soos wat jou liggaam dikteer?

“Terloops, induksiekraam is eintlik wreed wanneer dit nie om goeie mediese redes gedoen word nie. Jy ontvang daarvoor kunsmatige oksitosien, maar anders as by die normale geboorteproses, systap dié wyse van toediening die brein heeltemal.

Endorfien word dus nie daarmee saam afgeskei nie en daar is niks anders wat die pyn versag nie.”

En die grilfaktor?

Doela Tertia Alkema vertel dat haar baba in die hartjie van ’n baie stormagtige nag in die middel van haar woonkamer op die vloer gebore is. Vir haar was dit ’n hoogtepunt – vir baie ander klink dit na ’n nagmerrie. Iets waarvoor jy, soos in die boeke en flieks oor die ou dae, groot potte kookwater en dosyne handdoeke en lakens nodig gaan hê. Niemand sê waarvoor nie, en eintlik wil jy nie weet nie.

Elsabé sê dit is nog een van daardie wanpersepsies. “Mense verwag dat dit ‘morsig’ gaan wees en jou huis sal nooit weer dieselfde wees nie. Eintlik is die hele proses eenvoudig en selfs netjies.”

Is ’n vroedvrou regtig veilig vir ma en baba?

“Die heel veiligste opsie vir jou en jou baba is om die natuur sy gang te laat gaan. Navorsing bevestig dit. Die American College of Nurse-Midwives se opnames toon dat net 3,6% van vroue in die hande van ’n vroedvrou ’n episiotomie (snit) kry, teenoor 25% vroue onder doktersorg – ’n prosedure wat al die komplikasies van infeksie, pyn, wondletsels en ongemak insluit.

“Dieselfde geld keisersnitte: in ons land kry 68% van vroue in die private sektor ’n keisersnit. Die meerderheid van die res wat in die private sektor normaal kraam, kry ’n induksie sonder dat daar enige mediese rede daarvoor is.”

Doela Elsabé sê sy verstaan dit maar alte goed. “Dokters se opleiding fokus op wat verkeerd kan gaan en hoe dit reggestel kan word. Dus voel ingrype soos induksie, ’n binneaarse drup, tangverlossings en keisersnitte soos ‘hulp’ en ‘oplossings’ wat hulle boonop teen mediese eise beskerm.

“Vroedvroue is die teenoorgestelde: hulle hou ’n oog op potensiële probleme en omdat hulle al die variasies van normaal ken, kan hulle ’n geboorte met die minimum ingryping bestuur.

Hulle hou ’n oog op potensiële probleme en omdat hulle al die variasies van normaal ken, kan hulle ’n geboorte met die minimum ingryping bestuur

“Soms ís ingryping noodsaaklik. Meestal nie. Dit is onnodig dat die rite van moederskap ’n kil, kliniese, chemiese prosedure word wat nie eens veiliger is nie.”

Wat as …?

“Elke enkele vroedvrou verwys ’n ma met moontlike risiko’s van die eerste oomblik af na ’n dokter. Ons ding nie met dokters mee nie – ons werk sáám. Ons werk gewoonlik saam met ’n bepaalde ginekoloog en hospitaal en jy sal die ginekoloog twee, drie keer deur die loop van jou swangerskap spreek. Hy maak seker dat jy ’n goeie kandidaat vir natuurlike geboorte is. Jy gaan ook vir sonars. Jy kry dus ook by ’n vroedvrou die beste sorg wat mediese tegnologie kan bied.

“Nog ’n verskil: afsprake met jou vroedvrou is gewoonlik ’n uur lank, teenoor die formele kwartier by ’n dokter. Dit skep ruim geleentheid om probleme op te spoor. Jy kry ook oorgenoeg tyd vir al jou vrae, en sy doen moeite om jou fisiek en emosioneel voor te berei op die geboorte en jou nuwe rol as ma.”

Jou keuses

Geboortehuise waarby jy inboek wanneer jy dink dit is tyd en oorbly tot jy gereed is om huis toe te gaan, eerder as die worsmasjiensituasie in hospitale van tot so min as twaalf uur in en uit. Hierdie plekke is huislik en van gemaklik tot luuks, met voordele soos dat jou maat byvoorbeeld kan oorslaap en onmiddellike toegang tot ’n ginekoloog en hospitaal.

Geboorteklinieke wat meer formeel soos ’n hospitaal funksioneer, met ginekoloë en vroedvroue aan diens. Plekke soos Origin en Genesis is superluuks, met van kandelare tot musiek … en nogal duur.

Vroedvroue met toelatingsregte Sommige hospitale laat toe dat vroedvroue registreer sodat hulle sonder oponthoud vroue kan laat opneem wanneer ’n noodsituasie opduik. Daar is enkele hospitale waar vroedvroue toegelaat word om ’n geboorte in ’n private hospitaalkamer te hanteer.

Kyk hier vir kontakbesonderhede van vroedvroue

#rooirosewenk: Besoek ’n paar vroedvroue, en kies die een by wie jy die gemaklikste voel.

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

3 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

3 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

3 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

3 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

4 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

4 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.