Die bekende model en aktrise Christina Storm was vandeesweek Rian van Heerden se gas op Laataand by Rian, waar sy openhartig gepraat het oor haar lewe, haar verhouding met wyle James Small en die uitdagings wat sy ná sy dood moes trotseer. Christina was reeds ’n gesogte model toe sy die stout seun van Suid-Afrikaanse rugby in 1996 ontmoet het, maar haar pad daarna was allesbehalwe eenvoudig.
Christina woon deesdae in die Oos-Kaap in St. Francisbaai. Toe Rian haar vra wat sy daar doen, het sy speels geantwoord: “So min as moontlik. Ek het ’n gastehuis in St. Francisbaai op die kanale, en ek gebruik dit nie as ’n gastehuis nie, want ek is lui.”
Rian het haar uitgevra oor hoe alles vir haar begin het, en sy het meer vertel oor hoe sy op 18 die eerste keer in Frankryk op Vogue se voorblad beland het. Ná skool het sy haar pa in Nederland gaan besoek, waar ’n fotograaf haar raakgesien het. “Vir my was dit amazing because I managed to dodge so many bullets, and I made it to the top,” het sy gesê.
Op 22 was sy terug in Suid-Afrika, en dit is toe dat sy vir James in ’n nagklub ontmoet het. Rian het gevra wie James werklik was, en hoe dit verskil het van wat die media oor hom geskryf het. “Hy het met sy hart op sy mou geloop, and he’s just really the most misunderstood. Dit breek my hart dat hy as gevolg van joernaliste soveel suffering moes deurgaan.”

Rian het haar ook gevra oor James se bekentenis dat hy haar geslaan het. Sy het eerlik geantwoord: “Ons het mekaar geklap. We were young punks. Ek het hom seerder gemaak as wat hy my gemaak het. Hy was die enigste man wat na my kon omsien tot die einde toe.”
Toe Rian vra hoekom dit nie uitgewerk het nie, het sy gesê hulle was albei baie passievol en dat hy haar menigmale gevra het om weer te probeer, maar sy kon nie. “Ons het so mooi co-parent tot op die einde toe. He was just the best father.”
Die gesprek het ’n ernstiger toon aangeneem toe Rian verwys het na die sensasie ná James se dood en die berigte dat hy kaal gevind is. Christina het dit onmiddellik ontken: “James het ’n hartaanval gehad. Hy sou sy meisie daar ontmoet het. Call it a nightclub, call it a whatever. But he was sitting there working on his laptop, ordered a drink. He was waiting for his long-term girlfriend, Julie, who he had a child with. Hy het ’n hartaanval gehad, and as they tried to pick him up, het sy broek afgeslip. He was not naked. How dare you? ‘Small sterf kaal in ’n nagklub’ en my kind moet dit sien?!”
Rian het opgemerk dat dit duidelik is dat sy ná alles steeds lief is vir James. “He will be the only love of my life, forever,” het sy geantwoord.
Sy het verder vertel hoe moeilik dit vir haar was ná sy dood: “Dit was aaklig. Dit was so ’n massive verlies vir my kind en om my kind te sien deur daai pyn gaan – haar pa was haar beste vriend. It changed me as a person. Ek het paniekaanvalle gekry en toe, ’n maand later, eindig ek op in ’n rehab for depression and anxiety.” Christina was vir ’n maand lank in rehabilitasie, maar erken dat dit nie gehelp het nie. Daarna was sy weer vir agt weke in ’n sentrum. Sy sien nou al die afgelope vier jaar ’n sielkundige.
Tot Rian se skok het Christina ook vertel dat sy al ’n nag in die tronk deurgebring het nadat sy in ’n polisiekar vasgery het. “Dis die eerste aand in my lewe wat ek die hele aand wakker was.”
Die gesprek het emosioneel geraak toe Rian vir haar sê hy kan sien sy is nie oukei nie. Sy was verras en het geantwoord: “I hate to hear that. Dis ’n baie onsekere tyd in my lewe. Ek kan niks doen aan môre nie, ek kan niks doen aan gister nie, ek kan net iets doen aan waar ek nou is,” het sy gesê terwyl die trane loop.
Rian het die onderhoud afgesluit deur haar aan te moedig om na die regte mense uit te reik. Sy het emosioneel geantwoord: “This is not the end of me.”
Rian se volgende gas is die legendariese komediant Barry Hilton, wat vir lank met depressie gesukkel het, al het hy ons vir dekades laat lag. Vandag gaan dit beter met Barry, en hy is gereeld op die verhoog as motiveringspreker.
Laataand by Rian word elke Dinsdagaand om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.

