Deur Maryke Roberts. Foto’s: Brenda Veldtman en Lindsey Appolis
Die Kaapstadse Stadsballet voer van 13–29 Maart 2026 David Nixon se vollengte-aanpassing van Bram Stoker se Dracula by die Kunstekaapteater op.
David het Dracula oorspronklik in 1999 vir BalletMet geskep en dit het mettertyd een van sy mees gevierde narratiewe ballette geword. Dit word hoog geprys vir sy filmagtige Gotiese atmosfeer, teatrale innovasie en fisies gewaagde choreografie.

Foto: Lindsey Appolis
David – wat as regisseur van hierdie nuwe produksie vir die Kaapstadse stadsballet dien, is ook verantwoordelik vir die stel-, verhoog- en kostuum-ontwerp. Hy werk saam met ‘n sterk kreatiewe span wat sy gunsteling Suid-Afrikaanse beligtingsontwerper, Faheem Bardien, insluit.
David, wat in 2023 as interim Artistieke Direkteur van die Kaapstadse Stadsballet ingestaan het sê: “Dis wonderlik om terug te wees vir hierdie seisoen van Dracula. Ek is dankbaar teenoor Tracy Li en Tasneem Allie dat hulle my na Kaapstad genooi het om my gunstelingproduksie weer op te voer. My tyd in Kaapstad was kort, maar ek het verlief geraak op die geselskap en is opgewonde om weer met die dansers te werk.”
Hernieude internasionale aandag vir Dracula het gevolg op Northern Ballet se 2019-heropvoering wat verfilm en in teaters regoor Europa vertoon is, en later op BBC Four en BBC iPlayer uitgesaai is, wat die werk aan ‘n wyer wêreldwye gehoor bekendgestel het.
David se choreografie is deur die British Theatre Guide beskryf as “uitmuntend … wat die ontluikende romantiese fassinasie tussen die twee karakters kragtig vasvang”.
Alfred Schnittke, Arvo Pärt, Sergei Rachmaninoff en Michael Daugherty is verantwoordelik vir die musiek.
Bram Stoker se Dracula, wat in 1897 gepubliseer is, het die wêreld aan die legendariese vampiergraaf Dracula bekendgestel. Teen die agtergrond van Victoriaanse Engeland volg beide die roman en die ballet Jonathan Harker, ‘n jong prokureur wat na Transsylvanië gestuur is om Graaf Dracula se eiendomstransaksies in Engeland te fasiliteer. Wat ontvou, is ‘n verhaal van spanning, gruwel en die bonatuurlike, terwyl Dracula sy visier op Londen rig, met vroulike vampiere, donker intrige en ‘n dramatiese stryd tussen goed en kwaad.

Foto: Lindsey Appolis
David vertel meer:
Jou Dracula is die eerste keer in 1999 vir BalletMet geskep. Hoe het jou interpretasie van die storie oor die jare ontwikkel, en wat maak hierdie Kaapstadse produksie uniek?
Ek dink die interpretasie het slegs subtiel oor die jare verander en het eintlik redelik naby aan die oorspronklike gebly. Die grootste verandering was die ontwikkeling van ‘n ou-wese wat meer soos Dracula gelyk het, vir die begin van die ballet. Iets meer bisar en vreemd.

David Nixon (Foto: Brenda Veldtman)
Jy is nie net die regisseur nie net nie, maar ontwerp ook die stel, verhoog en kostuums vir hierdie weergawe. Hoe vorm die toesig oor die hele visuele wêreld jou storievertellingsbenadering in Dracula?
Ek is altyd geneig om die kostuums vir my produksies te doen. Die ontwerp en keuse van materiale help my om my karakters te definieer en te verstaan, en ook om te weet watter rigting ek met beweging sal inslaan. Die stel is iets waarmee ek slegs by seldsame geleenthede worstel, maar dis moontlik met Dracula, omdat dit nie te ingewikkeld is nie en meer oor sterk beelde gaan. Om ‘n volledige prentjie van die produksie te hê, help my om die beste resultaat met die dansers te behaal.

Foto: Lindsey Appolis
Hierdie ballet is getoonset deur Alfred Schnittke, Arvo Pärt, Sergei Rachmaninoff en Michael Daugherty. Wat het jou tot hierdie kombinasie van komponiste aangetrek, en hoe help hul musiek om die Gotiese atmosfeer te skep?
Ek was by BalletMet geseën met ‘n baie begaafde Russiese pianis. Ek het hom genader nadat ek besluit het om die ballet te doen om sy raad te kry. Hy het Schnittke onmiddellik voorgestel. Ek was aanvanklik senuweeagtig, maar nadat ek na sy eerste poging aan die begin van die ballet geluister het, verstaan ek hoe briljant die idee was. Schnittke se musiek het die dualiteit van die vampier gehad, tegelyk pragtig en klassiek en dan verwronge en senuweeagtig. Soos met alle samestellings is dit moeilik om alles van een komponis te bereik. Rachmaninoff se wals komplementeer die Schnittke en die Part skep ‘n ander wêreld. Die Red Cape Tango aan die einde neem ons na ‘n ander plek in sy filmiese en groter-as-die-lewe klank.
Dracula is deurdrenk van Victoriaanse afwagting en sielkundige spanning. Hoe vertaal jy so ‘n ryk gelaagde roman in ‘n woordlose, fisiese medium sonder om sy kompleksiteit te verloor?
Ek dink jy moet dit sien om dit te verstaan!
- (Foto’s: Brenda Veldtman)
Jy het genoem dat jy verlief geraak het op Kaapstad Stadsballet gedurende jou tyd as interim Artistieke Direkteur in 2023. Watter eienskappe in die geselskap se dansers maak hulle veral geskik vir hierdie veeleisende, fisies gewaagde werk?
Ek is mal oor die dansers by Kaapstad Stadsballet omdat hulle so pragtig saam met my werk. Hulle is oop, ontvanklik en ten volle betrokke by die werk. Hulle het baie minder hulpbronne as ander geselskappe, maar hulle het buitengewone gewilligheid. Hierdie ballet is meer van ‘n mansballet met baie sterk manlike rolle. Die geselskap het tans ‘n baie goeie groep mans en hulle is bereid om die fisieke aard en die karakterisering tot die uiterste te neem. Hulle het my verras met hoe ver hulle bereid is om te gaan!
Die ballet meng gruwel, sensualiteit en ‘n stryd tussen goed en kwaad. Hoe balanseer jy teaterskouspel met emosionele diepte sodat die storie verder as sy Gotiese beeldspraak resoneer?
Ek dink dat deur nie ‘n ruimte te skep met oordrewe stelstukke wat wegneem van die dans nie, jy baie meer op die dans self kan fokus. Ek het die ruimte skoon gehou en beperk tot net wat nodig is om die storie se aksie te plaas. Die kostuums help baie om beide die Victoriaanse- en Gotiese wêrelde voor te stel.

(Foto: Brenda Veldtman)
Beligting speel ‘n belangrike rol in Gotiese storievertelling. Wat bring die samewerking weer met die Suid-Afrikaanse beligtingsontwerper Faheem Bardien na hierdie produksie?
Faheem is ‘n baie begaafde en verbeeldingryke beligtingsontwerper. Hy ken ook die teaterruimte intiem en wat gedoen kan word. Sedert ons eerste ontmoeting het ons gepraat oor hierdie produksie in Kaapstad en nou gebeur dit regtig.
Gotiese stories het vir meer as ‘n eeu oorleef sedert Bram Stoker sy roman vir die eerste keer gepubliseer het. Wat dink jy lok moderne gehore steeds na Dracula, en wat hoop jy sal Kaapstadse gehore van hierdie produksie by die Kaapstadse Stadsballet wegneem?
Ek dink dat die fantasie, misterie en fassinasie met die konsep van vampiere waarskynlik hierdie stories vir ewig lewend sal hou. Ons kan deur die tyd wat verbygegaan het, reïnkarnasie na reïnkarnasie van hierdie storie naspeur en selfs ‘n evolusie van wat ‘n vampier is, sien. Ek hoop van harte dat Kaapstad nie net die werk ontroerend en verrassend sal vind nie, maar ook dat hulle ‘n waardering sal ontwikkel vir wat ballet vandag kan wees. Ek hoop ook dat hulle trots sal voel op hul stad se beroemde- en werklik ou geselskap!

(Foto: Brenda Veldtman)
Bespreek jou kaartjies vir Dracula se Kaapse speelvlak by Webtickets of die Kunstekaap-kaartjieskantoor by (021) 421-7695. Geen onder 12’s.
Lees ook: Jonathan Roxmouth tokkel die klawers in uitsonderlike vertoning


