Deur Maryke Roberts. Foto’s: Jaco Botha en verskaf.
Jonathan Roxmouth se Key Change – My Favourite Pianists is tot 28 Maart by Theatre On The Bay in Kampsbaai, te sien voordat dit by Montecasino in Johannesburg van 15 April tot 10 Mei speel.
In Key Change speel Jonathan liedjies van die verskeie klavier-gebaseerde komediante, sangers en vermaaklikheidskunstenaars, wat sy musikale smaak deur verskeie fases van sy lewe gevorm en beïnvloed het. Gerugsteun deur ‘n fantastiese 5-stuk orkes, sal Jonathan die musiek van klavierrockers en sangers speel en weer bewys hoekom hy een van Suid-Afrika se gunsteling-vermaaklikheidskunstenaars is. Van die musiek is van rockers Jerry Lee Lewis, Elton John en Billy Joel, pianiste soos Liberace, Richard Clayderman en David Foster, sangers soos Carole King, Burt Bacharach en Freddie Mercury, alles in ‘n persoonlike klavier-gebaseerde produksie.
Die vertoning is ongeveer 2 uur lank, insluitend pouse.
Kaartjies vir die vertoning en Act One restaurant is beskikbaar via reception@theatreonthebay.co.za of (021) 438-3301 vir die Kaapstad-vertoning en via (011) 511-1988 vir Johannesburg. Klik hier vir meer inligting.
Jonathan vertel meer:
Jy keer terug na Theatre On The Bay. Wat beteken dit vir jou om weer op hierdie verhoog op te tree?
Theatre on the Bay is basies my huis weg van die huis vir die afgelope 18 jaar al. Ek het met al my oorspronklike werk daar getoer, sowel as die verskeie bonsai-musiekblyspele wat ons oor die jare opgevoer het. Ek ken die gehoor uiters goed en dis opwindend om terug te wees met ‘n vertoning wat vir my beteken wat Key Change doen.
Die vertoning fokus op klavier-gebaseerde kunstenaars wat jou musieksmaak gevorm het. Wanneer het jou liefde vir die klavier begin, en wie was jou heel eerste groot invloed?
My eerste invloed was Tom & Jerry, toe hulle Liszt se Hongaarse Rapsodie nr. 2 gespeel het. Van daar af het ek begin obsessief raak oor pianiste soos David Foster, Elton John en Liberace. Die vertoonkuns – saam met musikaliteit – was ‘n besondere onthulling.
Jy bring hulde aan energieke klavier-rockers soos Jerry Lee Lewis, Elton John en Billy Joel. Watter van hul liedjies is die grootste uitdaging om op te voer – en hoekom?
Al hul materiaal is uitdagend. Dis maklik om hulle na te maak, maar om die materiaal te interpreteer vanuit jou eie perspektief, is opwinend.
Daar is ook ’n meer virtuose element met pianiste soos Liberace, Richard Clayderman en David Foster. Hoe benader jy hul styl sonder om dit bloot na te boots?
Ek moes my klassieke tegniek afstof en het veral op die flitsende elemente gefokus. Dis nie net ‘n klomp note nie. Daardie ouens was wonderlik as gevolg van die gapings tussen die note. Die versierings is maklik. Die musikaliteit is moeilik.
Jy eer ook ikoniese liedjieskrywers en sangers soos Carole King, Burt Bacharach en Freddie Mercury. Hoe kies jy watter repertoire hul nalatenskap die beste verteenwoordig?
Ek het uit baie optredes voor ‘n gehoor gekies. Jy kan voel wanneer iets reg is en dit vloei. Jy voel ook wanneer dit nie reg is nie, so jy sny iets uit, voeg iets anders by of verfyn jou keuses en wanneer daardie gehoor op daardie spesifieke manier reageer, weet jy net dis perfek.

Die produksie word ondersteun deur ’n vyf-stuk orkes. Hoe beïnvloed dit die energie en dinamiek van die vertoning?
Hulle beïnvloed nie die energie en dinamiek nie – hulle is die energie en dinamiek. Wanneer jy ‘n span het wat saam met jou speel, speel jy beter. Hulle stoot jou om beter te wees en delf regtig in die musiek. Dis pure malligheid eintlik.
Die titel Key Change impliseer ’n musikale én persoonlike skuif. Verteenwoordig hierdie vertoning ook ’n nuwe fase in jou loopbaan?
Beslis. Ek is mal daaroor om musiekblyspele te doen en hulle sal altyd deel van my lewe wees. Hierdie vertoning verteenwoordig ‘n era waar ek gelukkig is om myself op die verhoog voor ‘n gehoor te wees. Geen rolle nie. Geen toneelspel nie. Net wees.
Jy werk deesdae op ‘n luukse skip vir Seabourn Luxury Cruises. Vertel hoe dit verskil van optredes in teaters wêreldwyd?
Dit doen nie regtig nie. Ek tree op in teaters aan boord wat net so goed toegerus is soos die teaters plaaslik en oorsee. Jy het net beter uitsigte van hulle af.
Jy is wêreldwyd onder meer bekend vir jou rol as die Phantom in The Phantom of the Opera en Danny in Grease. Hoe verskil hierdie meer persoonlike, klavier-gedrewe konsert van jou groot musiekteaterrolle?
Ek het nog nooit tevore in ‘n musiekblyspel klavier gespeel nie, so daar is dit. Boonop het hierdie vertoning nie ‘n vierde muur nie. Ek praat direk met die gehoor en dit maak elke vertoning uniek en ‘n persoonlike ervaring.
Lees ook: ‘Hou die TV aan’: Liam Bosman oor sy donker rol én ’n nuwe kusdrama







