Op my eish! se laaste episode het almal onkant gevang en het die land aan die praat. In ’n eerste vir die reeks het die vrygesel, Ruan Smith, op die ou einde niemand gekies nie, en drie vroue én talle kykers met rou emosies agtergelaat.
Die episode het afgeskop met ’n intieme besoek waar Charlene, Cindy-Lee en Bejanke hul harte oopgemaak het teenoor Ruan en JP. Die spanning het verder opgelaai toe hul naastes aangesluit het. Cindy-Lee het haar niggie Alta Argyle genooi. Bejanke het haar vriendin Sanet Geere saamgebring, en Charlene is deur Chantelle de Villiers ondersteun.
Ruan en JP se beste vriend, Andries Coetzee, het ook aangesluit en vir die dames die geleentheid gegee om hom uit te vra oor Ruan, terwyl hy eerlike raad gedeel het. Ruan het op sy beurt tyd saam met die dames se geliefdes spandeer, wat hom beter leer ken het – en oorwegend beïndruk was met hom.
Later het ’n gesellige braai almal saamgebring. Die dames het hier die eerste keer Ruan se familie ontmoet, insluitend sy sussies en pa. In dié warm atmosfeer het onsekerheid egter begin insluip, veral vir Cindy-Lee, wat gevoel het sy het te min aandag van Ruan gekry.
Met die aanbreek van die finale dag het dit duidelik geraak dat Ruan innerlik worstel met sy besluit. Voor die groot oomblik het die dames hulself gereed gemaak in pragtige Anel Botha-ontwerpersrokke.
Daarna het drie emosioneel gelaaide afskeidsgesprekke gevolg.
Ruan het vir Cindy-Lee gesê dat die ervaring vir hom lewensveranderend was en dat hulle op ’n ander vlak verbind is, maar dat hy haar nie gaan kies nie. Sy het sy besluit met hartseer en grasie aanvaar.
Met Bejanke het die oomblik nog meer intens geraak. Hy het sy liefde vir haar beken, maar gesê hy kan nie ’n besluit maak nie en dat hy eers aan homself moet werk. Sy het emosioneel gereageer, maar hom steeds alles van die beste toegewens.
Teenoor Charlene was hy net so eerlik. Hy het gesê sy tiek elke boksie vir hom, maar hy het uiteindelik besluit om niemand te kies nie. Charlene het deur trane erken dat dit seermaak, maar dat sy sy eerlikheid respekteer.
In die laaste toneel het Ruan en die drie vroue saam ’n saal vol familie en vriende binnegestap. Die verwagting was tasbaar, en die emosies het hoog geloop – selfs JP was ’n oomblik gegooi toe die werklikheid van die situasie hom tref.
“My finale besluit was nie maklik nie. Ek het op die laaste minuut besluit wat ek wil doen en wat die beste vir my is,” het Ruan later erken. “Ek het gevoel ek het die regte besluit gemaak onder baie emosionele omstandighede.”
Volgens hom het die beperkte alleentyd wat hy met elke vrou gehad het, swaar geweeg. “Ek het uitgewerk hoeveel tyd ek saam met elke dame spandeer het op ons eie, en dit het ’n groot impak op my besluit gehad. Ek het gevoel dit sou oneerlik wees om iemand te kies as ek vir twee dames gevoelens gehad het. Teen die einde moet jy weet wie jy gaan kies, maar ek was nie oortuig nie.”

Ten spyte van die gebroke harte wat dit tot gevolg gehad het, bly Ruan by sy besluit – een wat hy glo nie net reg is vir homself nie, maar ook vir die vroue.
Die ervaring het hom gedwing om na homself te kyk op maniere wat hy nie verwag het nie. “Ek het geleer dat ek baie tekortkominge het in baie aspekte van ’n verhouding. Ek het my gevoelens vir baie jare onderdruk, en emosies het begin uitkom wat ek nie eers geweet het ek het nie.”
Hy sê die reis het sy perspektief op liefde verander. “Verhoudings is daaglikse werk, en jy moet opofferings maak. Net omdat iets in die oomblik reg voel, beteken dit nie julle lewens gaan bymekaar pas nie.”
Hy wil sy benadering vorentoe verander en is van plan “om rêrig in mense te belê en hulle te leer ken vir wie hulle is – nie net die uiterlike nie, maar ook wie hulle binne is.”
Die reünie-episode word volgende Donderdag om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal) uitgesaai word en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Lees ook: Lekker & goed-resepte: Tennis en tee met Hannes van Wyk









