Deur Tanya de Vente-Bijker. Foto’s: Verskaf
Sy lyk amper te jonk om die ma van ’n tiener en ’n tweedejaarstudent te wees. Ek ontmoet Izél du Plessis in haar lieflike kantoor met groot glasvensters wat uitkyk oor ’n gedeelte van Lynnwood, ’n boomryke woonbuurt in Pretoria. Haar kantoor is slim uitgelê; dis deel van haar huis, maar apart. Izél het tien jaar gelede in blinde vertroue haar pos by die gesiene firma Deloitte bedank, was dit juis omdat sy haar kinders en gesin eerste wou stel. Sy het ’n middeweg gevind om haar werk én haar gesin te kombineer.
Sy straal as sy oor haar gesin gesels. Sy en haar man, Pieter du Plessis, is hierdie jaar al 32 jaar getroud. “Ek is gelukkig om ’n wonderlike lewensmaat te hê. Hy is my vennoot op die lewensreis en ek is dankbaar vir hom.” Pieter is ’n dermatoloog wat in velkankerchirurgie spesialiseer. Hul dogter, Luca, is ’n tweedejaar- mediese student aan die Universiteit van Kaapstad en hul seun, Jean, is in graad 11 aan die Hoërskool Menlopark.
“My gesin is vir my die belangrikste,” vertel Izél. “Dit is vir my ’n voorreg om ’n loopbaan te hê, maar my gesin is die kern van my lewe.” Sy vertel hoe elke lid die betekenis van hul name voluit leef: “Pieter se naam beteken rots, en dit is presies wat hy vir my is. Luca is ’n ligbringer en Jean is ’n geskenk van God.”
Saam deur diep waters
As gesin is hulle al saam deur diep waters. So paar jaar gelede toe Luca aan die einde van haar graad 10-jaar was, is Izél met borskanker gediagnoseer. “Ons was juis na haar graad 10- bal op pad toe die radioloog vir Pieter bel en sê: Dit is nie goeie nuus nie, jou vrou het borskanker.’”
“Ons het dit glad nie verwag nie.” Izél het gereeld vir haar mammogramondersoek gegaan. Om die waarheid te sê was sy nog in Maart daardie jaar vir ’n mammogram. In November het sy ’n knop gevoel en Pieter het haar aangeraai om tog maar dokter toe te gaan. Sy was nie te bekommerd nie, want sy het al vantevore ’n knop gehad, wat toe nie iets was nie, maar dié keer was dit kwaadaardig. “Genadiglik het ons dit vroeg gediagnoseer, en daarom is my boodskap aan alle vroue: Gaan vir jou toetse en ondersoek jou borste. Dit is wat my lewe gered het.
Die kanker wat ek gehad het, was ’n aggressiewe kanker. Hulle noem dit trippelhormoonnegatief. Dit reageer nie op chemo en bestraling nie.” Izél moes ’n bilaterale mastektomie ondergaan, maar sy glo dit het haar lewe gered. Sy het ’n lang pad van herstel gestap. “Ná die operasie het ek sepsis gekry. Daar was wondinfeksie en ek was baie siek.” Sy het ook as gevolg van die antibiotika geelsug ontwikkel en so het haar lewer weer probleme gegee. “Dit was ’n moeilike jaar, maar ons is daardeur, en ek kyk met dankbaarheid terug. ’n Mens besef net health is wealth. Sonder jou gesondheid het jy niks nie.”
Ironies genoeg was sy nie ’n hoërisikopasiënt nie. “Ek het nog altyd gesond geëet, nie gerook nie, ek oefen, daar is nie ’n geskiedenis van kanker in ons familie nie en tog het ek kanker gekry. “Ek het opnuut ’n waardering vir die lewe gekry. Elke dag is ’n geskenk. Dit is in dié tyd wat ek weer besef het hoe belangrik verhoudings is. My familie, ons vriende en selfs my kliënte en kollegas het my sterk gehou,” erken sy. Die meeste van alles getuig sy van haar verhouding met God. “Ek weet nie hoe ek sonder my geloof daardeur sou gekom het nie.”

Eie besigheid
Haar pad tot by haar eie onderneming was interessant. Sy het ná skool BCom rekeningkunde gaan studeer, hoofsaaklik omdat dit ’n beurs-opsie gehad het. Sy het haar honneursgraad voltooi en uiteindelik as ’n geoktrooieerde rekenmeester gekwalifiseer. “Ek het my artikels by KPMG gedoen en is toe deur Arthur Andersen genader om daar te gaan werk. Dit was ’n gesiene belastingpraktyk en ek was bevoorreg om vir hulle te kon werk.”
Izél het vir ses jaar lank elke dag Johannesburg toe gependel, maar ná haar derde motorongeluk het sy besluit om plaaslik werk te soek. Sy het aansoek gedoen en is by Deloitte in Pretoria aangestel. “Ek het 15 jaar vir hulle gewerk, dit was wonderlike jare en ek is dankbaar vir die ervaring wat ek daar kon opdoen. Ek het fantastiese mentors gehad, ’n mens leer immers baie wanneer jy saam vaardige mense werk.” Izél was uiteindelik die besturende vennoot van die belastingafdeling in Pretoria.
Toe besef sy en Pieter daar is te min ouerure in hul kinders se dag. “Luca was in graad 4 en Jean in graad 1 , en ons het ’n wonderlike au pair gehad en die oupas en ouma het baie gehelp. Tog, soos wat die kinders groter word, het hulle al meer van jou nodig. ’n Mens dink hoe ouer jou kinders word, hoe makliker word dit; ons het besef hoe ouer hulle word, hoe meer het hulle van ons nodig om in hul menswees in te bou.” Izél sê dit was op daardie punt wat hulle as ouers besluit het een van hulle gaan in hul loopbaan moet terugtree. “Ek het vir Pieter gesê ek is heeltemal oukei daarmee as hy die broodwinner is.”
Izél het in blinde geloof haar werk bedank. “Ek het net in vertroue gesê: Here, ek weet hierdie is nou ’n seisoen in my lewe wat tot ’n einde gekom het. Ek weet nie wat voorlê nie, maar ek vertrou op U daarvoor.”
Sy het ses maande sabbatsverlof gevat en dit is tydens daardie tyd wat sy vir Cobie de Lange ontmoet het. “Ek glo nie in toevalligheid nie, ek weet dit was so bestem dat ek haar moes ontmoet.” Sy en Cobie het agterkom hulle droom dieselfde droom: Om te werk, maar om so te werk sodat jy jou eie ure en tyd kan bepaal. “My skoonpa was nog altyd ’n mentor vir my, en hy het die saadjie van ’n virtuele praktyk by my geplant. Hy het gesê dit is die rigting wat die wêreld ingaan.” Hoe meer sy daaroor gedink het, hoe meer het ’n virtuele praktyk na die regte antwoord geklink. En só het sy en Cobie vennote geword en Nubis.tax het ontstaan: ’n Netwerk of virtuele firma van onafhanklike belastingkonsultante. Haar voormalige kollegas het haar gewaarsku dat sy nie in ’n kleiner onderneming sinvolle belasting kan doen nie en dat sy gaan opeindig om net individue se belasting te doen. “Ons doen ongelooflike interessante werk,” vertel Izel. “Nubis verskaf gespesialiseerde belastingsdienste aan middelslag- tot groot maatskappye en ons het ook genoteerde maatskappye op ons kliëntelys. Nubis.tax is nie eksklusief vir vroue nie; mans is ook baie welkom.”
“Ons is mekaar se klankbord en kollegas. Ons het maandeliks virtuele voorgesette opleiding, elke kwartaal kom ons in persoon vir ’n opleidingsdag bymekaar en een keer ’n jaar breek ons saam weg vir ’n strategiese sessie en kuier.” Daar is ’n wonderlike kultuur in ons firma van mense wat inligting deel, regtig omgee vir mekaar en mekaar help.”

(Foto: Lynette van der Bijl)
Glo in jouself
Izél is trots op Nubis, veral ook omdat dit die geleentheid vir meer balans tussen die huis en werk skep. “Daar is soveel vroue wat so kundig is, en in soveel gevalle moet jy ’n keuse tussen jou loopbaan en jou familie maak.” Sy meen baie kundigheid gaan verlore omdat vroue moet kies om eerder hul loopbaan opsy te sit.”
Vandag is nubis.tax al nege jaar oud en is daar 16 spanlede om die land heen. “Ons is baie geseënd, en die sukses van die onderneming is aan die Here te danke.”
Izél wil graag ander ma’s aanmoedig en bemoedig. “Glo in jouself. Daar is baie geleenthede in ons land om aan te gryp. Vat die risiko, en dink buite die boks. Vind ’n manier hoe jy jou loopbaan kan uitleef en steeds jou gesin eerste kan stel.”
Sy is nie ’n oomblik spyt oor haar besluit tien jaar gelede nie. “My kinders was klein en ek het die voorreg gehad om hulle te sien groot word. Ek kon daar wees vir al die belangrike goed, maar ek kon nog steeds ’n vervullende loopbaan hê.”
Sy maan wel vroue om op te hou om alles vir almal te probeer wees, want jy gaan uitbrand. “Gaan dink strategies en besluit wat is dit wat jy persoonlik moet doen, en waarvoor kan jy hulp kry. Dit gaan ’n verskil maak as jý by jou kind se sportgeleentheid is. Dit gaan nie ’n verskil maak of jy die middagete voorberei het of nie – solank daar gesonde kos is op die tafel.”
Izél hoop haar kinders leer by haar hoe belangrik verhoudings is. “Jou loopbaan is belangrik, maar verhoudings is alles. Kies jou huweliksmaat versigtig. Daardie verhouding is so bepalend in jou lewensreis.” Sy glo dis belangrik om ’n doel in die lewe te hê. “Die Japanese praat van ’n ikigai. Dit saam met verhoudings is waaroor die lewe gaan.”


Louis Mclaren, uitvoerende vervaardiger
Kyk saam met ons:
rooi rose en ontbytSAKE op kykNET en kykNET&kie (kanale 144 en 145) fokus op ’n reeks – vrouesake.
Kyk Saterdae om 07:30 met sewe herhalings in die week.
Vir meer inligting, besoek gerus Ontbytsake se webtuiste.
