Foto’s: Instagram/Mia le Roux
Mia le Roux, Mej. Suid-Afrika en rooi rose se Julie-voorbladster, het sopas aangekondig dat sy en haar kêrel van die afgelope vier jaar, Luke ten Oever, verloof is!

Foto: Willem Botha
Mia, wat verlede jaar geskiedenis gemaak het as die eerste dowe vrou wat as Mej. Suid-Afrika gekroon is, het Dinsdag die opwindende nuus op Instagram saam met stylvolle foto’s van die pragpaar gedeel.
“Hallo daar, Verloofde. Ek kan nie wag om jou vrou te word nie.” het sy by die kiekies geskryf.
“Die geweldige liefde, geduld en opoffering wat jy hierdie jaar vir my getoon het, was niks minder as ongelooflik nie. Van die manier waarop jy met kalmte en standvastigheid vir my ruimte in die lewe se moeilike oomblikke bied, tot die manier waarop ons saam kan lag.
My hart sal jou oor en oor kies, al moet jy eers jou krieketsak vir ’n uur inspekteer wanneer ek vir ’n koppie koffie vra!”
Sy verklap ook dat hulle vir al ’n rukkie reeds verloof is, maar gekies het om dit vir eers vir stil te hou.
View this post on Instagram
In rooi rose se Julie-uitgawe vertel sy en Luke, ‘n bemarkingstrateeg, hoe hulle mekaar tydens ’n Nuwejaarsviering ontmoet het.
“Ek het van Mia geweet. My suster het haar voorheen ontmoet en vertel hoe real en authentic sy is. Ek was ’n senubol toe sy voorstel ons vier Nuwejaars op vriende se plaas naby Elgin. Mia het dadelik my voete onder my uitgeslaan!”
Mia onthou: “Ek het gedink hy’s nice. Maar toe ons in die plaasdam swem en my gehoorapparaat nie wou werk nie, het hy ewe gemaklik saam met my huis toe gestap en vir my in gebaretaal gewys ek is mooi. Dit het my hart ook vinniger laat klop!
“Luke se energie betower my. Hy het altyd iets om te sê. Hy is die ideale pasmaat vir my wat eintlik ’n introvert is.”
Die twee gaan al vier jaar uit. Vir Mia is Luke ’n vertroueling en steunpilaar as sy by die huis kom. Hy word weer geïnspireer deur hoe kalm, doelgerig en vasberade sy elke dag aanpak. Hy dink ook die deernis wat sy uitstraal, hoe sy na ander uitreik, maak haar ekstra spesiaal.
“Mia gee werklik om vir ander. Dit is ’n besonderse gawe,” vertel hy.

Lees meer oor Mia se reis as Mej. Suid-Afrika en die rol wat Luke in haar lewe speel in rooi rose se Julie-uitgawe – dis nou op die rak.
Lees ook: Hannes aan Huis keer terug: “Elke keer as iemand my hul storie toevertrou, raak dit my”

