Geweld teen vroue: wat om te doen deur Mariette Snyman.
Elke enkele geval van geweld teen vroue is “een te veel”. Omdat geweld sulke verreikende gevolge het – van die daaglikse vrees vir jou lewe tot langtermyntrauma – is dit ons gesamentlike verantwoordelikheid om te doen wat ons kan om dit te verander. Te veel vroue ly in stilte.
Lees ook: Jy kan herstel van trauma
Skokkende statistiek
Suid-Afrika het een van die hoogste syfers van geweld teen vroue. Volgens die Department van Justisie beleef een uit elke vier Suid-Afrikaanse vroue huishoudelike geweld. Volgens die Suid-Afrikaanse polisiediens word 11 vroue elke dag vermoor. Dis een vrou elke 2.5 uur. Mishandeling teen vroue vind meestal agter geslote deure plaas.
Volgens SAPD se misdaadstatistieke van April 2023 tot Maart 2024 is:
- 5 578 vroue en 1 656 kinders vermoor, met vrouemoord wat met ‘n skokkende 33,8% gestyg het in vergelyking met die vorige jaar.
- 42 569 verkragtingsake aangemeld, maar daar word beraam dat 95% van verkragtingsake nie aangemeld word nie.
Wat behels geweld teen vroue?
Volgens www.firstforwomen.co.za is daar die volgende drie vlakke:
- Huishoudelike geweld, seksuele teistering, verkragting, verbale geweld, emosionele mishandeling, seksuele geweld tydens konflik, skadelike tradisionele of ander gebruike soos die verminking van vroulike genitalieë, gedwonge huwelike en eermisdade
- Vrouehandel, gedwonge prostitusie en die skending van menseregte tydens gewapende konflik (spesifiek moord, berekende verkragting, seksuele slawerny en gedwonge swangerskap)
- Gedwonge sterilisasie, gedwonge aborsie, die gedwonge gebruik van voorbehoeding, berekende moord op babadogtertjies, en prenatale geslagseleksie.
Hoekom vroue geweldsmisdade nie rapporteer nie
Buitestaanders sê maklik: “Hoekom bly jy in ’n verhouding wat geweld insluit?” of “Hoekom meld jy dit nie aan nie?”
Die antwoord is nooit eenvoudig nie. Soms is die vrou (dalk ook haar kinders of ander familielede) deurgaans in lewensgevaar. Soms het sy geen ander heenkome nie. Soms is sy emosioneel, geestelik en fisiek so afgetakel dat sy letterlik nie weet wat om te doen nie. Soms weet sy nie waar om hulp te kry nie.
Voorbeelde van antwoorde wat vroue verskaf
- My familie sal dit self uitsorteer
- Die polisie sal buitendien niks doen nie
- Ek het dit reeds self opgelos
- Dis nie ernstig genoeg nie
Lees ook: Pasop vir kuber-prinse

Kry hulp!
Neem hierdie vier stappe as jy hulp nodig het:
- Vertel iemand van jou probleem. Doen aansoek om ’n beskermingsbevel. Lê ’n kriminele klag.
- Skakel 0800 428 428 (0800 GBV GBV). Jy kan ook versoek dat ’n maatskaplike werker van die GBV Command Centre jou kontak deur gratis *120*7867# vanaf enige selfoon te skakel.
- Verlaat die huis sodra dit veilig is. Maak seker jy neem noodsaaklike dokumente saam soos jou ID-dokument, mediese fondskaart, en jou bankkaarte. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens kan jou help om mediese hulp, skuiling en berading te kry.
- Waak daarteen om die geweld te rasionaliseer: Geweld is NOOIT in orde nie. Elke mens het die reg op respek en waardigheid. Elke mens het waarde. Elke mens verdien om veilig te voel.
Hier is nog hulpbronne:
- Lifeline: 0800 150 150 (tolvry)
