Skuif reg vir kykNET se nuwe dramareeks, Die oord, wat jou tot aan die einde aan die raai gaan hou. Hier is vyf redes hoekom jy dit nie durf misloop nie.

- Die oord, ’n misdaaddramareeks van tien episodes, het ’n sterbelaaide rolverdeling wat groot name soos Jana Kruger (Een keer om die son, Afgrond), Erica Wessels (Niggies, Donkerbos), Melissa de Vries (Skemergrond, Arendsvlei), Dawid Minnaar (Hartklop, Legacy), Jacques Bessenger (Dwaalster, Een keer om die son), Nicole Holm (Nêrens, Noord-Kaap 2, Donkerbos), Zane Meas (7de Laan, Reënboogrant), Antoinette Kellermann (Mooiweer en warm, Binnelanders), Laudo Liebenberg (Spoorloos, Spooksoeker), Liam Bosman (Een keer om die son, Diepe waters), Clayton Evertson (Juffrou X, Koek) en Amalia Uys (Die Byl, Tuiskoms) insluit.
- ’n Vakansiedorp aan die kus. Families wat al vir geslagte by dieselfde karavaanpark uitspan. Kinders wat op die strand speel. Braaivleis onder die bome. Alles is idillies – tot daar ’n lyk op die strand uitspoel … Die reeks is in en om die Kaapse Skiereiland, van Kommetjie tot Melkbosstrand, asook in die noordelike voorstede van Kaapstad, verfilm.

- Twee vroue, Martie Pretorius (Jana Kruger) en Brandi Jacobs (Melissa de Vries), staan midde die drama. Brandi van die plaaslike polisie dink dit is die bendes van die Kaap wat hulle kloue in die klein gemeenskap begin inslaan, maar Martie het ’n ander teorie. Die wonde. Die plastieksak. Die Bybelvers. Sy het dit al gesien. Vyftien jaar gelede. ’n Reeksmoordenaar wat Prediker heet.
- Die span wat vir Die oord verantwoordelik is, is die regisseur Eva du Preez en Wolflight Films, onder leiding van Roelof Storm, wat ook die Safta-benoemde dramareeks Niggies op hulle kerfstok het.

- ’n Groep jong spelers gaan beslis verder hulle merk met Die oord. Minke Marais (Reënboogrant, Wyfie) is te sien as Mia du Preez, Luandri Reynders (Binnelanders) is Marioli Groenewald, Angelo Johnson (Arendsvlei) is Joshua Groenewald en Heinrich Wentzel (Een keer om die son, Die nuusmakers) is Stefan Cilliers. Damian de Villiers (Wyfie, Trompoppies) en Christie van Niekerk is die sibbe JP en Jacomien Louw.

KYK | Episode een van Die Oord se voorskou
Die oord begin op vanaand 14 April om 20: 00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Lees ook: KKNK huppel en dans met 30ste fees





