kategorieë: HandwerkDekorLeefstyl

Handwerk: Ouma se kant

In die laaste maande van haar lewe het my Ouma Christina vir al haar kleindogters ’n tjalie gehekel. Sy kon ragfyn patroontjies uit haar hekelnaald laat glip terwyl haar kop met iets gans anders besig was. Dié tjalie van my, asook stapels vergeelde doilies – sommige met suikerwater gestyf – trek al ’n leeftyd met my saam. As jy sulke kosbaarhede het wat iewers in ’n laai stof vergaar, stal jou herinneringe uit en gedenk dit.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

#rooirosewenk
Vergeelde kant kan maklik weer splinternuut lyk, mits jy dit behoorlik versorg. Vermy bleikmiddels en was dit slegs met waspoeier vir delikate stowwe. Druk met ’n handdoek droog en laat dit plat in die son droog word. Dit sal soms ’n paar dae se sonlig neem om die vlekke te laat verbleik – wees maar geduldig. Bewaar jou kosbare kant-erfstukkies in suurvrye papier.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Feestelike kandelaar

Knoop verskeie stukkies kant aan jou kandelaar vir ’n spesiale geleentheid. Werk kristalballetjies aan die onderkant vas. Gebruik verskeie breedtes en teksture. Gooi gerus ’n fluweellintjie in vir ekstra flair.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Fopkant

Knip ’n papierdoilie met ’n deursnee van sowat 15 – 20 cm middeldeur en plak met kouelym teen jou muur. Laat vir minstens 24 uur goed droog word. Verseël dan met vernis met ’n waterbasis wat nie sal vergeel nie. Ek het Heritage gebruik.

Antieke kantdrom

Dié antieke drom word steeds vandag gebruik om kloskant te maak. Dit is ’n baie tydsame proses en beslis net vir diegene met eindelose geduld. Kloskant word met die hand gemaak deur gare wat op klossies gedraai is om spelde te gooi wat volgens ’n patroon op ’n kantkussing gesteek is. Hierdie kant is baie kosbaar en feitlik onbekostigbaar weens die duur arbeid.

Kantvlaggies

Knip ou doilies, servette en sakdoekies middeldeur. Heg die vlaggies met ’n strook skuinsband in ’n neutrale kleur aanmekaar.

Ouwêreldse slope

Kikker twee gewone kussingslope met ou, gehekelde tafellappies op. Sny hiervoor ook die lappies middeldeur en werk die gesnyde kante wat maklik rafel met ’n omkapmasjien af. Stik die lappies aan die verkeerde kant van jou sloopopening vas en vou terug. Stryk plat. Selfs net die tikkie hekelwerk op wit katoenslope gee jou slaapkamer ’n nostalgiese voorkoms.

Tafelversierings

Dek ’n romantiese tafel met hierdie versierde servette. Rol ’n linne- of katoenservet op en bind met ’n antieke stuk kant vas. Steek die kantstrook met ’n borspeld of fotoraampie vas.

Oulike geskenk

’n Stel potlode kry ’n stylvolle voorkoms met nuwe baadjies van papier met ’n kant-ontwerp. Bind die potlode met ’n dun stukkie kant vas. Dit is oulike geskenkies vir jou gaste en die perfekte afronding van jou romantiese tema.

’n Hemelse slaapkamer

Die delikate tekstuur van kant kontrasteer baie goed met die growwe afwerking van die muur op die foto. Ons het die muur met Permabond geverf en daarna kretaklip grof en onegalig aangewend. Hier en daar is gebreekte bakstene in die kretaklip vasgemessel en die muur is daarna onegalig met wit verf bedek.

Antieke kantgordyne en -dekens is saam met rustieke meubels met ’n verweerde voorkoms gebruik. Moenie in die strik trap en oordadig met die kant te werk gaan nie. Die klem is op eenvoud sodat die kant tot sy reg kan kom. Jy wil ’n nostalgiese gevoel skep – nie ’n troukoek versier nie.

’n Inspirasie- of herinneringsbord

Koop ’n stuk laaghout in die grootte van jou keuse by ’n ysterwarewinkel. Plak watteersel aan die bokant vas. Sny ’n stuk ongebleikte linne sowat 15 cm groter as die bord en stik verskillende stroke kant in die lengte daarop vas. Gebruik jou verbeelding en probeer om nie dieselfde soort kant te herhaal nie. Trek nou die bord met die kantlap oor en kram aan die agterkant met ’n kramgeweer vas. Steek jou kosbaarhede, foto’s of prentjies hierop vas met speldjies wat kristal- of pêrelkoppies het.

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Klein maar kragtig: Jou skildklier kan jou liggaam behoorlik deurmekaarkrap

Deur Christa Swanepoel   “Dit het gevoel of ek per ongeluk my energiekraantjie oop vergeet…

14 hours Gelede

Bou jy of breek jy jou kind se selfbeeld?

Selfs die mooies, slimmes en sterkes onder ons sukkel soms met ’n swak selfbeeld. Gee…

17 hours Gelede

Die beste tamatiesous

Ek gebruik dié basiese tamatiesous altyd as pastasous. Dis min of meer dieselfde vir my…

18 hours Gelede

Twee blitsidees met koejawels

Trope toe met koejawels in die kombuis! rooi rose se kosredakteur, Vickie de Beer, deel…

18 hours Gelede

‘Die Kwiksilwers’ is hier – maak reg vir ’n film-avontuur soos geen ander nie!

Kwiksilwer, die vintage Ford Granada in die speelfilm Die Kwiksilwers, is nie sommer enige kar…

20 hours Gelede

Gure voorspellings vir ‘Suidooster’ – en die Kaapse Dokter speel met niemand nie!

  Soos die Kaapse winter begin toesak op Ruiterbosch lyk dit of dinge wel warm…

21 hours Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.