Genoeg vir 8
Bestanddele
- 1,6 kg heel hoender
- 1 heel knoffelknol, middeldeur gesny
- 15 ml (1 e) olyfolie
- 1 ui, gekap
- 2 wortels, gekap
- 2 selderystingels, gekap
- 1 prei, gekap
- bouguet garni van 2 takkies orego, 2 takkies tiemie, 2 takkies pietersielie en 2 lourierblare
- 5 ml (1 t) sout
- 5 ml (1 t) swartpeper
Kluitjies
- 2 eiers
- 200 g ricotta
- gerasperde skil van 1 suurlemoen
- ’n raspertjie neutmuskaat
- 30 ml (2 e) koekmeel
- hand vol pietersielie, gekap
Metode
- Verhit die oond tot 200 °C. Smeer die hoender met olyfolie en geur met sout en swartpeper. Rooster die hoender en knoffel vir 45 min. of tot goudbruin en gaar. Laat afkoel.
- Trek die vleis met 2 vurke van die hoender af. Hou die vleis en karkas eenkant.
- Verhit ’n groot kastrol oor hoë hitte. Braai die ui tot goukleurig en geskroei, voeg die prei, wortels en seldery by en braai vir nog 8 min. of tot goudkleurig en geskroei.
- Voeg die hoenderkarkas, bouquet garni en knoffel by. Vul die kastrol met 4 liter water. Geur met sout en swartpeper. Bring tot kookpunt, verlaag die hitte en laat vir 2 uur saggies prut.
- Meng die eiers, ricotta, suurlemoenskil, neut, koekmeel, pietersielie en hoendervleis saam. Geur met swartpeper en sout. Rol in gholfbalgrootte balletjies en sit vir 1 uur in die yskas.
- Voer ’n sif met ’n nat kaasdoek of skoon kombuisdoek uit, sit op ’n groot kastrol en gooi die hoenderaftreksel deur die sif.
- Verhit 500 ml van die hoenderaftreksel tot dit saggies prut. Skep die hoenderkluitjies met ’n gaatjieslepel in die aftreksel en kook vir 5 min. aan elke kant of totdat die frikkadelle gaar is.
- Sit die gaar kluitjies in die res van die sop – die sop sal helder word omdat die aftreksel troebel raak wanneer die kluitjies daarin gekook word. Voeg ’n groot hand vol gekapte pietersielie by net voor julle eet.
