Resep deur Vickie de Beer. Foto Lee Schwagele crphotographic.co.za
Geurige hoender
Bestanddele
- 2 e (30 ml) olyfolie
- 1 e (15 ml) botter
- 1 e (15 ml) fyngekapte vars gemmer en fyngekapte knoffel
- 4 grasuie, ruweg gekap
- 1 t (5 ml) gekapte brandrissies
- ¼ k ongesoute geroosterde kasjoeneute
- 500 g ontbeende hoenderdye (koop so by die supermark)
- ¼ k (60 ml) sjerrie
- 3 e (45 ml) sojasous
- 4 ontpitte dadels gesny
- sap van een lemmetjie
- 2 hande vol fyngekapte vars koljanderblare
Metode
- Verhit die olie en botter in ’n groot pan oor matige hitte. Geur die hoender met sout en verbruin alkant tot goudkleurig. Skep uit en hou eenkant.
- Braai die gemmer, knoffel, grasuie en brandrissie vir 2 min. of tot die knoffel goudkleurig is.
- Voeg die kasjoeneute en hoender by en braai vir 5 min.
- Voeg die sjerrie, sojasous, dadels en lemmetjiesap by en laat die mengsel vir sowat 7 min. prut tot die sous afgekook is en die hoender gaar is.
- Roer die vars koljander by en laat afkoel voor jy die gereg in ’n digsluitende houer bêre.
Hoenderpasteitjies
Genoeg vir 10-12 klein pasteitjies.
Bêre vir 2-3 dae in ’n digsluitende houer in die yskas. Die deeg is gluten- en koolhidraatvry.
Deeg:
- Meng 180 g (1½ k) gerasperde mozzarella en 45 g (3 e) roomkaas in ’n mikrogolfvaste bak.
- Mikrogolf vir 2 min. op hoë krag, of tot die kaas gesmelt is.
- Voeg 1 liggies geklitste eier by, gevolg deur 150 g (1½ k) amandelmeel en 2,5 ml sout en meng goed.
- Keer die mengsel op ’n skoon werksvlak uit en knie liggies tot ’n deeg.
- Druk die deeg plat, draai in kleefplastiek toe en laat rus vir sowat 10 min. in die yskas. Verhit die oond tot 180˚C.
- Rol die deeg tussen 2 velle bakpapier uit tot sowat 2 mm dik.
- Sny 12 groot sirkels met ’n deursnee van 6 cm en 12 kleiner sirkels met ’n deursnee van 4 cm uit en voer ’n muffinpan met 12 holtes uit.
- Meng 250 ml (1 k) hoender (*sien resep onder) met 45 ml (3 e) crème fraîche.
- Skep 2-3 e van die hoender in elke holte en bedek met die kleiner sirkels.
- Seël die randjies en bak vir 20 min. of tot goudkleurig.
Die hoender sal vir 2-3 dae in die yskas vars bly.
