kategorieë: In die nuus

Humeure en gewere

Is ons, en spesifiek Afrikaanse mans, gewapen en aggressief? Het ons meer wapens as ander mans in die land? Is ons aggressiewer as ander mans? Of is Suid-Afrikaners oor die algemeen aggressief? Ons Mediese Navorsingsraad en die Wêreldgesondheidsorganisasie het die afgelope aantal jaar navorsing hieroor gedoen en het onlangs onderskeidelik verslae uitgestuur met die volgende skrikwekkende syfers:

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Hoeveel wapens het ons?

• In 1994 was daar 2,4 miljoen wapeneienaars, en in 1999 was daar 3 554 335 gelisensieerde wapens.
• Dit het so afgeneem dat daar in 2011 net 1 845 032 gelisensieerde private wapeneienaars met 3 044 759 wapens was. En tans? Die agterstallige aansoeklys van meer as ’n miljoen bring ons by drie miljoen wapeneienaars met tot vyf miljoen wapens. Dus: meer mense met meer wapens.
• Daarby word ’n ontstellende hoeveelheid gesteel. Volgens amptelike syfers is daar in die tien jaar tot 2007 gemiddeld 53 per dag van private persone en ses per dag van die polisie en weermag gesteel. Die totaal kom op
194 960 te staan, wat beteken daar is meer wapens in die hande van kriminele as ooit.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Oor wapens en moord

Hoe raak dit ons moordsyfers? Dit is nou “baie beter” met net 18 mense wat per dag doodgeskiet word. In 1998, voor die Wapenwet ingestel is, is 34 mense per dag doodgeskiet.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Die moordwapen is interessant: In 2009 is 16 835 mense doodgemaak, waarvan 5 513 met ’n wapen en 11 322 met ’n mes, stomp voorwerp soos ’n kierie, of die hand. Dus is 35% van vermoordes met ’n wapen doodgemaak. Die wêreldgemiddeld vir wapenmoord is 42%. Voor die Wapenwet was ons ver bo die wêreldgemiddeld, met 49%.

Wapens as moordtuig het van 2002 tot 2007 so afgeneem: Vir Johannesburg van 69% tot 44%; vir Pretoria en Durban van 60% tot 44%; en vir Kaapstad van 49% tot 33%.

Wie word vermoor? Vir elke een vrou word nege tot elf mans vermoor, meestal weens misdaad. Die 18 skietmoorde per dag sluit in drie vroue wat deur hul lewensmaat vermoor is, wat “intieme moord” genoem word. Voor die Wapenwet is vier vroue per dag deur hul maat doodgeskiet. Dus laat die Wapenwet intieme moord afneem.

Maar wat van ander wapens vir intieme moord? In 1994 was die syfers min of meer gelyk: wapens 31%, messe 33% en stomp voorwerpe soos kieries 33%. Dus word ewe veel vroue met ’n mes of kierie vermoor. Ná die Wapenwet gebeur daar iets interessants: Die intieme wapenmoordsyfer daal met die helfte, terwyl die syfers vir messe en kieries dieselfde bly.

Die oorhoofse gevolgtrekking? Meer wapenbeheer, minder moord; en geen beheer oor messe en kieries nie, met ooreenstemmend geen afname nie. Dit is nie die punt nie, sê Gunfree South Africa, wat ’n skerp toename in wapenmoord verwag.

Beleef ons vroue wapengeweld?

Is dit net syfers en persepsies? Wat beleef vlees-en-bloed vroue soos ons lesers? ’n Paar oproepe lewer verrassend gou oorgenoeg stories op. Min wil hul name bekend maak.

Een van ons bekende persoonlikhede verwoord wat al die ander sê: “As jy hom kwaad maak, word die monster in hom wakker. Dan kom kry die monster jou. Ek is ná agt jaar nog altyd bang, want ek weet hy kan enige dag terugkom en my kom seermaak. Dalk doodmaak. Ek het sy wapens laat konfiskeer maar hy ‘leen’ nou sy pa se pistool.”

’n Tweede een vertel hoe hy dikwels kamma liefdevol met haar gestoei het, maar haar eintlik in ’n wurggreep beetgekry het en eers gelos het as sy “Asseblief, Baas” sê in ’n stemtoon wat hom aanstaan. Soms tien, twintig keer voor hy tevrede was dat sy dit “bedoel”, wat meestal eers gebeur het as sy in trane was.

“Hy het ook dikwels met sy geweer gesit en speel – oopknak, laai, korrel, die koeëls uithaal en die proses herhaal – terwyl hy opmerkings maak soos dat ’n man nie altyd op sy vrou kan staatmaak nie, maar op sy geweer wel.”

’n Derde een vertel haar eks het elke drie maande of so “uitgehaak”. “Die eerste keer skrik jy jou loodkoud. Daarna? Jy gaan elke keer ’n klein bietjie meer dood. Naderhand gee jy nie meer soveel om nie. Jy weet wat gaan kom as hy ’n glasie wyn skink. Jy sê vir jouself ‘hy’s dronk, hy weet nie wat hy doen nie’. Jy’s vasgevang, want hy hou jou dop en begin sy pistool klik as hy dink jy probeer uitglip of iemand bel. Jy kyk hom nie in die oë nie. Dit is beter as jy jou kop laag hou en nie teëpraat nie. Môre is hy spyt en jy hoop-glo dit gaan nooit, ooit weer gebeur nie.”

Is Afrikaanse mans moeiliker?

“Ál ons kultuurgroepe is ekwivalent aggressief teenoor hul lewensmaats,” sê prof. Naeemah Abrahams wat die MNR-ondersoek oor intieme moord in ons land gelei het.

“Daar is wel in alle groepe minder – net effens – aggressie onder mense met meer akademiese opleiding. Ons het oor die algemeen ’n ontsettend aggressiewe kultuur, en op alle gebiede. Ons word as van die aggressiefste bestuurders ter wêreld gereken.

Kyk net hoe ons ligte gooi, indruk en op ander se stert ry om hulle te intimideer.

“Kyk na ons huisgeweldskultuur. Baie ouers straf kinders net met aggressie – en sommer met die vuis, nie eers ’n hou op die boud nie. Mans slaan hul vroue.”

Hannes Venter, ’n woedehanterings-konsultant, sê ons kulturele verwagtings van manlike gedrag veroorsaak binne konflik.

“Aan die een kant moet mans macho wees en hulself aggressief handhaaf; aan die ander kant word veral ons Afrikaanse, swart en Moslemgemeenskappe geleer om jou mond te hou en jou werk te doen. Ons is álmal woedend.

“En moenie glo net mans is aggressief nie. Baie vroue kom spreek my.”

Shelton Kartun, hoof van die Anger & Stress Management Center in Kaapstad, sê ook die vlakke van frustrasie is geweldig hoog onder ál ons mans.

“Die deursnit Eerstewêreldse deel van ons bevolking is kwaad omdat hulle opoffer, benadeel word en verarm, en in ruil daarvoor net korrupsie, onbekwaamheid en agteruitgang sien.

“Die Derdewêreldse deel van ons bevolking is kwaad omdat hulle net so hard werk soos vantevore maar so min soos altyd kry, steeds in krotte woon en nie die geleenthede en beter lewenstandaard het waarvan hulle droom nie.

“Mense kyk die subtieler vorms van woede mis. Ons dink ons is kalm en maar net teleurgesteld of geïrriteerd, of dalk selfs net gefrustreerd. Al drie is vorms van woede.”

Beteken manlike woede manlike aggressie?

Beslis, veral by mans, sê Hannes. “Hulle krop op en snap. Dit is op so ’n oomblik dat ’n man sy vrou rondruk, sy kinders met sy vuiste, mes of kierie bydam, deure en ruite uitskop, padwoede uitleef, kollegas boelie en intimideer … of skiet.

“Verder het ons geskiedenis ons gevorm om ons woede aggressief uit te druk. Die apartsregering en die vryheidsvegters het wyd geweld gepleeg en mans geleer geweld gee jou jou sin, sonder enige regsgevolge. De Doorns, Marikana en Sasolburg is moderne voortsettings daarvan.”

Shelton stem saam: “Álle woede wat nie uitgedruk word nie, bou op en ontplof iewers teenoor iemand. Ons is woedend en ken net aggressie as tegniek om dit uit te druk. Ons weet nie hoe om selfgeldend te kommunikeer en ons so te handhaaf nie.”

Is daar nóg ’n vorm van aggressie? Die vroue met wie ons gepraat het, sê die aggressie lê in sy persoonlikheid. Hy is nie kwaad nie; hy het ’n lelike streep.

Die Amerikaanse skrywer van In Sheep’s Clothing, dr. George Simon, sê mense wat altyd aggressief is, het eerder ’n afwykende persoonlikheidstipe as opgekropte woede. Party is openlik aggressief; ander kanaliseer hul aggressie en is dikwels baie suksesvol in beroepe soos die weermag, polisie en sport. Terapie verander hulle nie.

Hy sê hulle moet tipies altyd “baas” of “wenner” wees; dat hulle die wêreld sien as “ek teen hulle”; dat hulle alle gesag en reëls verontagsaam wat keer dat hulle “wen”; dat hulle geregtig voel op die allerbeste; dat enige aantasting hoe gering ook al van hierdie “regte” hulle woedend maak; dat hulle geregverdig voel in hul woede en dus enige gedrag en leuens daaroor sal regverdig; dat hulle doelbewus die mense wat hulle regte aantas, vikti-miseer; dat baie van hulle van gevaar hou, aktief risiko’s najaag en opvallend onverstoorbaar in gevaarlike omstan-dighede is.

Shelton sê min sielkundiges sal met Simon saamstem. “Dit is waar dat baie mense in woede oorskakel na die primitiewe brein en dus in knee jerk-aggressie ingaan. Maar mense kán hierdie eerste impuls leer moduleer – as iemand hulle dit leer. Ons sien ongelooflike omswaaie in gedrag by selfs die ergste boelies.”

Uiteindelik maak dit nie veel verskil of iemand se aggressie uit sy woede spruit, en of dit ’n integrale deel van sy persoonlikheid is nie. Albei reageer gewelddadig.

Woede en wapens

Kultuur, geskiedenis, opvoeding, persoonlikheid … Met soveel rede vir aggressie is dit geen wonder dat ons reënboog al die skakerings van bloed aanneem nie. Wat doen mense met hul aggressie?

Claire Taylor van Gunfree South-Africa, wie se skoolmaat meer as twintig jaar gelede deur die Norwood-verkragter doodgeskiet is, sê die antwoord is eenvoudig: hulle pluk hul wapens uit.

“Die syfers bewys dit: vandat die nuwe Wapenwet wapens beperk, het die aantal vroue wat met wapens vermoor is van 1998 tot in 2009 van 34% tot 17% gedaal. Daarteenoor het die aantal vroue wat dood is ná hulle met messe gesteek is, of met die hand of ’n kierie geslaan is, diesélfde gebly. As niémand wapens het nie, sal daar géén wapenmoorde wees nie – dit is so logies.”

Naeemah voel ewe sterk daaroor: “Dit is sterk syfers. Wat  ons nié weet nie, is of dit vervang is deur aanrandings, en of  daar dus nou meer vroue met gebreekte ribbes en soortgelyke beserings rondloop.

“Die probleem is nie soseer die wapen nie maar aggressie. ’n Wapen is net baie dodeliker as ’n vuis, mes of kierie. Ons weet byvoorbeeld dat 83% van mense wat met ’n wapen selfmoord wil pleeg, dit regkry, terwyl dié wat pille probeer, meestal in die hospitaal beland en oorleef. Daarom dat wapens duidelik aan sterftesyfers gekoppel kan word. Wapens en aggressie is ’n dodelike kombinasie.”

Maar ons het ’n baie streng Wapenwet. Die meeste van die moorde word sekerlik met ongelisensieerde wapens gepleeg?

Glad nie, sê Naeemah. “Ons navorsing wys dat juis die gelisensieerde wapens in intieme moorde en gesinsgeweld gebruik word.”

Met ander woorde ’n aansienlike aantal mans wat onder ons nuwe Wapenwet as bevoeg beskou word om ’n wapen te mag besit misbruik dit?

Elke polisiekantoor het ’n DFO – designated fire-arms officer. Ons bel een om te hoor hoe sulke mense dan wapens bekom.

Adjudant-offisier Glen (ons hou sy naam vertroulik) sê hy was al baie ontsteld hieroor: “Ek is deel van die bevoegdheids-evaluering vir wapenlisensies en moet vasstel of die aansoeker ’n risiko is. Ek het al ’n hele paar keer iemand afgekeur en stuur my afkeuring in na hoofkantoor. En dan kom dit wragtig terug met goedkeuring. Ek verstaan dit nie.

“Ek kry elke maand vyf tot tien hofbevele om wapens by mense se huise te gaan konfiskeer, en dan dink ek dié soort ding kon vermy gewees het as die lisensieprosedure reg toegepas is.”

Het ons wapens nodig?

Sal ons, soos Gunfree South-Africa voorstel, almal veilig wees as ons almal sonder wapens is?

Martin Hood, segspersoon van die SA Gunowners Assosiation (SAGA) sê dit is nie regverdig of objektief om die wettig gelisensieerde wapeneienaars oor dieselfde kam te skeer as boewe en mense met aggressiekwessies nie.

Martin wys daarop dat ontwapening in Australië en Engeland geen effek op die misdaadsyfer gehad het nie. Ná ons Wapenwet ingestel is, het wettige wapenbesit wel afgeneem, maar dit is nou hoër as ooit, terwyl ons misdaadsyfer dáál. Wettige, verantwoordelike wapenbesit het min met misdaad en gesinsgeweld te doen.

Die boer op ’n afgeleë plaas waar die polisie en ’n sekuriteitsmaatskappy hom nie kan bystaan nie, ’n man wat saam met vriende gaan jag, die vrou wie se man haar dreig, die ma van ’n depressiewe kind wat met selfmoord dreig, die oupa wie se kleindogter haar maatjie met sy wapen doodgeskiet het, en iemand wat al ’n inbreker in sy huis gehad het, sal elkeen vir seker anders daarop antwoord.

Die laaste woord behoort aan Naeemah: “Die werklike, onderliggende probleem is aggressie. Die algehele ontwapening van die publiek haal die gevaar uit die aggressie uit maar dit los nie die aggressie op nie. En dit is waaraan ons eintlik moet werk.”

Wat as hy sy wapen op jou rig?

Laat sy wapen onmiddellik vat.
1 Ingevolge die Vuurwapenbeheerwet word ’n wapen verwyder as hy iemand daarmee dreig, op iemand rig of dit onder die invloed van drank of dwelms hanteer.
2 Gee dit dadelik skriftelik by jou naaste polisiekantoor aan.
3 Die polisie móét onmiddellik al sy wapens verwyder.
4 Hierna volg ’n verhoor by die polisiekantoor. As hy skuldig is, word sy lisensie verwyder.

Wenk As jy bang is, kan jy iemand ánders vra om die klag namens jou aan te gee. En as jou buurman of familielid sy vrou dreig, is dit ook binne jou regte om op te tree.

Kry hulp hier

Jy is respek werd. Jy is ook die een wat die eerste tree moet gee. Wat kan jy doen?

Kyk by www.vitalfoundation.co.za vir stap vir stap praktiese riglyne.

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.