Drie dae. Dis hoe lank kykNET se In die sop: Gastehuisrevolusie–span het om verandering teweeg te bring by gastehuise wat, wel, in die sop is.
Sedert die instelling van hierdie unieke kinkel in die In die sop-reeks, met Janie du Plessis as die aanbieder, het kykers nou vir die eerste keer met die dekorkenner Griki Lubbe kennis gemaak. En dis hoog tyd om hierdie onblusbare gees, vir wie drie dae skynbaar geen groot struikelblok is nie, ’n bietjie beter te leer ken.
Vertel vir ons meer van Griki, die mens, en haar hartsmense.
Ek is lief vir avontuur, veral om in die natuur te wees, en ek skram nie maklik weg van ’n uitdaging nie. Ek’s diep geïnteresseerd in verskillende kulture, reis en die wêreld. Daarmee saam is ek ook na aan my familie en vriende. My happy place is op die oop pad saam met my man en ons dogtertjie.
Wat was vir jou die lekkerste daarvan om deel van die In die sop-span te wees?
Die spanwerk was iets wat werklik vir my uitgestaan het. Almal het sommer net ingespring om te help. Dit was ook baie lekker om tyd in die Vrystaat te spandeer.
En die uitdagendste deel van die reeks?
Om nie heeltemal in beheer te wees van die eindresultaat nie. Met so min tyd en ’n beperkte begroting neem die projek sommer gou ’n identiteit van sy eie aan.

(Foto: Verskaf/kykNET)
Het jy ’n spesifieke aspek waarop jy fokus wanneer jy by ’n projek betrokke raak, of kyk jy na die geheel? Wat ontketen jou kreatiwiteit?
Ek kyk na die basiese beginsels van ontwerp: balans, kontras, fokuspunt, proporsie, skaal, herhaling en hoe dit saam in die spasie werk. Ek hou baie daarvan om te sien hoe jy met dieselfde boublokkies iets kan skep wat werk in die plek van iets wat nie werk nie. Om iets te skep wat die kliënt se storie ook vertel, maak my baie opgewonde.
Jy beskik oor nagenoeg 20 jaar se ervaring in die bedryf. Hoe het jy op hierdie rigting besluit? En as jy weer kon kies, sou jy dieselfde rigting kies?
Ek was van kleins af omring deur kuns. So, ek het geweet ek sal iewers in ’n kreatiewe veld opeindig. Ek dink ek was tussen argitektuur en skone kunste en het toe by interieurontwerp beland. Snaaks genoeg het ek ander dag my aanlegtoetse van hoërskool gesien en interieurs was een van die voorstelle. Dit was spot on.

Jy het bemarking en binnenshuise versiering studeer. Werk hierdie twee goed saam in jou gekose loopbaan, of sal jy dit oorweeg om eendag net op bemarking te fokus?
Interieurs het ’n goeie balans tussen linker- en regterbrein-vaardighede, wat my goed pas, maar ek is net té lief vir lap, kleur en om iets moois te skep om net bemarking te wil doen.
Wat is vir jou die grootste struikelblok(ke) wanneer jy met ’n projek besig is? En hoe hanteer jy daardie uitdagings?
Oor die algemeen sou ek sê die grootste uitdaging is om kreatiewe idees te versoen met ’n beperkte tydlyn en ’n klein begroting. Beskikbaarheid van materiale en vakmanskap raak gewoonweg eers ’n probleem as jy nie tyd of geld het nie. Ek sorg altyd dat daar ’n werkbare plan A, B en C is as ek weet daar is ’n tyd- of begrotingstekort. Só kan mens dan afhangende van die tekortkominge by ’n soortgelyke einddoel kom sonder om heel van voor te begin of heeltemal jou idee prys te moet gee.
Hoe voel jy oor die benutting van kunsmatige intelligensie in jou bedryf?
Daar is definitief ’n plek vir KI om sekere prosesse te vereenvoudig, maar ek sien ook die gevaar van onrealistiese verwagtinge.
Het jy enige raad vir sukkelende gastehuise oor hoe hulle hul verblyf met nuwe oë kan bekyk en dit hopelik weer winsgewend kan maak?
Wit mure en wit beddegoed vat jou baie ver. Skoon en netjies is ’n moet. ’n Vars blommetjie of takkie in ’n vaas is so maklik om te doen en laat ’n gas al klaar spesiaal voel.
In die sop: Gastehuisrevolusie word Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
Lees ook: Leer ken Dirk Jacobs,’In die sop: Gastehuisrevolusie’ se kundige “spioen”
