Verskaf deur WM Media
Veral die ouer garde sal onthou dat daar destyds in talle huise ’n boodskap was, hetsy geborduur met fyn kruissteek of in een van daai swart glasrame met die bloedrooi rose en die blink foelie daaragter, wat die woorde uitgespel het: “Wat is ’n huis sonder ’n moeder?”
Deesdae word hierdie boodskappe heel waarskynlik as vergete aandenkings in liefdadigheidswinkels aangetref. Maar wat allesbehalwe vergete bly, is daardie wonderlike disse wat nét ’n ma vir haar kind kan voorberei – waar die liefde en sorg wat daarin gaan, dit net nog lekkerder laat smaak!
“Kos en familie is albei deel van VIA se DNS, en Moeder bring hierdie twee elemente op die hartroerendste manier saam,” sê Robert Kaden, hoof van inhoud en bemarking by VIA.
“Elke episode onthul die unieke band tussen ma en kind, ’n band wat met elke kyker se hart sal praat. Ons is opgewonde om hierdie spesiale stories saam met Rian van Heerden en die talentvolle span by Provoco aan VIA-kykers te bring.”
En wie is dan nou beter as die veelbesproke Rian van Heerden om die reeks aan te bied. Dié man kan jou laat skree van die lag of jou absoluut briesend laat, maar die een ding wat Rian so merkwaardig maak, is sy liefde vir sy ma, Rona van der Merwe (89), wat hy deurentyd so openlik en eerlik op sosiale media gedeel het.
Tot die verpletterende nuus op Saterdag 12 Julie 2025, toe hy haar verloor het. “Daar is niks erger nie,” erken hy.
In Moeder neem Rian die leiding sodat suksesvolle Suid-Afrikaners weer op hul beurt die geleentheid gebied word om vir hul ma’s dankie te sê, sommer vir alles. Wat hierdie reeks ook nog lekkerder maak, is dat die resepte van die reeks op VIA se webtuiste beskikbaar sal wees.
Die reeks val weg met Mnr. Suid-Afrika 2023, wat ook ’n suksesvolle oogkundige met ’n paar trefferliedjies op sy kerfstok is: Tiaan Massyn. Dan is dié veelsydige man boonop gek oor motors, en dis juis hoe hy sy vrou, Zelné Minnaar – wat self ook motor-betotteld is – gekies het.
Vind uit wat hy en sy ma, Sonia van der Watt, saam in die kombuis gaan aanmekaarslaan. Ook wie die spesiale gas vir hierdie wonderlike geleentheid gaan wees!

‘Moeder’. Foto: Verskaf
Rian gesels oor Moeder
Hoe sal jy Moeder as ’n reeks beskryf?
Moeder is ’n persoonlike reeks oor die baie spesiale band tussen ma’s en hul kinders. Dit wys ook die enorme invloed wat ons ma’s in ons lewens het en hoe hierdie liefde dan ook na ander mense oorgedra word.
Jou eie ma, Rona, is ongeveer ’n jaar gelede oorlede. Hoe het dié ervaring van verlies die manier beïnvloed waarop jy die reeks benader en na ander mense se verhale oor hul ma’s luister?
Dit is juis die verlies van my ma wat die inspirasie vir hierdie reeks was. Ek het spyt gevoel dat ek nie ons hegte verhouding ooit behoorlik sou kon dokumenteer om weer en weer daarna te kyk nie. Ek hoop om met hierdie reeks nie net verhoudings tussen ma en kind te dokumenteer nie, maar dat dit ook die kykers sal inspireer om met nuwe oë na hul eie ma’s te kyk.
Die reeks bring mense uit uiteenlopende wêrelde bymekaar – van entrepreneurs en kunstenaars tot ’n professionele stoeier en ’n internasionale ambassadeur vir mense met downsindroom. Wat het jou verras oor die ooreenkomste tussen hierdie verskillende ma-en-kind-verhoudings?
Dit maak werklik nie saak wie jy is en wat jy in die lewe bereik het nie. Vir ’n ma sal jy altyd net haar kind bly, daardie wese vir wie sy liewer is as vir haarself. En ja, as ma praat, dan luister jy, selfs al is jy die CEO van ’n massiewe besigheid!
Kos dra dikwels herinneringe, tradisies en familiegeskiedenis oor. Hoe word kos in Moeder gebruik om gesprekke moontlik te maak wat die gaste andersins dalk moeilik sou vind om te hê?
Kos bring inderdaad heelwat herinneringe terug. Maar ek het agtergekom dat dit juis die proses van die kook van ’n gunstelingdis is wat altyd daarin slaag om gevoelens en herinneringe wakker te maak. En veral wanneer jy die geleentheid kry om met daardie gunstelingdis vir jou ma te kan sê wat sy in jou lewe vir jou beteken het, is dit ongelooflik spesiaal.
Bekendes se beeld wat hulle na buite voorhou, word gewoonlik deur hul prestasies en openbare doen en late gedikteer. Wat gebeur wanneer hulle nou saam met hul ma’s voor die kamera moet sit en bloot net iemand se seun of dogter moet wees?
Die reaksie is universeel: Hulle word weer kinders. En natuurlik bly ma se woord wet!
Het die maak van Moeder jou laat nadink oor dinge wat ons vir ons ma’s behoort te vra of sê terwyl ons nog die geleentheid het – en wat hoop jy sal kykers ná elke episode anders doen?
Ongetwyfeld. Dit is werklik so belangrik dat jy sonder om enige tyd te verspil, vir jou ma vertel watter belangrike rol sy in jou lewe gespeel het en nog steeds speel. Wat ook nie agterweë gelaat moet word nie, is dat sy moet weet: die lesse wat jy by haar geleer het, sal in jou eie lewe en dié van jou nageslag voortleef.
Moeder word vanaf Vrydag 24 Julie om 18:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.
Lees ook: Komplekse verhouding van twee vroue belig in Kortfilm ‘As ek kon kies’
