Deur Carla van der Spuy
Daar is al gesê ’n lae selfbeeld is soos om deur die lewe met ’n handrem aan te bestuur.
Party mense het te veel selfvertroue, ander te min. Dan is daar diegene wat selfversekerd is sonder dat hulle daarin slaag om jou bloed van verontwaardiging te laat borrel. Om te veel selfvertroue uit te straal, kan as arrogant beskryf word – of selfs aan iemand met narsistiese persoonlikheidstrekke toegedig word.
’n Gesonde hoeveelheid selfvertroue is egter ’n bate omdat jy ondanks jou sukses steeds die son oor ander wil sien skyn. Dit is wat van iemand met ’n goeie emosionele IK verwag word.
Henry Ford se woorde was dat jou denkwyse ’n kragtige uitwerking het op jou vermoë om te slaag.
Dit is benadruk deur onlangse navorsing deur die Universiteit van Melbourne wat bevind het dat selfversekerde mense beter salarisse ontvang en gouer as ander bevorder word.
Die oorsprong van selfvertroue
Die sielkundige dr Hermann Liebenberg skryf te veel of te min selfvertroue aan ’n mens se “lokus van beheer” toe. Dit beteken dat ’n goeie sowel as ’n swak selfbeeld dieselfde oorsprong het, hetsy dit weens genetiese of aangeleerde gedrag is wat as gesonde en funksionele selfvertroue óf minderwaardigheid en wanfunksionele lae selfvertroue manifesteer.
“Lokus van beheer” dui aan of die persoon die goedkeuring van ander nodig het om te funksioneer (eksterne lokus van beheer) of op die eie self fokus (die interne lokus van beheer). Laasgenoemde is dus nie afhanklik nie of is minder afhanklik van ander se goedkeuring om in beheer van hul lewe te kan wees.
’n Interne lokus van beheer wat te sterk is, kan ongelukkig ook op oordrewe selfvertroue dui. Dit verg ’n gedragskundige om die onderskeid tussen ’n gesonde of swak selfbeeld te tref. Hermann sê: “Hierdie lokus van beheer kan ’n aanduiding wees van aspekte wat die kind vanaf ouerfigure aangeleer het en dan word selfvertroue of ’n gebrek daaraan weerspieël.”
“Kinders boots dikwels die gedragspatrone van hul opvoeders na en dit manifesteer dan as gesond of ongesond. Die uiterste vorm van selfvertroue word dikwels as narsisme beskou.”
Hermann wys daarop dat narsisme, wat ’n ekstreme en patologiese aspek van ’n verwronge selfbeeld is, gewoonlik sy oorsprong in sterk minderwaardige gevoelens uit die kinderjare het.
“Hoewel die persoon wat duidelik minderwaardig voel, moontlik aan dieselfde gedrag van die tipiese narsis blootgestel is, het die brein nie selfbeskermende meganismes aangeleer om die effek teen te werk nie. Dit terwyl die narsis se selfverdedigingsmeganisme vir die gevoelens van minderwaardigheid oorvergoed.”

Hoe lyk iemand met selfvertroue?
- Kenners reken selfversekerde mense is daardie mense wat nie nodig het om hulself te besing, ’n valse front voor te hou om hul eie onsekerheid te probeer verbloem of hul eie beuel te blaas nie. Dis mense wat altyd in beheer is en wat ander inspireer.
- Hulle het nie ander se goedkeuring nodig nie. Hulle weet wie en wat hulle is.
- Hul verbale en nie-verbale taal stem ooreen.
- Hulle bekommer hulle nie oor dinge wat buite hul beheer is nie.
- Hulle skroom nie om ander om hulp te vra nie. Hulle dink nie dit laat hulle swak of dom lyk nie.
- Hulle is oortuigend en saai geen twyfel oor hul doelwitte nie. Hulle struikel nie oor hul woorde en gedagtes nie. Sinne soos “Ek is nie seker nie” bestaan nie in hul woordeskat nie.
- Hulle kan ’n besluit neem en daarby hou.
- Hulle erken as hulle ’n fout gemaak het.
- Hulle beskik oor deursettingsvermoë.
- Hulle geluk kom uit ’n innerlike bron en is nie van faktore van buite hulle af afhanklik nie. Geluk is ’n belangrike aspek van selfvertroue. Jy moet gemaklik in jou vel wees.
- Hulle is nie veroordelend nie. Hulle besef dat elkeen van ons sterk- en swakpunte het. Hulle vind dit glad nie nodig om op ander neer te sien om beter oor hulleself te voel nie.
- Hulle laat hulle nie manipuleer om iets teen hul sin aan te pak nie. Hul ja is “ja” en hul nee “nee”.
- Hulle luister meer as wat hulle praat. Deur aan ander aandag te gee, is daar meer geleenthede vir leer en groei. Die interaksie met ander is vir hulle belangrik.
- Hulle daag hulself graag uit en vier klein oorwinnings.
- Baie selfversekerde mense bly fiks. Dis natuurlik glad nie verbasend nie aangesien oefening endorfiene in die liggaam vrystel wat tot ’n positiewe gesindheid bydra. Navorsing wat by ’n navorsingsentrum in Oos-Ontario gedoen is, het bevind dat mense wat oor ’n tydperk van tien weke twee keer per week oefen op sosiale, akademiese en atletiese gebied presteer.
- Hulle is nie aandagvrate en wanhopig vir die kollig nie, maar bly hul outentieke self eerder as om voor te gee dat hulle belangrik is. Selfversekerde mense sal nie skroom om die aandag van hulself af te lei na diegene wat hulle gehelp het om hul drome te bereik nie.
- Hulle verkies om uit hul foute te leer, eerder as om daaroor te wroeg en dit as ’n persoonlike vernedering te beskou.
- Hulle neem risiko’s en loop die ekstra kilometer. En dan gaan hulle voluit. Vrees is nie ’n struikelblok nie en hulle weet ook wie nie waag nie, wen nie.
- Hulle is opgewonde oor ander se sukses en deel komplimente uit wanneer dit verdien word.

Kinders met ’n lae selfbeeld
Linda van Niekerk, ’n opvoedkundige sielkundige, vertel dat kinders met ’n lae selfbeeld dikwels na haar verwys word omdat hulle tekens van emosionele, gedrags- of leerprobleme toon.
Hierdie kinders kom soms angstig, onseker en ongelukkig voor, en hulle het min waagmoed. Hulle twyfel in hul eie vermoëns en vrees dat as hulle iets nie regkry nie, hulle nie meer aanvaar sal word nie. Só ontneem hulle hulself van geleenthede om hul volle potensiaal te bereik.
’n Lae selfbeeld beïnvloed ook kinders se sosiale ontwikkeling en aanpassing. Hulle kan oorafhanklik van ander se goedkeuring wees en dan oorkonformeer omdat hulle in hul eie oordeel twyfel. Onderliggende angs kan tot weerstandige of vermydende gedrag lei wat weer tot gevolg het dat hulle volstrek weier om aan ’n aktiwiteit deel te neem.
’n Lae selfbeeld kan op verskillende maniere manifesteer en selfs ’n skoolboelie vol bravade mag moontlik ’n lae selfbeeld hê, sê Linda. Hierdie kinders is dikwels baie mededingend en vind dit moeilik om enige mislukking te verstaan en te hanteer. Hulle is geneig om ander te blameer as hulle ’n fout begaan het. Hulle stoei met skeidingsangs omdat hulle in hul eie vermoë om ’n taak onafhanklik uit te voer twyfel.
Hierdie kinders soek soms op ’n negatiewe manier aandag deur die klas te ontwrig en erg luidrugtig voor te kom of destruktiewe gedrag te toon. Hulle word dan ook as stout geëtiketteer wat verdere negatiewe gedrag versterk.
Linda sê die gehalte van kinders se verhouding met hul ouers of primêre versorger in die eerste drie jaar van hul lewe speel ’n kardinale rol in die opbou van ’n positiewe selfbeeld.
Kinders wat erken en aanvaar word vir wie hulle is, voel geliefd en ontwikkel ’n sin van eiewaarde. Babas wat vertroetel, gesus en onvoorwaardelik aanvaar word, vorm ’n veilige band met hul primêre versorger en leer só om ander te vertrou. Dit vestig by hulle ’n wete dat hulle belangrik en geliefd is wat tot ’n positiewe selfbeeld lei.
Lees ook: Help jou kind se leesvaardighede aan

Bou hul selfbeeld
- Ontspan saam met jou kinders. Gee vir hulle positiewe aandag en toon belangstelling in dit wat vir hulle belangrik is.
- Aanvaar jou kinders se ontwikkelingsvlak, fisieke eienskappe en basiese temperament. Vermy etikette.
- Bied vir hulle ’n voorspelbare en veilige omgewing om in groot te word.
- Pas reëls verstaanbaar en konsekwent toe.
- Straf moet op ’n redelike manier toegepas word en hulle moet die gevolge van hul keuses dra.
- Vermy lyfstraf te alle tye aangesien dit ’n kind se selfbeeld kan skend.
- Waak daarteen om enige wrokke teen kinders te koester.
- Moedig jou kinders aan, kommunikeer vertroue en koester realistiese verwagtinge. Fokus op die poging eerder as die suksesvolle voltooiing van die einddoel.
Ten slotte, sê Linda, dink net aan die wyse Amerikaanse presidentsvrou Eleanor Roosevelt se woorde: Niemand kan jou minderwaardig laat voel sonder jou toestemming nie.
Bronne: www.asaporg.com, www.forbes.com
Lees ook: 5 wenke om jou kind empatie te leer
