Teen die einde van die tweede episode van Die oord, wat verlede week op kykNET uitgesaai is, lyk almal in Kalfiebaai verdag. In dié klein kusdorpie het almal skynbaar ’n motief en iets om weg te steek.
Net wanneer jy dink die stukke van die legkaart begin in plek val, trek episode 2 die mat onder jou voete uit en laat jou met nege brandende vrae wat jou nie wil laat los nie.
-
Is “Prediker” regtig terug – of is dit ’n na-aper?
Martie is oortuig die moordtoneel is die werk van “Prediker”, maar subtiele verskille begin na vore kom. Is dit ’n ysingwekkende terugkeer of iemand wat ’n grusame moordritueel naboots?

-
Is Paul die hoofverdagte?
Paul raak met elke minuut moeiliker om te lees. Hy is bebloed op die strand gevind, raak defensief onder druk en is toenemend plofbaar. Sy gedrag werp meer vrae op as antwoorde. Probeer hy sy skuld wegsteek, of is daar iets veel meer sinister aan die gang wat iets met sy “regte” pa te make het?

-
Hoekom verdink Brandi Jacobs net die Cobras?
Brandi hou vol dat die Cobras met die moord ’n skrikbewind in Kalfiebaai wil begin voer. Maar is sy werklik besig om die bewyse te ondersoek of word haar oordeel vertroebel deur haar verlede, wat haar leidrade laat miskyk?

-
Wat probeer burgemeester Hester Bruwer wegsteek?
Burgemeester Hester Bruwer is gretig om orde te handhaaf, maar haar koorsige pogings om almal te kalmeer voel effe desperaat. Beskerm sy net die dorp se beeld, of verbloem sy iets wat alles kan laat ontrafel?
Die werklike vraag is: Watter geheim lê al meer as 20 jaar begrawe?

-
Is Jacomien se obsessie meer as net ’n stokperdjie?
Jacomien se fassinasie met moord en gruwelfliekgrimering begin ’n bietjie agterdogtig lyk. Is sy bloot ’n passievolle student, of is sy dalk net té vertroud met skrikwekkende moordtonele?

-
Kan jou binnekring jou ondergang wees?
Stefan se vriende is vasbeslote om die fynere besonderhede van wat op die strand gebeur het, geheim te hou. Wat keer hulle om die waarheid oor hul vriend se moord te vertel? Hulle het nie net een keer gelieg nie, maar twee keer.

-
Wat weet Juanita?
Juanita, Elsabé se beste vriendin en Drikus se minnares, veroorsaak ’n stil spanning waar ook al sy gaan. Affairs het ’n manier om versteekte bande bloot te lê. Was sy dalk betrokke by die gebeure wat tot die moord gelei het, of is sy net bang dat haar eie geheim op die punt staan om op die lappe te kom?

-
Waar is Witblits?
Witblits mag onsigbaar wees vir die mense van Kalfiebaai, maar hy sien en hoor alles. Hy weet moontlik al presies wie die moordenaar is, maar die groter vraag is: Hoekom het hy die burgemeester ontvoer?

-
Moet ons op Lukas du Preez begin fokus?
In die slottoneel noem Lukas vir Stefan “Kalfiebaai se kroonprins”. Blote toeval? ’n Mens wonder as jy dink aan die kroon wat op die moordtoneel gevind is. Met Stefan se diep godsdienstigheid is ’n moontlike skakel met die “Prediker” nie vergesog nie, en dalk veel meer betekenisvol as wat dit op die oog af lyk.

Met elke episode versterk Die oord sy wurggreep, en vervaag die lyn verder tussen waarheid en misleiding, geloof en vrees, skuld en onskuld.
Wie kruip onder almal se neuse weg?
Die oord word Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
Lees ook: Opera-legende Mimi Coertse (93) oorlede

