kategorieë: Blogs

Kanker, familie en vriende

Die weke vloei ineen, voel dit vir my. Chemo, erge naarheid vir vier of vyf dae, beter voel vir vyf dae of so, gevolg deur asmatiese bronchitis, antibiotika vir vyf dae, beter voel vir vyf dae en dan weer chemo. Tussendeur is daar die tango-lesse wat my by tye amper-amper onderkry. Jaun se ondersteuning is kosbaar en broodnodig.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Ek is nou byna heeltemal haarloos. Selfs die fyn hare op my arms het verdwyn. Danksy die getatoëerde wenkbroue lyk dit darem asof ek nog iets dáár het. Ek kan my wimpers nou tel. Daar is tussen ses en agt aan elke boonste ooglid, terwyl die onderste ooglede poedelkaal is. Ek behandel die oorblywende wimpers met teerheid en groot respek. Vasbyters. Waar is die dae toe ek vies was omdat my wimpers nie so lank, donker en welig was soos ander mense s’n nie?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Nuwe newe-effekte steek kop uit. By tye sukkel ek om te sluk. Dit is al asof daar iets in my keel vassit wat maak dat ek nie kos, water of kapsules kan afkry nie. Erge sooibrand pak my soms beet – dit voel soos ‘n vuurwarm klou met lang naels wat my slukderm in ‘n greep van yster vasgryp en druk. Die onontbeerlike naarmedisyne maak dat mens se maag nie wil werk nie, maar soms is daar onverwags diaree. Mens se vel word so droog soos handoekpapier en so dun soos sy. Ek het skielik ‘n indrukwekkende hoeveelheid nuwe plooie. Daarby pak die kilogramme aan. Die hormoononderdrukker tesame met die kortisoon veroorsaak ‘n onversadigbare eetlus tussen die vlae naarheid deur.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Wanneer ek in die spieël kyk, sien ek ‘n ouer, ronde, haarlose vrou met een bors, maar sy het darem nog Madelein se oë, neus en mond.

Jaun, my familie, my vriende en kollegas is deurentyd dáár met bemoedigende gebare. Ek kry gedurig telefoonoproepe, teksboodskappe en e-posse van geliefdes. Ek bestel stout grappies by my sussie, Hannelie, en my vriendinne vir chemo dae. Dit is op daardie dae wat ek so wil giggel dat ek heeltemal vergeet van die behandeling. Dit werk. Soms is die grappies so onnutsig dat dit my asem wegslaan. Die ander pasiënte kyk met ‘n mengsel van nuuskierigheid, geamuseerdheid en afguns na my. Ek is seker hulle wens dat hulle kan bestel wat dit ook al is wat ek in my drip het.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Tussen dit alles deur is ek bewus van my mense se gevoel van magteloosheid. Hulle wil help, maar daar is absoluut niks wat hulle kan doen nie. Kanker is onvermydelik ‘n alleending. Net een mens kan die pad stap, hoewel geliefdes langs die pad kan staan en cheer. My seun, Nico, vertel my dat hy wens hy kon die kanker vir hom vat sodat ek dit gespaar kan wees.

Jaun het dieselfde wens.

Wanneer ek hierdie dinge hoor, borrel die weerstand in my op saam met ‘n gevoel van liefde en deernis. Want dié ding isMYNE. Dit is vir mý gegee omdat ek iets moet leer, omdat ek iets moet doen, ryper moet word, beter moet word, ander moet help. Selfs al was dit moontlik sou ek die siekte en die behandeling nooit, ooit vir niemand anders gee nie. Daar is ‘n rede vir hierdie hoofstuk in my lewe en ek weet as my kop oop bly sal ek kan doen of leer wat gedoen of geleer moet word. Die hoofstuk moet suksesvol afgesluit word sodat ek kan aanbeweeg en iets vir ander kan beteken. Ek is geseënd met hierdie bemoeienis wat God met my maak.

Ek, haarloos, rond en naar, bevind my op ‘n stormsee, maar ek sit veilig in ‘n bootjie van genade.

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

6 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

6 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

7 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

7 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.