kategorieë: Leef gesondGesondheid

Kankerversorgingsgids

Volgens ons Nasionale Kanker-register se jongste syfers (2012) is Suid-Afrika se leeftydrisiko 1/15 vir wit vroue, 1/21 vir bruin vroue en 1/20 vir Indiërvroue. Vir swart vroue is dit 1/53. Dus sal 94 tot 95 uit elke 100 van ons tipiese lesers nóóit borskanker kry nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

• 89% van vroue wat borskanker kry, is vyf jaar later steeds met ons. Dus: jy kán oorleef.
• Byna net soveel – 83% – haal die tienjaarmylpaal.
• Meer as drie kwart (78%) is 15 jaar later nog hier, met ’n normale lewe.
• 84% van vroue met herseptien-positiewe kanker oorleef tien jaar.
• Wat as dit sleg gaan? Selfs al het jy stadium 4-borskanker, is jou kans om meer as vyf jaar te leef een uit vier.
• Maar jy kan keer dat jy in so ’n situasie kom. Hoe vroeër jy borskanker opspoor, hoe meer kersies op die koek vir jou vorentoe: 90% van vroue wat op stadium 2 is en 72% van vroue wat op stadium 3 is, oorleef.
• Ás borskanker hervat, gebeur dit gewoonlik binne vyf jaar. As jy ná vyf jaar nog kankervry is, is jou kanse op permanente remissie uitstekend.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Al wat jy moet vrees, is om jou borsondersoek te vergeet

Die goeie syfers

Soms moet jy net die gegewens onderstebo bekyk om te sien hoe volop die goeie nuus is.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Pak dit iewers uit

Jy is ook net ’n mens. Soms het jy ’n goeie huilsessie nodig. Soms wil jy sommer net uitdruk hoe jy voel, sonder raad of antwoorde. Party van ons het selfkoestertyd in ons eie warm grotjie nodig terwyl ander groot troos op facebook of ’n blog kry. Dit is nie beter of slegter nie. Al wat saak maak, is dat dit jou ondersteun.

1 uit 3 000: die getal swanger vroue wat borskanker kry

Skaars soos dit is, gebeur dit sowaar én meer as tevore. Dr Justus Apffelstaedt, Kaapse borskankerspesialis, sê dit is omdat ons swangerskap uitstel na die tyd wanneer borskanker begin toeneem. Daar is ook goeie nuus: swangerskap vererger nie borskanker nie. Jou kanse op herstel is net so goed soos ander vroue s’n.

Wat jy moet weet van knoppies tydens swangerskap
• Dit is báie belangrik dat ’n knoppie in die bors tydens swangerskap nie as sommer net swangerskapveranderings afgemaak word nie.
• As jy ’n knoppie vermoed, gaan dadelik vir ’n borssonar. Die risiko weens die bestraling van ’n mammogram is nou klein maar nietemin dáár. Omdat jou borsweefsel nou digter is, kan ’n mammogram tot 40% van kankers mis, teenoor net 5% – 10% by nie-swanger vroue.
• As daar ’n knoppie is, móét jy vir ’n diknaaldbiopsie gaan.

Nog drie dinge om jouself te beskerm
• Doen jou maandelikse borsondersoek elke maand van jou swangerskap.
• Dit is selfs belangriker as jy ouer en swanger is, want borskanker slaan meer dikwels toe by swanger vroue van 32 tot 38.
• Probeer om jou gesin voor 32 te voltooi.

Wat vir my gehelp het

‘Oefening het my positief laat voel’ – Anet Schoeman, ses jaar later.

Chemoterapie en bestraling tap jou energie. Maar te veel rus laat jou nie uitgerus voel nie. Jou spiere en bloedsomloop verswak, wat jou nóg moeër maak. Wat jy nodig het, is gereelde, matige oefening, wys navorsing.

Oefening maak ook jou kop skoon van al die ander spanning en emosionele wroeging wat komplimentêr saam met die diagnose kom.

Watter soort oefening?
Stap, joga en swem is goed vir almal. Swem is laeimpakoefening en jou liggaam word deur die water ondersteun as jou gewrigte seer is. Kry vir jou ’n poelnoedel om jou te help dryf as jy nie ’n watwonderse swemmer is nie. Bestraling kan jou vel te sensitief maak vir chloorwater.

Kyk hierdie video vir idees vir oefeninge in die swembad
Jy kan selfs in die bed oefen met hierdie video
En hier is ’n video vir strekoefeninge in die bed

Hoe begin jy?
• Gesels met jou dokter of onkoloog voor jy wegspring.
• Begin stadig – al is dit net tien minute se ligte oefening per dag.
• Hou dit prettig en probeer dit saam met ander mense doen. Sosiale kontak is net so belangrik soos oefening.
• Hou by matige oefening. Moenie so oefen dat dit jou tam maak nie.

Ligloop hiervoor
• As jou witbloedselle laag is, is jou immuniteit laag en moet jy groepe mense (soos by ’n gim of besige park) vermy.
• Moenie oefen as jy erge pyn het, naar is of vomeer nie.
• As jy senuweeskade, gevoelloosheid in jou voete en probleme met balans het, kan jy makliker val. Oefen dan liewer op ’n agteroorsitfiets as die trapmeul.
• Laat jou dokter dadelik weet as jy ongewone simptome soos geswelde enkels, duiseligheid, onduidelike sig en kortasemrigheid ontwikkel.

Trek die aandag weg van jou borste met aksente soos ’n hoedjie, sterk bril-raam of ’n bypassende serp om jou skouers

Wat vir my gehelp het

‘Tepelrestourasie het my weer bekend vir myself laat voel’ – Jo-Lize Groenewald, ’n jaar ná diagnose.

As daar iets soos ‘lekker’ aan ’n mastektomie is, is dit die helende ervaring dat jy weer tepels en areolas het.

Tuitjies. So noem André Brink tepels in Vlam in die Sneeu, die versameling van sy en Ingrid Jonker se liefdesbriewe. Poëties en soveel mooier. Mooi vóél is juis so belangrik vir ons ná al die trauma en verwonding van borskanker op soveel vlakke van vrou-wees.

“Die diepste, gelukkigste oomblikke van my lewe is die heelheid wat oor ’n vrou se gesig kom as sy haar nuwe tatoeëertepels het. Sy glimlag ánders. Tevrede. Dalk is dit net ek wat so dink?”

Tanya Swiegers-Loots se oë blink van passie vir haar nuwe werk. Sy is ’n suksesvolle kunstenaar met werke in bekende galerye. Of wás, want sy het dit verruil vir tepeltatoeëring. Of tepel/areola-restourasie deur middel van dermapigmentasie, soos dit medies genoem word.

“Ek kon nie nee sê vir die Here nie. Hy berei my al vyftien jaar lank vir hierdie werk voor. My Godsgawe is superrealisme. As daar iemand is wat ’n tepel driedimensioneel kan teken, is dit ek. Ek is gebóre vir hierdie werk.”

Haar storie begin met haar eie mastektomie:

“Ek dra die kankermutasie van die BRCA 1-geen en moes my borste drie jaar gelede laat verwyder. Albei.

“Toe ek in die teater ingestoot word, hoor ek die een suster in die verbygaan vir die ander een sê ‘ons amputasiepasiënt is hier’. Jou kop weet jy het nie borste ná jou babajare nodig nie en jy laat die woord verbygaan en druk deur met die ‘mastektomie’, soos jou dokter dit noem.

“Maar jou psige verras jou. Eendag, agt maande ná my mastektomie, lê ek op my maag en besef hoe intens ek my warm, sagte borstehobbeltjies mis. Daardie woord ‘amputasie’ slaan toe eers in. Diep.

“Ek is ’n nugter soort mens en gaan dus vir ’n rekonstruksie. Ek het dit so positief en hoopvol aangepak en gedink nou gaan alles reg wees. Dit was nie, want my rekonstruksie kon my nie tepels gee nie. In die spieël het my lyf vreemd bly lyk. Bot. Stomp. Herstel is ’n héle bors met tepels en areolas. Ek het hulle óók gemis.

“Dit is hoe ek begin nalees en op dermapigmentasie vir tepelrestourasie afgekom het. Toe ek rondvra, besef ek gou wat ek wil hê, is nie beskikbaar nie. In elk geval nie plaaslik nie. Oorsee is dit ’n gevestigde deel van jou reis na herstel maar nog nie by ons nie. Dit wat ek op die web gesien het, was pragtig. Plaaslike pogings was kosmetiese tatoeëring. Die meeste het gewissel van blote velpigmentering tot ’n hoogstens tweedimensionele effek. Dit het my laat besef dat ek uniek bekwaam is hiervoor.”

Tanya het aan die werk gespring en webfoto’s bestudeer. “Tepels is méér as net kleurpigment. Die ‘doek’ waarop jy werk, is nie plat nie. Die borste is ná chirurgie meestal onegalig en vol klein tot groter littekens. Jy moet kyk hoe jy die beskikbare kan inpas.”

Met ’n idee van wat sy wil doen, het sy eers met doodgewone grimering op haarself geëksperimenteer tot sy tevrede was dat sy ’n werklik realistiese tepel met sy areola kan skep. Gewapen met foto’s daarvan is sy terug na dr. Christiaan Gildenhuys, haar dokter by Tygerberg- hospitaal in die Kaap, en teen dié tyd haar vertroueling.

Hulle was verruk met haar idee, wat haar op die pad van behoorlike opleiding in paramediese tatoeëring geplaas het. Ná baie kursusse en baie meer ure se oefen op varkvel het sy gekwalifiseer en op pasiënte van Tygerberg-hospitaal begin werk. Vandag het sy haar eie praktyk in Worcester, met die beste medies goedgekeurde toerusting en tatoeëer-ink van mediese gehalte.

“Dit kom vir my natuurlik. My nuwe doeke is nou vel en my verf is ink. Net soos met my skilderye is ek broeis oor elkeen van ‘my’ mensewerke. Ek was ook daar en ek weet hoe sy voel. Elkeen wat ek help, voel soos ’n stukkie genesing vir myself. Al klink dit dramaties om dit so te stel is dit ’n ervaring soos om jou doodskleed uit te trek en in ’n nuwe blommerokkie-van-die-lewe in te glip.
• Kontak Tanya op www.breastrestore.co.za

Wat vir my gehelp het

Klere wat nie wys dat my borste verskil nie – Nadia Viljoen, ses maande ná diagnose.

Verbloem met slim style

Is jou borste ná chirurgie oneweredig? Toppies met detail soos strikke en plooitjies versag jou kurwes en steek dit weg.

Wat vir my gehelp het

‘Ek kon my dogter gerusstel’ – Nerine van Wyk (48) twee jaar ná diagnose.

’n Mens vergeet dat as jy borskanker kry, jou dogter ook angstig word oor haar eie, geïmpliseerde risiko. Jy voel ’n bietjie aandadig. Maar kennis is mag, sê hulle. Ons het by prof. Justus Apffelstaedt, Kaapse borskankerspesialis, gaan hoor wat jou borskanker vir jou dogter impliseer.

Jou kanker is ER+

Wat dit beteken
• Jy het estrogeenreseptor-positiewe kanker. Dit word soms estrogeensensitiewe of hormoonsensitiewe borskanker genoem.
• Dit beteken estrogeen stimuleer kankerselle om te groei.
• Estrogeen is een van jou liggaam se eie hormone, en dit is saam met ander hormone verantwoordelik vir jou vroulike eienskappe soos borste en kurwes, menstruasie en vrugbaarheid. Jy kan ook estrogeen van buite af kry, soos uit die Pil, planthormone, hormoonterapie vir die menopouse en uit kos soos soja. Om een of ander onbekende rede stimuleer jou eie en/of eksterne estrogeen kankergroei by jou.
• Uit elke vier vroue het drie ER+ borskanker en een het ER- borskanker.

Voordele, nadele en dinge om te onthou
• Jy het tyd aan jou kant, want ER+ kankers groei stadiger as ER- kankers.
• ER+ kankers reageer baie goed op hormoononderdrukkers, soos tamoxifen.
• ER- kankers is skaarser en het minder behandelingsopsies maar chirurgie en chemoterapie werk baie suksesvol as hierdie kankers vroeg opgespoor word.
• As jy ER+ is, moet jy jou nie weer aan estrogeen in enige vorm blootstel nie. Vermy dus die Pil, hormoonvervanging, alternatiewe middels vir die menopouse wat planthormone bevat – enige iets met hormone, al is dit van plante of natuurlik.
• Daar is ’n hewige debat oor soja: party navorsing koppel soja aan borskanker, terwyl ander glo dat die Oosterlinge wat selde borskanker kry juis deur soja beskerm word. Maar die Oosterlinge gebruik gefermenteerde soja, soos tofu, terwyl ons dit as ’n verwerkte plantproteïen gebruik – meestal in kitskosse, gesondheidskosse en dieetprodukte. Miskien is jy tog veiliger as jy soja vermy. Kyk op die etikette vir “soy”.

Wat impliseer dit vir jou dogter?
Dit hang af van wanneer jy borskanker ontwikkel het. As dit voor jou menopouse was, moet sy liewer nie hormonale voor-behoeding soos die Pil of Mirena gebruik nie. As dit daarna was, behoort hormone vir haar veilig te wees. Dit is vermoedelik beter as sy haar gesin op ’n jonger ouderdom begin, en as sy langer eerder as korter borsvoed. Sy moet van veertig af elke jaar vir ’n mammogram of mammosonar gaan. Soos jy, is sy waarskynlik veiliger sonder soja.

Jy het HER2+ borskanker

Wat dit beteken
Selle van hierdie kankers het baie HER2-reseptors en neem dus ’n spesifieke proteïen baie goed op en daarom groei die kanker baie suksesvol. Dit word ook HER2-positiewe kanker genoem.

Een uit vyf tot een uit drie kankers is HER2-positief. Maar die meerderheid is HER-negatief, of kortweg HER-.

Voordele, nadele en dinge om te onthou
• Die slegte nuus is dat HER2+ kankers aggressiewer is, met ’n groter kans dat dit sal terugkom. Maar die goeie nuus is fantasties: die kankerterapie, Herceptin, sorg dat 84% vroue met HER2+ kanker herstel.
• Wat as jy nie herseptien kan bekostig nie? Die oorlewingsyfer is 75%, wat nie sleg vergelyk nie.
• As jy HER2+ is, moet jy ekstra bedag wees op tekens van kanker van die longe, maag, eierstokke, pankreas en speekselkliere.

Wat impliseer dit vir jou dogter?
Dit lyk asof estrogeen help keer dat ’n oormaat HER2-proteïen gemaak word. Die Pil is dus redelik veilig vir haar. Maar sy moet dit met haar dokter bespreek. Net soos jy behoort sy elke maand haar borste te ondersoek en van veertig af aan elke jaar vir ’n mammogram en mammasonar gaan.

Jy het ’n sist

Wat dit beteken
’n Sist voel soos ’n kankerknoppie maar dit is net ’n sakkie vol vloeistof.

Voordele, nadele en dinge om te onthou
• Dit is gewoonlik onskadelik. Maar jy sal eers weet nadat dit ondersoek is.
• Siste kan terugkeer maar moenie “mak” raak en dit as net nog ’n sist afmaak nie. Énige en elke knoppie kan kanker wees. Laat alle soort knoppies ondersoek.

Wat impliseer dit vir jou dogter?
Dit het niks met kanker te doen nie. Maar sy moet steeds haar borsondersoek elke maand doen.

Wat vir my gehelp het

‘Beheer oor my hare’ – Melanie Matthee, elf jaar ná diagnose.

Berei jou voor en maak ’n besluit oor hoe jy jou haarverlies gaan hanteer. Trikoloog Trevenen Bam gee raad oor wat om te verwag.

As jou behandeling haarverlies veroorsaak, sal jou hare én lyfhare twee tot vier weke ná behandeling begin uitval. Dit kan vinnig of geleidelik gebeur. Jou kopvel kan ook teer voel. Jy kan niks daaraan doen nie maar jy kan jou daarop voorberei, en frustrasie en angs daaroor beperk.

Voor jy met terapie begin

Behandel jou hare sagkens
• Moenie jou hare permanent golf, kleur of bleik nie; dit beskadig jou hare. Laat jou hare self droog word en vermy warm stileertoe-stelle soos haarysters, krultange en warm rollers.
• Oorweeg dit om jou hare te sny. Kort hare lyk voller as lang hare, en haarverlies wys minder. Dit maak oor die oorgang na geen hare minder ingrypend. As jou hare begin uitval, sal dit minder sigbaar wees as jou hare kort is.

Beplan hoe jy jou kop gaan bedek
• Dit is een ding waaroor jy beheer het. Besluit of jy ’n pruik gaan dra, ’n serp gaan ombind, of niks gaan doen nie. Vra jou dokter om vir jou ’n voorskrif vir ’n pruik te gee, want sommige mediese fondse kan help om die koste te dek.

Tydens terapie

• Werk saggies met jou oorblywende hare
• Gebruik ’n sagte borsel
• Was jou hare slegs wanneer nodig
• Gebruik sagte sjampoes soos Philip Kingsley No Scent No Colour Shampoo & Conditioner. Hy het die produkte ontwikkel toe sy vrou chemoterapie gekry het. Dit bevat geen kleur, parfuum of sulfate nie.
• Oorweeg dit om jou hare te skeer as jou kopvel geïrriteerd of seer is. Dit kan jou minder verleë laat voel oor haarverlies.

As jy geen hare oorhet nie
• Beskerm jou kopvel. Uitermatige hitte of koue kan jou sensitiewe kopvel irriteer, en met min of geen hare sal jy gouer koud kry. Daarby kan jou kopvel sonbrand, selfs in die winter. Gebruik
elke dag sonroom.
• As jy ’n pruik dra, haal dit snags en selfs deur die dag af sodat jou kopvel kan asemhaal.
• ’n Sykussingsloop is sag en gemaklik as jou kopvel teer is.
• Wig Library by Wyatt Hairdresser and Barber leen ’n pruik vir mense wat behandeling vir kanker kry. Hulle help jou ook pruike kies. Dit is ’n gratis diens en jy hoef nie ’n klant by hul salon te wees nie. Bel hulle by 011 482 6111.
• As jy jou haarwasroetine mis, probeer probeer Charmain van Schalkwyk, nasionale werkswinkelkoördineerder van Look Good Feel Better (LGBF) se raad:
• Masseer jou kop met natuurlike olies; dit sal nie net jou kopvel beter laat voel nie, maar kan ook help om ’n gesonde omgewing te skep vir die groei van nuwe hare.
• Was jou kopvel met ’n sagte gesigwas. Vermy produkte vir aknee, want hulle is te skerp vir ’n teer kopvel.

Ná terapie

Wees geduldig. Jou nuwe hare sal waarskynlik stadig teruggroei. Hulle kan anders as voorheen lyk; dalk krullerig of grys, maar namate jou haarselle herstel, kan hulle weer verander. Jou eerste nuwe hare sal baie maklik breek. Vermy voorlopig stileerprodukte, hittetoestelle en kleur- en bleikmiddel, tot jou hare behoorlik en sterk uitgegroei het.

• Die Look Good Feel Better-organisasie verskaf gratis werkswinkels en produkte aan kankerpasiënte. Besoek lgfb.co.za vir nuttige wenke en om te sien hoe jy kan inskakel.

Lyk mooi, voel goed

Om beter te lyk, kan jou beter laat voel en jou selfvertroue ’n hupstoot gee.

Grimeerwenke

Donker kringe onder die oë
• Bevogtig die dele om jou oë met ’n oogroom en laat dit goed intrek voordat jy ’n verbloemer aansmeer. Onthou, minder is meer as dit by verbloemer kom.

Fokus op jou lippe
• Chemoterapie kan jou lippe droog maak. Chris Williams, Estée Lauder se nasionale grimeerkunstenaar, beveel aan dat jy ’n vogryke en parfuumvrye lipsalf aan jou lippe smeer voordat jy jou lipstiffie aanwend. Kies ’n hoëvog lipstiffie-formule en vermy langblywende lipstiffies, wat ook jou lippe kan uitdroog. Met ’n helder lipskakering gee jy maklik kleur aan jou gesig, en skep ’n alternatiewe fokuspunt, veral as jy jou wimpers verloor het en nie te veel aandag op jou oë wil vestig nie.

Wenkbroue wat yler word
• As dit met jou gebeur, kan jy jou wenkbroue mooi invul.

Wat vir my gehelp het

Iemand om my perspektief te gee oor risiko, ná my niggie se borskanker – Elsabé du Plessis (49) borskankervry.

My niggie het agt jaar gelede op 46 borskanker gekry. Skielik was dit werklik moontlik dat ek as niggie ook borskanker kan kry, as daar ’n geen in die familie loop. Sy was die enigste een van my drie tannies en sewe niggies en twee oumas. Sy rook van skooldae af maar drink min, was altyd redelik fiks en nooit oorgewig nie.

Dr. George Gericke van Ampath antwoord

Ons sal eerstens uitvra oor wie almal in haar familie borskanker én ander kankers het.

“As borskanker oor twee of drie geslagte soos by ’n ouma of niggie bevestig is, kan ’n mens dink aan ’n fout op die BRCA-geen. Ons sal ook wil weet wie in haar familie – vroue en mans – sekere ander kankers gekry het, spesifiek ovariële kanker, breinkanker, leukemie, limfoom, pankreaskanker en sekere sarkome. As van hierdie kankers ook in die familie voorkom, is daar ’n klein kans op ’n draergeen, waarna ons dan kan soek.

“In hierdie geval klink dit asof die kans op ’n draergeen in die familie klein is, aangesien daar net een geval van borskanker is. Onthou, rook op sy eie is ’n kankerwekker.”

Die jongste oor kankergene

Min mense besef dit maar die millenniumjaar 2000 was ook die jaar waarin die menslike genoom volledig bepaal is.

Genetiese wetenskappe het daarmee saam ontplof, met byna daagliks meer nuus oor die implikasies van gene vir siektes. Ons het nog nie ’n oorhoofse prentjie nie maar volgens dr. Gericke weet ons:

1 Daar is reeds meer as 20 gene wat aan borskanker gekoppel word, soos die bekende BRCA1- en BRCA2-gene wat in sekere Afrikaanse families voorkom, asook ’n rits ander gene soos ATM, CHEK2, FANCM, PALB2, PTEN, RAD50, RAD51C, STK11 en TP53 gene. Die gene is almal redelik skaars en vermoedelik verantwoordelik vir minder as 5% – 15% van borskankers.

2 Ons verstaan weinig van die interaksie tussen gene. Ons weet byvoorbeeld jou kans op borskanker is tot 85% as jy sekere variante van die BRCA-gene dra, maar ons weet ook dat as jy daarmee saam sekere ander gene dra, sak jou risiko tot so laag soos 50%. Met ander woorde jou amper-seker borskankerrisko halveer letterlik omdat ander gene jou weer beskerm. Ons weet ook dat omgewing ’n groot rol speel om gene aan en af te skakel. Ons weet dat estrogeenblootstelling soos in die Pil en hormoon-vervanging jou risiko opstoot. So ook alkohol en ’n gebrek aan oefening.

3 Penetrasie tel “’Penetrasie’ is die term wat ons gebruik om te beskryf hoe waarskynlik dit is dat ’n geen ’n siekte gaan veroorsaak. Ons praat van hoë, medium en lae penetrasiegene. Die BRCA-gene, TP53 en PTEN is hoë penetrasiegene. Met ander woorde as jy hulle dra, is jou kans op borskanker 30% – 90%. “ATM, CHEK2, BRIP1, PALB2 en RAD51C is medium penetrasiegene wat by minder as 30% van draers kanker veroorsaak. Jou kans op kanker weens ’n lae penetrasiekanker is 10% – 20%.

4 Toets en klop jou kanse “Kyk na die variasie in voorkoms van kanker by hoë penetrasiegene: dit kan tot drie keer groter wees. Ons weet nog nie wat alles gene aan- en afskakel nie maar ons weet dat leefstyl ’n groot uitwerking het. Toetsing wys jou waar jou risiko’s lê. So kry jy die vooraf kennis om jou leefstyl aan te pas. Vir jou is ’n jaarlikse mammogram of mammasonar noodsaaklik om verdagte vroeë kankerselle op te spoor voordat hulle vastrapplek kry.”

5 Waar moet jy toets? Vra jou dokter. Die patologiepraktyke soos Ampath en genetoetslaboratoriums soos DNAlysis en Gknowmix bied verskillende opsies. Die toetse is duur en nie altyd sinvol nie. Laat jou dokter met hulle gesels sodat jy vooraf kan vasstel of jy regtig daarby gaan baat vind. Maak seker dat die toets ook berading insluit, want dit is byna onmoontlik om die uitslae te interpreteer vir mense wat nie in genetika spesialiseer nie.

6 Wat as toetse te duur is? Die raad is dieselfde vir vroue wat toets en wat nie toets nie. Daar is in elke geval nie terapie wat die geen verwyder of afskakel nie. Die mediese advies is vir almal dat hulle gesond leef, min wyn drink, gereeld matig oefen en van vroeg af elke jaar ’n mammogram én mammasonar laat doen. As ’n hoë risiko vermoed word, begin in jou middeltwintigs met ’n jaarlikse sonar.

Wat vir my gehelp het

‘Jogurt wat ek op allerhande maniere gegeur het. Roomys ook’ – Ria Malherbe (54) twee jaar ná diagnose.

Idees vir kos wat voedsaam is, maklik is om te maak, en maklik geëet word.

Wat is die beste?

Beenmurg-en-vleis-kragsop

Veral oor hierdie twee koskwessies word baie gepraat:
Voed suiker kanker?
Dit is ’n feit dat kanker met ’n duidelike toename in glukoseverbruik gepaardgaan. Maar beteken dit suiker veroorsaak kanker en dat jy jou kanker kan genees deur suiker uit te sny? Dit is nie so eenvoudig nie …

Die kleur van wyn tel nie
Daar sal nog seker jare lank geglo word dat rooiwyn gesond is omdat dit die antioksidant resveratrol bevat. Maar die navorsingskonsensus is dat drank jou kanse op borskanker en ander kankers verhoog, vermoedelik omdat alkohol jou estrogeenvlak opstoot.

Groensap
• Groen groentes soos spinasie, broccoli, roketblare en krul-kool is propvol antioksidante, vitamiene en minerale wat jy nodig het om kanker te beveg. Verpulp die groente saam met ’n appel en een geurende krui soos seldery, kruisement, tiemie of basilie in ’n voedselverwerker en verdun met sodawater. Drink die groentevesels met die sap as jy met hardlywigheid sukkel. As jou terapie jou na diarree laat neig, gooi die versapte groente deur ’n sif om die vesel en sap te skei. Klik hier vir ons gatskop-groensap resep.

Gatskop-groensap

Smoothies
• Gebruik suikervrye, ongegeurde jogurt of amandelmelk. Drink as maaltydvervanger of tussen maaltye om gewig aan te sit. Meng 250 ml (1 k) volroomjogurt met 1 avokado, ’n hand vol bessies en ’n hand vol spinasieblare. Verdun met water. Voeg 15-30 ml weiproteïen en/of koringkiem en/of organiese, suikervrye grondboontjie- of neutbotter by om dit meer vullend en voedsaam te maak.

Vir ’n droë mond
• Suig aan ysblokkies of lollies wat ’n bietjie suur bevat omdat dit die afskeiding van speeksel aanmoedig. Gemmer help vir naarheid, as dit jou nie brand nie. Meng 875 ml (3½ k) water,
2 cm gekapte gemmer en 15 ml (1 e) xilitol met die gerasperde skil van 1 suurlemoen. Laat prut vir 2 min. in ’n kastrolletjie. Syg deur ’n sif en voeg 90 ml vars uitgedrukte suurlemoensap by. Gooi in ysblokkiebakkies en sit ook 125 g vars gemengde rooi bessies (opsioneel) in elke holte. Vries oornag.

Kragsoppe
• Dié soppe word gemaak van bene soos murgbene en groente en is bekend vir hul helende krag. Dit is vitamienryk en versterk die immuunstelsel. Klik hier vir heilsame resepte.

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

2 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

2 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

2 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

3 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

3 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

3 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.