Deur Maryke Roberts, Foto’s: Clifford Roberts (met die Canon R6)
Die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) het vanjaar ’n merkwaardige mylpaal bereik. Dis die 30ste keer wat hierdie fees op Oudtshoorn gevier is. As Suid-Afrika se eerste Afrikaanse kunstefees het dit sedert 1995 ontwikkel tot ’n deurslaggewende fees wat produksies van Oudtshoorn na die res van die wêreld stuur.
Die idee het in 1992 by die sakeman Nic Barrow posgevat nadat hy die Grahamstad-fees bygewoon het. Hy het besef dat Afrikaans ’n soortgelyke platform nodig het en dat Oudtshoorn, as tuiste van CJ Langenhoven, die ideale plek daarvoor is. Hy het in 1994 saam met Andrew Marais die droom begin verwesenlik.
Van die begin af was die KKNK inklusief en polities onafhanklik. In plaas van sensuur is ’n unieke graderingstelsel gebruik: Melkbaard, Sagtebaard en Hardebaard. Pioniers soos Pieter Fourie en Karen Meiring het die grondslag gelê, gevolg deur leiers soos Brett Pyper en Rhodé Snyman. Sedert 2019 staan Hugo Theart aan die stuur.
Die fees het deur die jare talle pryse ingestel om kunstenaars te vereer:
- Die Herrie-prys: Dis na Langenhoven se olifant genoem, en is vir produksies wat feesgangers laat gons.
- Afrikaans Onbeperk: Gegee aan legendes soos Adam Small en Jan Rabie vir hul lewensbydraes.
- Die Kannas: Ingestel in 2001 om uitnemendheid in verskeie kategorieë te beloon.
Nuwe inisiatiewe het die fees se trefwydte vergroot. Die Klein-Karoo Klassique (sedert 2009) fokus op klassieke musiek, terwyl die Teksmark (sedert 2016) ’n onontbeerlike platform vir nuwe dramaturge geword het. Volgens Theart is Teksmark ’n “voedingsbron vir stories” wat reeds 65 volwaardige produksies opgelewer het.
Hoewel die pandemie en die ekonomie uitdagings gebied het, bly die KKNK ’n “wegkomkans” vir tienduisende. Hoogtepunte soos Breyten Breytenbach se Boklied en die gemeenskapsprojek Karoo Kaarte het die rigting van uitdagende kuns aangedui.
- Breyten Breytenbach se drama, Boklied, is ná 30 jaar weer by die KKNK opgevoer. ’n Aantal ietwat verloopte toneelspelers kom bymekaar in ’n tyd van krisis in ’n geslote ruimte en besin oor die liefde, lewe en dood. Hier is De Klerk Oelofse in verskeie tonele uit die stuk.
Borge soos die ATKV, Media24, Absa en die Het Jan Marais Nationale Fonds is die lewensbloed wat hierdie weeklange kultuurinspuiting moontlik maak. Vanjaar se slagspreuk, “Fees Voluit”, weerspieël ’n nostalgiese terugblik, maar ook ’n vinnige beweging na die toekoms.
Hugo Theart, die uitvoerende hoof en artistieke direkteur, sê daar is vele hoogtepunte vir hom. “Die opwinding van personeel en kunstenaars; die kreatiewe proses om die program saam te stel; feesgangers – dié wat jy nuut ontmoet én gereelde gesigte. Maar my dankbaarheid lê dat ons die fees kon stuur deur die moeilike pandemie-tydperk: In 2020 was ons die eerste groot samekoms en kunstefees wat ’n paar weke voor die fees moes kanselleer, maar ons was ook die eerste een wat ’n terugkeer gemaak het. En sedertdien kon die fees weer groei tot ’n grootskaalse gebeurtenis met uitstaande bywoning.”
Maar dis nie net die publiek en die bestuurspan wat die feeste geniet nie.
Vir kunstenaars soos Amanda Strydom, wat by elke enkele KKNK opgetree het, is die fees deel van hul DNS. “Ek kan my nie ’n jaar sonder die KKNK voorstel nie. Toe Pieter Fourie vertel van die nuwe fees, was dit soos manna uit die hemel, want al die streeksrade het toegemaak. Die KKNK was ’n ridder op ’n wit perd wat die kunste kon red.”
Sy onthou ikoniese oomblikke, soos toe Nelson Mandela die fees geopen en verklaar het: “Afrikaans is vry.”
Die KKNK is meer as net ’n fees; dit is, in Amanda se woorde, die “ma” wat geboorte geskenk het aan ’n nuwe era vir die kunste in Suid-Afrika. En ná drie dekades is die reis, soos Jans Rautenbach voorspel het, eintlik nog net aan die begin.
- Die gewilde groep, Rooksein, tree by die Feesmark-verhoog op.
- Albert Pretorius en Schalk Joubert was te sien in die Fiësta-bekroonde ‘Ek is nie Danie’.
- Brendon Daniels te sien as Boesman in Athol Fugard se bekroonde drama, ‘Boesman en Lena’.
- Die Grammy-bekroonde Mauritz Lotz het sy eie vertoning, ‘Plektrum’ gehad en saam met Schalk Joubert, Peter Auret en Anjulie Nock opgetree. Hier is Mauritz en Schalk in aksie.
- Die nuwe reeks, ‘Die Oord’, begin op 14 April op kykNET en die eerste episode is by die KKNK as lusmaker uitgesaai. Melissa De Vries speel Brandi Jacobs (’n lid van die plaaslike polisie) en Jana Kruger speel Martie Pretorius (’n kriminoloog wat vir die eerste keer in jare met vakansie gaan). Daar is moord en raaisels en bendes – alles op ’n oënskynlike rustige kusdorpie.
- Van die mense agter én voor die skerms van ‘Die Oord’, is van links Angelo Johnson, Minke Marais, Jana Kruger, Nicole Holm, Melissa de Vries, Eva du Preez (regisseur) en Christi van Niekerk.
- Vier kunstenaars, Schalk Joubert, Neil Sandilands, Abel Kraamsaal en Gian Groen, het in 2025 hul eie 50 jaar om die son gevier – presies die helfte so oud soos Afrikaans – en Die Vyftigers geskep met stories wat saamkom op een verhoog vir rou, eerlike musiek. Meer nog is dit om sin te maak van die laaste 100 jaar van taal en die laaste 50 jaar van lewe. Die Vyftigers se laaste twee konserte is onderskeidelik by Die Boer Teater in Durbanville en die KKNK gehou.
- Een van die debuutproduksies by vanjaar se 30ste KKNK was Spoel, ’n KKNK-produksie. Die bekroonde ‘Karoo Kaarte’-span agter ‘Die Swartmerrie’ en ‘Droomkraan Kronieke’ het na die verhoog teruggekeer met ’n splinternuwe drama uit dié projek se navorsing. Gebore uit fotografiese argiewe en gemeenskapsversamelings ontvou ‘Spoel’ deur fisieke spel, beweging en improvisasie. Ira Blanckenberg, Theo Witbooi, Chantell Phillipus vertel hul stories.
- Die plekspesifieke teaterstuk, ‘Die gebed van ’n halfmens’ wat op die ashoop buite Oudtshoorn afgespeel het, het na die tergende vraag van die impak van tegnologie (skouspel of gruwel) ondersoek. Wat gebeur as tegnologie binne ons biologie geïntegreer word? Wat is die menslike liggaam en ’n lewe werd? Hier is Marlo Minnaar en Alyssa Dionne in die stuk.
- Brendon Daniels speel die “nuwe” Baron van “Rede” en voel baie min vir twee oumense, gespeel deur Tobie Cronjé en Annelisa Weiland in die plekspesifieke teaterstuk, ‘Die gebed van ’n halfmens’ wat op die ashoop buite Oudtshoorn afgespeel het.
- In die absurde tragikomedie ‘CRYBABY’, verander die vierjarige Samuel op ’n dag by die kleuterskool in ’n moeë volwassene, dekades verouder deur die slegte nuus wat hy op sy juffrou se tablet gadeslaan. In die rolverdeling is van links Wian Taljaard, Nicole Holm en René Cloete agter met Frank Opperman voor. Gantane Kusch (nie in hierdie toneel nie) het ook verskeie rolle gespeel.
- Melissa de Vries en Angelo Bergh speel verskeie karakters in ‘Kompoun’ – die verhoogverwerking van Ronelda Kamfer se roman. Dit beeld die aangrypende verhaal van die McKinney-familie van Groenplaas deur twee kleinkinders, Nadia en Xavie, uit. Temas soos onskuld, deursettingsvermoë en familievetes word binne die ongenaakbare Suid-Afrikaanse konteks verken.
- ‘Die ander dogter’ met Sandra Prinsloo is ’n aangrypende toneelstuk oor ’n tienjarige dogter wat toevallig uitvind van ’n suster wat twee jaar voor haar geboorte oorlede is. Dié dogter was die Franse skrywer Annie Ernaux, wat in 2022 die Nobelprys vir letterkunde ontvang het.
- ‘Police Cops: The Original’ met ’n Britse komiese trio, is ’n komedie met ’n vinnige pas en akteurs wat verskeie rolle tot groot vermaak van die gehoor vertolk. Hier is Zachary Hunt, Nathan Parkinson en Tom Roe in een toneel te sien.
- ‘Police Cops: The Original’ met ’n Britse komiese trio, is ’n komedie met ’n vinnige pas en akteurs wat verskeie rolle tot groot vermaak van die gehoor vertolk, amper op die trant van die TV-treffer, ‘Whose line is it anyway’. Hier is Zachary Hunt en Nathan Parkinson in een toneel te sien.
- ‘Deep Heat’ is ook ’n plekspesifieke teaterstuk met Carin Bester en Hendrik Nieuwoudt (in die foto). Hedda vlug van die polisie en kruip saam met haar broer, Gizz, buite die stad weg. Deur die loop van ’n oggend vind gehore uit hoe hulle daar beland het.
- In ’n wêreld verskeur deur oorlog, ongelykheid en die nalatenskap van kolonialisme, is die gevierde Vlaamse skrywer, Tom Lanoye, se herbesinning oor die Trojaanse Oorlog in ‘Atropa: Die wraak van vrede’, nie net ’n hervertelling nie – dit is ’n radikale aanklag teen die hedendaagse magsug, patriargie en die politiek van geweld. Hier is Antoinette Kellermann en Tinarie van Wyk Loots in een van die tonele.
- In ’n wêreld verskeur deur oorlog, ongelykheid en die nalatenskap van kolonialisme, is die gevierde Vlaamse skrywer, Tom Lanoye, se herbesinning oor die Trojaanse Oorlog in ‘Atropa: Die wraak van vrede’, nie net ’n hervertelling nie – dit is ’n radikale aanklag teen die hedendaagse magsug, patriargie en die politiek van geweld. Hier is Antoinette Kellermann en Rolanda Marais in een van die tonele.
- Chris Vorster in die komedie ‘Gebou soos Steffi Graf’ waarin hy ná al die vreesaanjaende berigte oor Wilgenhof net flitse van fantastiese partytjies en die naweek saam met Steffi kon onthou.
- Figure of 8 Dance Theatre-geselskap se treffende dansvertoning, ‘The Reservation’, was ’n spieël vir ons sosiale gewoontes en begeertes in restaurante. Daar is selfies en smaakmakers wat alles afneem, geliefdes wat baklei en spyskaart-variasies wat sjefs rooi laat sien, alles met danksbewegings uitgevoer.
- Ntombi Makhutshi, Miché van Wyk, Nic de Jager, Jayden Dickson en Daneel van der Walt in ‘ge-gebergtes’, oor ’n emeritus professor wat ’n paar dae ná sy 90ste verjaarsdag oorweldig word deur die lewe. Sy rekenaar, foon, niks wou werk nie, alles het net te veel geraak. ‘ge-gebergtes’ is ’n poging om sin te maak van sy konfrontasie met tegnologie.
- Die akteur Neil Sandilands lees vir kinders stories voor by die Klein KKNK-teater.
Lees ook: Nuut op die boekrak

























