kategorieë: Inspirasie

Klim uit jou glaskis

Vroeg in die vorige eeu het sielkundiges begin besef dat baie van die ou sprokies van geslag na geslag geheime boodskappe oordra, groot lewenswaarhede waaraan mense (mans sowel as vroue) getrou moet bly om hul lewensreis suksesvol te voltooi. Wat bedoel word, is daardie in-nerlike reis, die “journey” wat so ’n modewoord geword het, maar waarvan min mense eintlik die ware betekenis besef, asook hoe moeilik óf maklik die reis in werklikheid is.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Algaande het terapeute die boodskappe in ou sprokies begin ontleed en die kuns is nou al verfyn om patrone en spore raak te sien wat mense se sukses al dan nie op die reis bepaal. Baie van die sprokies, soos Aspoestertjie, Sneeuwitjie en Doringrosie is in der waarheid eeue oud (tot 1 400 jaar!) en heelparty kom in baie uiteenlopende kulture voor. Aspoestertjie se glasskoentjies is in die Chine-se weergawe goue skoentjies en word na bewering reeds ses honderd jaar daar vertel. ’n Mens kan jou voorstel dat daar ’n sterk boodskap ingesluit was in die verhaal van daardie goue skoentjies in ’n tyd toe dit in China die gebruik was om vroue se voete so te misvorm dat hulle skaars kon loop!

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }
Moderne Chinese sal dalk nou ’n ander betekenis daarin lees, maar in die Weste het die ou sprokies, veral dié wat deur die Grimm-broers opgeteken is, min of meer dieselfde boodskap behou as wat in die vroegste tye oorgedra is. So is talle sprokies, soos veral Sneeuwitjie, die draers van groot wyshede waaruit steeds geleer kan word, soos die situasie van die glaskissindroom.

Vroue verwaarloos deesdae al hoe meer sekere innerlike aspekte van hulself. Dit kan veroorsaak dat hulle op verskillende maniere kan skade ly deurdat óf hul unieke geestelike groei gestuit kan word, óf hul verhoudings met hul geliefdes, kinders, vriende en selfs God bederf kan word.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Baie sielkundiges, geestelikes, en, les bes, vroue, het die afgelope dekades hiervan bewus geword. Maar soos die sprokies aandui, is dit nie eintlik iets nuuts nie. Vroue raak vir eeue al weens omstandighede as ’t ware van hulself vervreem. Dit is nou net baie meer opmerkbaar en algemeen vanweë die druk van veranderde omstandighede. Nie net het die meeste vroue deesdae ’n loopbaan nie, maar baie is boonop enkelouers terwyl die onderskraging van die sogenaamde uitgebreide familie ontbreek.

Voorts is die moderne samelewing baie meer ekstrovert as introvert. Dit is met ander woorde meer na buite gerig (kommersieel) as na binne. In die oue dae is daar nog saans boeke gevat, of gesinne het aan tafel of op soel aande op die stoep gesels. Waardes het verander, en vroue sukkel met identiteitsprobleme. Hoewel hulle byna oral ter wêreld as gelyk met mans beskryf word, is dit selde werklik die geval en moet sy steeds as vrou veg om haar as mens én unieke individu in die samelewing te handhaaf. En, nog erger, selfs in haar huwelik ook.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Dit word al moeiliker vir ’n vrou om haar as ’n mens uit te leef wat ook op ’n klein groeihoekie in die lewe geregtig is sonder die aanspraak of druk van kinders, mans, werkgewers, kerkbasaars, aandetes, wasgoed, en Brak se namiddagstappie. ’n Hoekie waar sy die glaskissindroom kan afweer of besweer!

Vroue het inderdaad vir elke fase van hul lewe ’n skuiling (hoekie) nodig waarheen hulle kan gaan om hul kragte te hernu of hulle te genees indien nodig. Die meisie wat begin menstrueer, het ’n plek nodig waar sy geborge kan voel terwyl sy haarself konfronteer met die miskien fisiek onaangename, maar tog mistieke ervaring van vrou en toekomstige ma word. Ander jongmeisies het ’n skuilig nodig om iets soos ’n ongelukkige gesinslewe, seksuele en emosionele mishandeling te verwerk; ’n skuiling waarheen sy dalk vir die res van haar lewe van tyd tot tyd sal moet terugkeer.

Vroue het ook skuilings nodig wanneer hulle trou, swanger is, kinders het, ’n egskeiding dalk, enkelouer is, kleinkinders kry, oud word, die dood van ’n eggenoot beleef en uiteindelik die alleen-paadjie wanneer die fisieke en geestelike kragbronne al byna uitgeput is. Om al die ander teleurstellings en eise nie eens te noem nie.

Al hierdie fases en ervarings moet deurleef word ten einde genesing of insig te kry. Met dié skuiling word nie ’n spesifieke plek bedoel nie. Weliswaar speel die binnekamer dikwels ’n groot rol, of dalk die huisie by die see waarheen sy kan ontvlug, of die meditasienaweke, die ander bedrywighede wat meer na binne, en op die geestelike of spirituele sy van leef, gerig is.

LEER UIT SNEEUWITJIE

Maar meestal is die skuiling in haarself geleë. Dit is hier waar ’n mens by ’n sprokie soos Sneeuwitjie baie kan leer. Sprokies kan op baie vlakke en baie maniere ontleed word. Een ding wat onthou moet word, is dat ’n sprokie met ál sy karakters en aspekte eintlik as ’n beeld van jou eie innerlike lewe beskou kan word.

Almal ken die verhaal van hoe die Swart Koningin, die stiefma, Sneeuwitjie die woud ingestuur het om van haar ontslae te raak. Weliswaar kan vroue lewenslank worstel weens ’n verhouding met hul eie ma wat skeefgeloop het, maar kom ons aanvaar hier dat die Swart Koningin ’n aspek van Sneeuwitjie is. Sy is die donker kant van hierdie mooi meisie. Die donker kant kan ’n onbewuste woede wees omdat daar altyd van haar verwag word om op ’n sekere manier op te tree. Dit kan ook ’n slegte selfbeeld wees – wat dalk die rede is waarom die spieël so dikwels afgevra word wie die mooiste in die land is.

Die woud weer is volgens sielkundiges onder meer ’n simbool van die onbewuste waarin Sneeuwitjie verdwaal kon geraak het en waaruit sy nooit weer kan kom nie. Daar is in die lewe partykeer vroue wat so verdwaal raak en heeltemal tred met die werklikheid verloor.

Maar Sneeuwitjie kry ’n skuiling – die klein huisie van die sewe dwergies. In hierdie deel van die verhaal lê die ware groot boodskap. Ten einde haar teen die moontlike aanslae van die Swart Koningin (en onthou, dis eintlik ’n aspek van haarself) te beskerm word sy daagliks in die huisie toegesluit. Hier moet sy dan gewone takies verrig soos om bedjies op te maak, te vee, te kook. In sielkundige terme is ’n huis ’n simbool van die self in jou. Innerlike werk aan jou siel moet juis klein-klein gedoen word. Sielewerk is ook dikwels byna vervelige herhaling van takies, gedagtes, insigte en ontdekkings totdat daar uiteindelik ’n groter prentjie na vore kom.

Sielewerk word dikwels belemmer deur die ou bekende aspekte van jouself wat saam in die huisie of skuiling nesskop.
In Sneeuwitjie se geval is dit die Swart Koningin wat probeer keer dat sy haarself vind, dat sy inderdaad die mooiste in die land kan wees, al dink sy dit is nie moontlik nie. En die maniere waarop die Swart Koningin haar pogings tot heelheid teëwerk, is ongelooflik universeel. Tot vandag toe nog.

Allereers word sy ’n gordel aangebied wat die Swart Konin-gin so styf toeryg dat sy nie kan asem kry nie en flou neerval. As die dwergies (onbewuste kragte) haar nie betyds gekry het nie, was die glaskis haar voorland.
Die gordel kan ’n simbool wees van ’n modebeheptheid. Vroue kom dikwels wanneer dit moeilik gaan in die versoeking om nuwe uitrustings te koop; om haar beeld te verander. Elke vrou ken hierdie neiging wat haar soms van haar ware reis kan weglei.

Maar dit strek verder. Irene Claremont de Castillejo, ’n groot kenner van vrouesielkunde, het op ’n keer gesê dat ’n vrou se skadukant haar dikwels onsensitief maak vir wat om haar aangaan (die glaskis). ’n Obsessie met gelykvormigheid neem van haar besit. Die vroue koop dieselfde dinge, sien dieselfde TV-programme, lees dieselfde koerante en boeke, woon dieselfde geleenthede by. “We conform to the opinion of our set, as union, a church, a business company, an undefined company of socalled free thinkers, or a particular psychological school,” skryf sy. Dit is Claremont de Castillejo se beskrywing van wat ons as Sneeuwitjie se gordel beskou.

Die ware wêreld met sy oorloë, aardbewings, rampe en gedoentes gaan by haar verby namate sy in haar eie kringetjie vasgevang word. En dan, die huwelik kan ook ’n gordel wees wanneer dit sy diepgang verloor het en tot net ’n haastige piksoentjie soggens op pad werk toe gereduseer is. Wanneer die huwelik ook net ’n gordel word wat al hoe stywer getrek word, hou die vrou eweneens op met asemhaal.

Toe die gordel nie werk nie, bied die Swart Koningin Sneeuwitjie ’n giftige kam aan. Hare is die simbool van gedagtes en dis maklik om in te sien hoe jy jou gedagtes kan vergiftig deur oor en oor dieselfde dinge te dink – wrewelgedagtes teen die man wat jou verlaat het, negatiewe gedagtes oor jouself, jou voorkoms, jou waarde as mens en soveel ander dinge nog. Dit is soms vir sielkundiges ’n nuttige instrument om ’n vrou te vra om ’n lys te maak van al daardie gedagtes wat haar vergiftig. Vroue kan dit ook in hul eie skuiling doen en dan probeer om die negatiewe “uit te kam”!

Die derde poging van die Swart Koningin is die gevaarlikste en lei uiteindelik ook daartoe dat Sneeuwitjie se verblyf in haar veilige skuiling tog in die glaskis eindig. Die Swart Koningin bied Sneeuwitjie ’n appel aan waarvan die een kant pragtig rooi en blink gepoleer is, en Sneeuwitjie swig!

Die liefdesappel in al sy fasette was al derduisende vroue se ondergang. Hieroor kan ’n lywige boek geskryf word. Die eerste waaraan ’n mens dink, is natuurlik daardie ou-ou storie van die held op die wit perd, die vrou se ewige hunkering na die geborgenheid van sterk arms, al daardie rolprentclichés, en dan so dikwels die uiteindelike ontnugtering. En hierby natuurlik nog die stertjie: Vroue gaan soek dikwels, selfs ná ’n aaklige egskeiding of mishandeling, na nog ’n hap van dié appel.

Maar dit gaan nog veel dieper. Almal weet en erken dit: By vroue is die liefde ’n oerinstink – ’n “argetipe”, noem die geleerdes dit. Sy gee om, versorg, ondersteun, dra, vertroos, maak die lewe die moeite werd en die wêreld baie keer ’n beter plek om in te leef.

Maar hierdie instink beland dikwels op vreemde spore. ’n Vrou wat as kind vanweë ongeërgde ouers liefdeshonger was, kan dalk haar kinders versmoor en daardeur ook haarself. Sy kan ook in haar huwelik die verkeerde rol speel, die rol wat sy dink van haar verwag word, maar wat sy nie werklik is nie. Dikwels weet sy nie eens watter rol in haar diepste wese aan haar toegeken is nie.

Claremont de Castillejo beskryf vier soorte vroue wat in hul verhoudings met hul mans en ander kan voorkom: Die moederlike (en nie alle mans wil ’n ma hê nie), die verleidster of hetaera, die Amasone en die instinktiewe vrou wat alles aanvoel (soms nog verkeerd ook) en as’t ware ’n soort medium word wat alles vooruit kan voorspel en dus oneindig moeite vir haar huismense skep met al die waarskuwings, ens.

Hierdie vier soorte vroulike rolle beïnvloed nie net hul verhoudings met mans nie, maar kan dikwels wyd gevoel word. So maan Claremont de Castillejo dat ’n vrou haar hetaera-potensiaal in sy positiewe sowel as gevaarlike aspekte moet ken. As sy dit onderdruk, kan sy haar seuns “geheime minnaars” maak en haar dogters haar intieme vriendinne wat voorkom dat hulle hul eie verhoudings met ander kan aanknoop.

Klaarblyklik kan ’n mens baie uit sprokies leer, maar een van die vernaamste boodskappe wat ’n verhaal soos Sneeuwitjie vir vroue het, is die belangrikheid van ’n skuiling waar sy haar ware self moet kan vind en as volwasse en heel mens kan uitstap in haar verhoudings met haar geliefdes en haar naastes.

Die Bybel het dit al geleer en gerekende sielkundiges soos Viktor Frankl, Carl G. Jung, Carl Rogers en baie ander stem saam: Elke mens word met ’n unieke roeping en gawe gebore wat hy of sy moet uitleef. Indien nie, word die lewe vir daardie mens net ’n glaskis waarby die ware lewe verbygaan. Daarom is dit baie belangrik dat vroue nie daardie klein huisie, daardie skuiling, afskeep of natuurlik die Swart Koningin saamneem daarnatoe nie!

Deel
Gepubliseer deur
Anelle Tewson

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.