Seun
In Seun, wat op die gelyknamige outobiografie van die skrywer Dana Snyman gegrond is, vertolk die akteur Wilhelm van der Walt ’n hoofstuk in Dana se lewensverhaal waaroor hy lank nie gepraat het nie: Sy ervaring tydens die jare tagtig. Dié eenmanstuk, wat op Saterdag 25 April om 17:30 opgevoer word, is ’n intieme blik op Dana se lewe tydens die doodsnikke van apartheid, oor manlikheid en oor eer, en oor die liefde wat uiteindelik alles oorwin. ’n Kaartjie kos R220.
Op Sondagoggend 26 April om 9:00 is Dana Snyman self aan die woord om vir feesgangers van sy drie jongste boeke te vertel! Hy praat met Jaco Strydom (skrywer van verskeie geestelike boeke en die roman, Daka) oor “rugby, reise en die army.” ’n Kaartjie kos R120.

Ingrid: ’n Vlam in die sneeu
Ingrid: ’n Vlam in die sneeu is ’n teater- en musiekproduksie wat op die boek Vlam in die sneeu gegrond is. Dié opvoering op Maandag 27 April om 11:00, neem jou op ’n reis deur die ongesensureerde liefdesbriewe van die digter Ingrid Jonker en die skrywer André P. Brink. Lizelle Pike lewer ’n ontroerende vertolking as die jong Ingrid en Chanie Jonker is ’n meesterlike pianis. Die eenvroustuk is ’n viering van Ingrid se lewe − ’n vrou wie se woorde die wêreld getroos het, selfs al het haar eie hart gebreek. ’n Kaartjie kos R200.

Bacchus tot Bekker
In Bacchus tot Bekker (Saterdag 25 April, 12:00-13:00) gooi die gewilde voormalige RSG-omroeper Amore Bekker soos ’n wafferse keldermeester die elemente van komedie en klug, tragedie en melodrama in ’n glas saam. Teug saam met haar aan vermaaklike stories en soet herinneringe oor wyn. Op Amore se unieke manier vermeng sy dit met ’n goeie skeut nostalgie. Dis jou kans om Bacchus, die god van wyn, van naderby te leer ken! ’n Glas gratis wyn is by die kaartjieprys van R200 ingesluit. Amore het die teks geskryf en Tobie Cronjé (wat ook by die fees is om ’n rol in “Under Milk Wood” te vertolk) is die regisseur.

Besoek www.clarensartsfestival.co.za vir die volledige program. Jy kan ook jou kaartjies op dié webwerf koop.
Lees ook: 10 redes waarom jy rooi rose se April-uitgawe móét lees!

