Carmen Niehaus is terug op kykNET met die tweede seisoen van Lekker & Goed en in die eerste episode bederf sy Hannes van Wyk met ’n Campari-teedrankie, filo-beetsouttert, pitabroodjie en panna cotta.
Na afloop van ’n suksesvolle eerste seisoen van Lekker & goed op kykNET het die gesoute resepteboekskrywer, kos- en kuiermens Carmen Niehaus met innoverende resepte wat nie net lekker is nie, maar ook goed vir jou is, vir vernuwende denke rondom rooibostee gesorg.
En nou word daar weer net so lekker aan die Weskus saamgekuier vir ’n tweede seisoen met bekendes op ’n vlak van geselligheid waar ook die kykers voel of hulle deel van die ervaring is – sonder die opruim na die tyd, natuurlik.
Hannes van Wyk, haar eerste gas, is lank reeds ’n gewilde en welkome deel van kykNET-kykers se vermaaklandskap. Maar, het Carmen bygevoeg, dié beskeie man was op sy dag ’n Suid-Afrikaanse tennisspeler! En hy moes kies tussen tennis en drama . . .
Terwyl die twee lustig besig was om te klets, het Carmen ook vir Hannes die oorsprong van Carmién Tea verduidelik: ’n Kombinasie van haar en tweelingsus Mien, oftewel Mientjie Mouton, se name. En die blommereeks wat op Carmién-produkte is, is almal deur Mien se skoonsus “met die hand geteken”.
Carmen het seker gemaak dat die disse van die dag boonop inpas by Hannes se geliefde disse – soos ’n vetkoek, maar met ’n Turkse kinkel, en ietsie spesiaal vir die man met ’n soettand wat vir niks skrik nie!

RESEPTE
Drankie: Tennispons
Genoeg vir 1 liter

- 250 ml (of na smaak) Campari
- 125 ml (½ k) vars lemoensap
- 1 lemoen, in stukke gesny
- 4-5 aarbeie, in stukke gesny
- halwe komkommer, in dun skyfies of klein blokkies gesny
- klein bossie vars kruisement (opsioneel)
- 2-4 blikkies Carmién Tangerine Grapefruit Sparkling Ice Tea
- Sowat 600 ml gemmerlim of na smaak
- baie ys
METODE
- Vul ’n groot beker met ys. Gooi die Campari en lemoensap by. Voeg die vrugte, komkommer en kruisement, indien gebruik, by.
- Vul met Carmién-vonkelystee en gemmerlim en roer liggies.
Filo-beetsouttert
Genoeg vir 4-6 mense

Kors
- 4 velle filodeeg
- Gesmelte botter
Vulsel
- Olie
- 2 knoffelhuisies, fyn gerasper
- 1 rooi ui, in skyfies gesny
- handvol jong spinasieblare of beetblare
- 230 g geroomde maaskaas
- 4 eiers
- 5 ml (1 t) aangemaakte matige mosterd
- sout en peper na smaak
- 50 g geroomde peperkaasrol
- 2 bete, geskil en in papierdun skyfies gesny
- ’n Paar vars tiemietakkies
METODE
Voorverhit die oond tot 190 °C. Spuit ’n losboom-koekpan goed met kossproei.
- Kors: Verf elke filodeeg-vel met gesmelte botter en plaas op mekaar in die voorbereide pan. Knip die oorloop stukkies deeg wat oor die kante hang af indien verkies.
- Vulsel: Verhit die olie en braai die knoffel en ui tot sag. Skep in die voorbereide kors en pak baba-spinasie (of beetblare) bo-op.
- Klits die maaskaas, eiers en mosterd saam, geur met sout en peper en giet in die pan.
- Pak die beetskyfies en kaas bo-op (drukke effe in), sit ’n paar tiemietakkies bo-op
- Bak sowat 25-30 minute of tot die eiermengsel gestol is. Rond af met nog vars tiemietakkies indien verkies.
Panpita’s met sardientjie-sous en gekapte slaai

Panpita’s
- 600 g witbroodmeel
- 10 ml (2 t) sout
- 10 ml (2 t) suiker
- 45 ml (3 e) olyfolie
- 1 pakkie (10 g) kitsgis
- 400-500 ml louwarm flou Carmién-groentee (gebruik 1 sakkie)
METODE
- Meng al die droë bestanddele saam in ’n groot mengbak, voeg die louwarm tee by en meng deur.
- Knie tot glad en elasties, minstens 10 min lank. Bedek en laat rys tot dubbel die volume.
- Rol sowat 1 cm dik uit en druk groot sirkels, 15 cm in deursnee, uit.
- Sny diagonale snytjies kruis en dwars oor die deeg. Laat weer 10 min rys tot mooi uitgepof.
- Verhit ’n swaarboompan tot lekker warm, moenie olie byvoeg nie. Braai tot alkant mooi bruin (draai ook op die kante) tot gaar van binne.
Tzatziki
- 250 ml (1 k) dubbelroomjogurt
- 2 knoffelhuisies, fyngerasper
- 4 mini-komkommers, in klein blokkies gesny
- Handvol kruisement, gekap
- Sout en peper
- Meng al die bestanddele saam
Sardientjiesous
- 60 ml (¼ k) olie (mengsel van olyf- en saadolies)
- 4 knoffelhuisies, fyngerasper
- 1 rooi brandrissie, heel of gekap
- 2-3 (120 g elk) blikke Lucky Star-sardientjies in olie
- Driekwart van ’n blik (410 g) fyngekapte tamaties
- 125 ml (½ k) swart ontpitte olywe
- 60 ml (¼ k) kappertjiesade
- Sout en peper na smaak
- Sowat 7,5 ml (11/2 t) fyngekapte origanum of tiemie, pieterselie en selfs basiliekruid
- Sowat 5 ml (1 t) bruinsuiker
METODE
- Verhit die olie oor medium hitte.
- Voeg die knoffel en brandrissie by en soteer vir ’n minuut of twee
- Verhoog die hitte en voeg nou die sardientjies, tamaties, olywe (indien gebruik), en kappertjiesade by.
- Bring tot kookpunt. Verlaag die hitte en laat prut tot geurig, sowat 20 minute lank
Fyngekapte mengelslaai
- ’n Fyngesnyde Iceberg-slaaikop
- 1 mini-komkommer, in klein blokkies gekap
- 1 Roma-tamatie, in klein blokkies gesny
- ’n Halwe groen soetrissie, in klein blokkies gesny
- 1 radys, in dun skyfies gesny
- 1 selderystingel, in dun skyfies gesny (opsioneel)
- 80 ml (1/3 k) fyngekapte pietersielie
Sous
- 1 sakkie Carmién Revive-rooibostee
- 80 ml (⅓ k) vars-uitgedrukte suurlemoensap
- 45 ml (3 e) olyfolie
- Sout en peper na smaak
METODE
- Slaai: Meng al die bestanddele saam.
- Slaaisous: Plaas die teesakkie in ’n maatbeker en voeg die suurlemoensap by. Laat dit trek vor so 45 sekondes en verwyder die teesakkie. Voeg die olie by asook die sout en peper en klits goed. Giet oor die slaai.
- Voorsit: Sny die panpita’s halfpad deur. Skep ’n klein bietjie van die slaai in, gevolg deur die sardientjiesous en rond af met ’n skeppie jogurtsous.
Jogurt-panna cotta met aarbei-salsa
Jogurt maak die panna cottas minder ryk maar steeds heerlik romerig.

Panna cotta
- 2 sakkies Carmién Cranberry Hibiscus ColdBrew
- 625 ml (1½ k) volroommelk
- 375 ml (11/2 k) dubbelroom natuurlike jogurt
- 80-100 ml heuning
- 25 ml (5 t) gelatien
- 60 ml (¼ k) water
Salsa
- 125 g aarbeie, in blokkies gesny
- ’n Paar takkies roosmaryn
- Bietjie suiker
- swartpeper
METODE
- Spuit 6-8 teekoppies goed met kossproei.
- Laat trek die teesakkies in die koue melk tot geurig. Verwyder die teesakkies.
- Meng die melk, jogurt en heuning goed saam.
- Spons die gelatien in die water en smelt oor kookwater of in die mikrogolfoond.
- Meng ’n klein bietjie van die jogurtmengsel eers by die gelatien in en meng dit dan alles met die orige jogurtmengsel.
- Giet in koppies en laat stol.
- Salsa: Meng al die bestanddele saam en laat staan tot geurig en ’n effense stropie gevorm het.
- Voorsit: Skep van die salsa in elke koppie en geniet.

Lekker & goed word vanaf Donderdag 9 April op kykNET (DStv-kanaal 144) om 17:30 uitgesaai of stroom op DStv Stream.
Lees ook: Margaret uit Hollywood: Michelle Pfeiffer skitter in The Madison



