
Maklike geposjeerde eiers met mosterdsous
Rooi Rose Hierdie oulike manier van eiers posjeer, het ek by ons redakteur Martie Pansegrouw geleer. Dit is ’n goeie manier om vir baie mense eiers op ’n smaaklike manier gaar te maak. Jy kan die mengsel al vroëer aanmaak, in die sakkies gooi en dan net posjeer as die mense daar is. Deur Vickie de Beer Kos Maklike geposjeerde eiers met mosterdsous European Druk resepBestanddele
Mosterdsous
45 ml witwynasyn
2 eiergele
120 g botter, in blokkies gesny
2 opgehoopte lepels korrelmosterd
Geposjeerde eiers
8 eiers
250 ml (1 k) room
gerasperde neutmuskaat
hand vol grasuie, gekap
hand vol pietersielie, gekap
sout en gemaalde swartpeper
Plus
30 ml ( 2 e) botter
4 murgpampoentjies, met ’n groenteskiller in linte gesny
8 snye roosterbrood
4 snye goeie ham, middeldeur gesny
babaslaaiblare vir garnering
Metode
Mosterdsous
1 Kook die asyn oor ’n hoë temperatuur af tot dit met die helfte verminder het, koel effens af.
2 Voeg die eiergele by die afgekookte asyn en roer deurentyd oor ’n lae hitte.
3 Voeg die botter stuksgewys by tot alles bygevoeg en gesmelt is. Roer die hele tyd.
4 Haal af as die sous verdik en roer die mosterd by. Hou eenkant. Moenie weer verhit nie.
Die eiers
1 Meng die eiers, room, grasuie en pietersielie. Geur met neut, sout en peper.
2 Plaas 8 toebroodjiesakkies in ’n muffinpannetjie of in koppies sodat jy die eiermengsel maklik daarin kan gooi.
3 Verdeel die eiermengsel tussen die sakkies. Bind elkeen met kombuistou toe, probeer om ’n
mooi ronde vorm te kry as jy die sakkie toebind.
4 Posjeer die eiers in die “sakkies” in ’n groot kastrol met liggies kokende water vir presies 8 min.
Sit só voor
1 Verhit die botter in ’n pan en soteer die murgpampoentjielinte vir 2 min. daarin. Geur met sout en peper.
2 Pak die murgpampoentjielinte en ham op die snytjies roosterbrood. Haal die eiers uit die kokende water en sny versigtig met ’n skêr oop.
3 Sit die eiers bo-op die ham op die broodjies. Gooi die sous oor en sit voor.