Deur Margaret Gardiner
Soms het ’n mens net ’n dag waar niks reg verloop nie, soos as jy nie eens by jou oprit kan uitry nie, want daar word herstelwerk aan jou huis gedoen, die werkers parkeer jou vas en hulle is nêrens in sig nie!
En toe hulle terugkeer, vind jy uit dat die snelweg so besig is dat dit soos ’n parkeerterrein lyk.
As jy dan by jou bestemming aankom, om verskoning vra en die rede gee waarom jy so laat is, klink dit baie soos die ou geykte: “My hond het my huiswerk geëet!”
’n Mens moet egter weet dat daar dinge is wat jy kan beheer en dinge wat jy nie kan nie. Ek raak in hierdie laat stadium van my lewe sommer gou omgekrap as ek laat is en dan is ek bekommerd dat ek onprofessioneel voorkom.
Maar iewers moet ’n mens net laat los, want die lewe gebeur. Om beheer van ’n situasie te neem, beteken ook dat jy moet weet wanneer om te laat gaan en aan te beweeg.
Op daardie dag was ’n Disney+-animasiekortfliek Once upon a Studio die perfekte teenmiddel vir die wêreld se wroegings.
Met die aankoms by die historiese El Capitan-teater op die Hollywood Walk of Fame (wat na die ou en nuwe sterre genoem is wat die sypaadjie versier) was ek diep onder die indruk van Hollywood se geskiedenis én sy wêreldwye impak.
Disney+ se Once upon a Studio bring hulde aan die pioniers van Disney se animasie-afdeling – ’n erfenis wat oor 100 jaar strek. Toe die ligte in die teater gedemp is, was ek skielik weer so opgewonde en gelukkig soos ’n kind.
Ek is weggevoer na ’n tyd toe Pluto, Pooh en die 101 Dalmatians se hondjies my bekoor en my verbeelding aangegryp het. Die tyd toe my ouers nog my veilige hawe was, my susters my omring het en ons verlore geraak het in die prentjies wat lewendig op die wye doek geraak het. ’n Tyd van pure kindwees.
Ek het weer die opwinding onthou om daardie magiese oomblikke met my seun te deel toe hy nog ’n kleuter was.
Ek het die wonder van daardie tye onthou en al hierdie herinneringe het deel van my ervaring geword.
Skielik was die dag wat so stresvol begin het, gou vergete en ek het met ’n groot glimlag na die skerm gesit en kyk, nie net vir die karakters nie, maar ook vir die eerbetoon en respek wat dit voorafgegaan het.
Dit was vir my besonders, veral in die huidige kultuur waarin ons leef.
Die media-aanbieding met gepaardgaande animasie het eer aan die persoonlike stories betoon, aan die mense wat tien dekades van geliefde animasiekarakters geskep het.
Richard Sherman is 94 jaar oud en ’n Disney-legende. Hy is ’n Academy Award-bekroonde komponis, skrywer en liedjieskrywer en hy het teruggekeer en spesiaal vir die geleentheid ’n nuwe weergawe van die klassieke liedjie “Feed the birds” uit Mary Poppins geskep.
(Hoor julle ook nou die eerste woorde van die liedjie? Dit is hoe onuitwisbaar gelukkige kinderjare-oomblikke is.)
Once upon a Studio begin met werknemers wat aan die einde van die dag die Disney-studio verlaat. Burny Mattison, wat 70 jaar by die studio gewerk het en vroeg in 2023 oorlede is, is die laaste een wat uit die deur uitstap voordat die vertrekke met legendes, soos Mickey en Minnie Mouse, en ’n klompie helde en skurke gevul word. Handgetekende en CG-karakters stap kompleet uit die prentjies en vul die studio se gange met onnutsigheid en jolyt.
Sowat 543 karakters uit meer as 85 Disney-flieks en kortflieks maak ’n draai – van die vroeë geanimeerde “tekenfilms” van Mickey en Donald Duck tot die meer onlangse trefferflieks en ook dié wat nog op pad is. Die Golden Globe-wenner, Ariana DeBose, wat die stem van Asha in Disney se opkomende fliek, Wish, vertolk het ook hieraan deelgeneem.
Sterre soos Kristen Bell (Anna) en Irina Menzel (Elsa), Anika Noni Rose en Josh Gad van Frozen het vir nuwe dialoog teruggekeer, óf persoonlik by die studio, óf via Zoom opgeneem.
Dit was wel glo nie so maklik om so baie gunstelinge in ’n kortfliek in te pas nie. Die animeerders het ’n toneel van Jodi Benson (Ariel van The Little Mermaid) in die kleedkamer ingesluit waar sy haar hare kam, maar die regisseurs, Dan Abraham en Trent Correy, het egter besef dat hulle nie ’n stemlose Ariel kon hê nie! Die skande! Die lied wat as agtergrondmusiek vir die kortfliek gedien het, is verander sodat Jodi ook haar stem daaraan kon verleen – wat ná al die jare steeds soos ’n 16-jarige Ariel klink.
Belle se Paige O’Hara (Beauty and the Beast) het in die ateljee ingestap om die geliefde 30 jaar oue karakter weer lewe te gee. Jeremy Irons, die bekende stem van Scar uit The Lion King, het ’n reputasie as ’n komkommerkoel ou, maar toe hy in die ateljee was om ’n paar reëls as Scar te sing, was hy so opgewonde dat hy sommer sy oorfone afgestamp het!
Uiteindelik was die meeste van die geliefde animasiekarakters daar vir hul oomblik in die kollig en dit het tot ’n hoogtepunt gelei waar hulle almal vir ’n groepsfoto poseer het. Met Goofy as die fotograaf!
Teen die tyd dat die ligte aangaan het, het die stres van die lewe ook vervaag, en was ek met vreugde gevul. ’n Vreugde wat my weer krag gegee het om die wêreld aan te pak.
Die kortfliek is op die Disney+-platform beskikbaar. As jy krag vir ’n goor dag nodig het, kyk gerus!
Volg Margaret op Facebook, Twitter en Instagram!
Lees ook: Margaret Gardiner maak ’n draai by Los Angeles-modeweek