Deur Margaret Gardiner
Catherine Zeta-Jones (56) is een van die groot skoonhede van haar tyd. Wanneer jy die Walliese Oscar-wenner ontmoet, kry jy die indruk van ’n volbloedperd wat mak voorkom, maar glad nie is nie. Sy het vonk.

(Foto: Amy Sussman/Getty Images)
Sy het in die Mask of Zorro (1998) saam met Antonio Banderas op ons skerms ’n opskudding veroorsaak. Sy het in Entrapment (1999) saam met die voormalige 007, Sean Connery, ’n aksieheld suksesvol vertolk, en het ’n Oscar vir Chicago (2002) huis toe geneem waar sy gesing en gedans het terwyl sy swanger was.
Sy was gereed om ’n superster te word, maar het verlief geraak op Hollywood-adel Michael Douglas (Fatal Attraction, Basic Instinct), wat 25 jaar ouer as sy is. Die twee deel ’n verjaarsdag op 25 September. Hulle het by die Deauville-filmfees (1999) ontmoet en dit was liefde met die eerste oogopslag. Hulle is in 2000 getroud. Ná die huwelik en die Oscar-oorwinning het sy daarop gefokus om ma te wees; sy het vir ’n rukkie ’n lae profiel gehandhaaf, maar die herinnering aan haar vlam kon nie geblus word nie. Toe Netflix haar dus as Morticia Addams in hul kritiese en kommersiële trefferprogram, Wednesday, gekies het, was diegene wat die aantrekkingskrag en aansien van ’n jong Catherine Zeta-Jones onthou het, verheug om die nuwe manifestasie te sien.
Die program is ’n vernuwing van die klassieke tekenprent deur Charles Addams (1938) en was die fokus van verskeie films, televisiereekse en ’n musiekblyspel. Hierin is die aandag gewoonlik op die gesinsdinamika wat daar tussen ’n pa, Gomez (Luis Guzman), ma, Morticia (Catherine Zeta-Jones) en hul kinders, Pugsley (Isaac Ordones) en dogter, Wednesday (Jenna Ortega) heers.

(Foto: Verskaf/Netflix)
Hierdie verwerking fokus op Wednesday, en die internet het die program met ope arms ontvang en ’n ster van Jenna Ortega gemaak wat die titelrol met bytende humor vertolk. Anders as die meeste tienerprogramme wat fokus op buitestaanders wat probeer gewild wees, is Wednesday “anti-establishment” en teen norme, wat haar die uiteindelike ‘it’-meisie maak. Die reeks volg haar aankoms by die kosskool wat haar ouers bygewoon het, Nevermore, en haar makabere avonture. Tim Burton (Edward Scissorhands, Beetlejuice) is die uitvoerende vervaardiger van die reeks. Dit vra enigiemand af wat al ooit uitgesluit gevoel het om die druk te heroorweeg om aan die samelewing se beeld van perfeksie te voldoen, en eerder hul individualiteit te aanvaar en dié dinge te vier wat hulle uniek maak, eerder as om hul essensie vir aanvaarding op te offer.
Met pikswart hare en dramatiese grimering wat die bleekheid van haar perfekte vel beklemtoon, vertolk die ma van Carys (2003) en Dylan (2000), Catherine Zeta Jones, die rol van Morticia met subtiele, wrange humor. Terwyl psigiese vermoëns en ’n bonatuurlike misterie ontvou, gee seisoen twee van Wednesday vir Catherine Zeta Jones ’n rol met meer vleis om die been as in die eerste een. Die moeder/dogter-duo bots met skerp sin skermutselings en steke wat persoonlik raak. Albei het ’n sterk wil, en ’n versteekte rede vir die vyandigheid teenoor mekaar. In seisoen twee het Wednesday ’n moordtog gedwarsboom, maar nog belangriker, ’n raaisel opgelos waarby haar ouers 25 jaar lank tevore betrokke was. Die reeks plaas die ma en dogter in ’n tipiese tweestryd van wil wat baie ma/dogter-evolusies naboots.
- (Foto: Verskaf/Netflix)
- (Foto: Verskaf/Netflix)
Hierdie naweek kon ek met die twee praat oor die tipiese antagonisme wat daar heers tussen ma’s en hul dogters soos dit in die vermaaklikheidsbedryf uitgebeeld word, terwyl pa’s as die liefdevolle en geduldige gunsteling uitgebeeld word. Jenna het ingespring om hulde aan haar medester te bring en gesê: “Elke karakter is briljant en bisar. Dit verg moed vir enigiemand om enigeen van hulle uit te daag, so hul stryd met mekaar was ’n ongelooflike spel. Veral om dit saam met Catherine hierdie seisoen te doen. Die aansien wat ons gekry het is te danke aan die mengsel van twee mense wat respek vir mekaar het en mekaar liefhet, maar teenoorgestelde menings het en gewelddadig en aggressief teenoor mekaar kommunikeer. Wel altyd met die boodskap van “Ek is lief vir jou” onderliggend daaraan.
Catherine, geklee in ’n mikro-mini van swart kant, met pragtige bene wat by die enkels gekruis was, het saamgestem. “Die ma-dogter-dinamika is omstrede, wat, hoewel ek nie een met my eie dogter het nie, baie mense toelaat om met die ervaringe van die tienerjare te vereenselwig.” (Carys het onlangs aan Vogue Travel vertel van die wonderlike somers wat sy saam met Catherine se ma in Mumbles, Swansea, deurgebring het. Catherine het ook oomblikke saam met haar kinders op haar Instagram gedeel, insluitend vakansies, en haar seun se gradeplegtigheid in 2022). “Daardie tienerjare is moeilik en vol hormonale skommelinge, terwyl ’n mens probeer om ’n pad deur die lewe te baan,” het die enigste kind van Pat en David opgemerk. Dit met verwysing na die universeel interpersoonlike temas te midde van die groot paranormale boë in Wednesday. “Die twee karakters is van nature teenoorgesteldes,” het sy voortgegaan. “Morticia se visie is grillerig en vreemd, so hulle stamp koppe, maar die wortel van dit alles is die liefde.”
Elke aktrise het daarop aangedring dat hul rolle suiwer toneelspel was, aangesien elkeen ’n wonderlike verhouding met hul eie ma’s het. “My ma en ek is mal daaroor om saam naaldwerk te doen. Ons het masjiene waarmee ons kompeteer. Wanneer sy Spanje besoek (een van die plekke waar die gesin vakansie hou), koop ek materiaal wat buiteligbestand is en ons maak dan saam buite-sitkamerkussings.” Jenna hou daarvan om flieks saam met haar ma te kyk, maar erken dat hulle albei in die eerste 5 minute van die fliek aan die slaap raak in watter fliek hulle ook al kyk.

Terwyl sy die ongelooflike mode wat deur die reeks ontketen is, bespreek het, het Catherine onthul dat die baie talentvolle Colleen Atwood – wat die kenmerkende kostuums vir die rolverdeling van Wednesday verskaf wat na elke seisoen se bekendstelling op die strate en rooi tapyte nageboots word – saam met die aktrise aan Chicago gewerk het. “Sy is soos die moderne weergawe van Edith Head,” merk Catherine in ’n sagte Walliese stem op, en voeg by: “Vir diegene wat nie weet nie, Edith Head was die groot kostuumontwerper van die goue era van Hollywood. Ons is so gelukkig dat Colleen ons kostuums skep.”
KYK | Margaret Gardiner gesels met Catherine en Jenna

Volg Margaret op Youtube, Facebook, Twitter en Instagram!
Lees ook: Margaret uit Hollywood: Brad Pitt, die charismatiese rolprentster


